Demi Lee: ‘Al my drome is besig om waar te word’

Foto: Albert Bredenhann – Pixel Pro

Demi Lee Moore, wat Vrydagaand by die eerste Afrikaans is Groot-megakonsert van 2018 by die Sun Arena as die wenner van Die Kontrak aangekondig is, sê al haar drome is besig om waar te word.

Die 28-jarige blondekop van Durbanville het ʼn platekontrak van R1 miljoen by Coleske Artists gewen nadat sy week na week haar hart uitgesing en in Suid-Afrikaners se harte ingekruip het. “Nou wil ek my eie liedjies begin sing. Ek het vir langer as twee jaar ander mense se liedjies gesing. Nou het ek ʼn album en kan my liedjies sing.”

Demi Lee het Vrydagaand kort nadat sy as wenner aangekondig is, verklap dat sy bang was om vir Die Kontrak in te skryf aangesien sy onseker was of mense haar gaan aanvaar vir wie sy is. Maar volgens Demi Lee het nog een van haar drome waar geword die oomblik toe haar naam van die Afrikaans is Groot-verhoog af uitgeroep is.

“Ek was so oorweldig. Ek het in daai oomblik net gedink ek moet asemhaal. Die mikrofoon is dadelik in my hand geprop en ek moes gaan sing. Die ligte het aangegaan en ek het al daai mense gesien. Dit was die beste gevoel van my lewe.”

Volgens Demi Lee het Die Kontrak soveel deure vir haar oopgemaak. Sy het onder andere verwys na haar en haar mentor Monique Steyn se duet tydens Die Kontrak en haar opname saam met Steve Hofmeyr.

Foto: Albert Bredenhann – Pixel Pro

“As dogtertjie het ek en my pa altyd saam na Steve geluister. My pa is oorlede toe ek nog baie jonk was en ek het altyd gesê ek sal saam met Steve sing. En toe gebeur dit verlede week … dis net ongelooflik.

Demi Lee sing Amanda saam met Steve op sy nuwe album The Country Collection wat verlede week bekendgestel is.

“Al my drome is besig om waar te word en ek weet nie eers om dit te hanteer nie,” het ʼn emosionele Demi Lee gesê. “Ek wil ʼn verskil maak met my musiek en ʼn storie vertel. Die hoofding is om ʼn verskil in iemand se lewe te maak.”

Demi Lee sal intussen by elke Afrikaans is Groot-konsert die verhoog saam met al die ander sangers betree waarna sy met alle erns haar CD wil begin bemark en deur die land wil reis. “Ek kan nie wag om almal te ontmoet wat my ondersteun het nie.” Demi Lee dink ook reeds aan haar tweede album en is vasbeslote dat dit ʼn country‑album sal wees.

Demi Lee is ‘n ambassadeur vir Helpende Hand se #StopHonger-veldtog. Foto: Phillip Bruwer

Demi Lee is ook aangekondig as een van Helpende Hand se #StopHonger-ambassadeurs. “Dit is vir ons ’n groot voorreg om iemand van haar kaliber by die talle bekendes te verwelkom wat reeds kampvegters is om onder die vaandel van ons #StopHonger-veldtog te sorg dat behoeftige kleuters nie honger gaan slaap nie,” het René Roux, hoof van kommunikasie by Solidariteit Helpende Hand, gesê.

Moore se mentor tydens die reeks, Monique Steyn, is reeds een van die #StopHonger-kampvegters.

Ander bekende sangers wat tot dusvêr hul stemme gevoeg het tot die #StopHonger-veldtog is Patrizio Buanne, die Italiaanse superster, en Amira Willighagen van Holland. Hulle poog saam met die plaaslike talent van Touch of Class, Tarryn Lamb, Corlea, Dewald Wasserfall, Jay, Steve Hofmeyr, Bobby van Jaarsveld en Riana Nel om honger onder kleuters stop te sit.

“Gedurende die reeks het Demi Lee se liefdevolle en vriendelike geaardheid talle kykers geraak. Dit wys sy is ’n omgeemens en maak haar ’n perfekte ambassadeur vir #StopHonger.”

Demi Lee het gesê sy kan nie wag om te begin om ’n verskil in die land te maak nie en te help sorg dat Helpende Hand met sy #StopHonger-veldtog daarvoor kan sorg dat minstens 8 000 behoeftige Afrikaanse kleuters elke dag van die jaar ’n gesonde bord kos kan kry.

“Ek is bly dat dit wat met my gebeur het my kan help om goeie dinge te doen. Ek is ongelooflik trots om daarvan deel te wees en ek hoop ek kan nog baie goeie dinge doen.”

Die episode van Die Kontrak waartydens Demi Lee as wenner aangekondig word, word Woensdag 28 November om 20:00 op VIA uitgesaai.

Demi Lee se musiekvideo vir haar eerste enkelsnit “Mis eet slaap herhaal” is tydens verlede week se uitsending van Die Kontrak die eerste keer op televisie vertoon. Haar album is tans landwyd op die rakke van Musica-winkels beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

AmY ·

Baie geluk Demi Lee. Jy is pragtig en jy sing baie mooi. Jy is ‘n waardige wenner. Alle voorspoed vir die toekoms.

Andries du Plessis ·

Ek was gisteraand (Vr 23 Nov) by die Afrikaans is Groot 2018 openingskonsert.

Haar debuutliedjie is die ongelooflikste ballade geskryf deur J. Oberholzer. Sy het uitstekend gesing en was direk na afloop van die liedjie emosioneel van dankbaarheid.
Ek hoop dat sy baie suksesvol sal wees in die toekoms.
Welverdiend!

DS ·

Sjoe maar jy is ‘n bitter negatiewe mens ou Lag maar. Ek wens jou alle voorspoed vir die toekoms toe Demi Lee en mag jou voorspoed vir ou Lag maar herinner dit is wat JY daarvan maak en mag jy net die beste daarvan maak dat ek lekker en gereeld lekker kan lag vir die negatiewe kommentaar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.