Deon Lotz, Ira Blanckenberg vir tweede keer kassie-egpaar

Deon Lotz en Ira Blanckenberg in ‘Mooiweer en Warm’. (Foto: verskaf)

Willem Conradie, ’n ware kruidjie-roer-my-nie, wat getroud is met Nerine, ’n vrou wat haar voete in ’n verbrokkelende huwelik probeer vind.

Dít is die karakters wat Deon Lotz en Ira Blanckenberg in die kykNET-dramareeks, Mooiweer en warm, vertolk, en dit is nie die eerste keer wat dié twee man en vrou vertolk nie.

Ira en Deon het reeds huwelikmaats in die rolprent, Griekwastad, gespeel.

“Vir my was ’n hoogtepunt om weer teenoor Ira te speel – sy was my vrou in Griekwastad – want sy is ’n fenomenale aktrise en so ’n egte mens,” vertel Deon.

In die dramatiese, dog snaakse, Mooiweer en warm, vertolk Deon egter ’n knorrige karakter met die naam Willem, en waar Willem is, is daar nie vrede nie. Hy behandel sy vrou soos gemors en leef in die verlede, waar hy steeds koning as omroeper kraai.

“Willem is bombasties en selfgesentreerd. Alles draai om hom,” vertel Deon, wat tans ook in Binnelanders te siene is.

“Hy verkrummel wanneer dinge nie werk soos hy dink dit moet nie, en daarom is Nerine eintlik die sterker een van die twee.”

Deon vertel dat hy inspirasie probeer put het uit mense wat hy ken wat soortgelyke karaktereienskappe as Willem het.

Nerine, ’n ywerige vrou wat haar man se humeur probeer ontduik terwyl sy poog om die pot aan die kook hou, was ’n interessante karakter om te vertolk, erken Ira.

Ira Blanckenberg vertolk die rol van hardwerkende Nerine Conradie. (Foto: verskaf)

“Nerine is een van daardie sterk vroue wat wys dat wanneer die lewe moeilik raak, jy net sterker raak. Ek ken sulke vroue en is self so vrou. Ons agtergrond en wortels – kaalvoet oor die berge en so aan – help ons baie daarmee,” vertel sy.

“Die mishandeling wat sy by haar man kry, was vir my moeilik want ek verstaan dit nie aldag nie.”

Deon Lotz vertolk knorrige Willem Conradie. (Foto: verskaf)

Mooiweer en warm is propvol storielyne wat die kyker ongetwyfeld geboei sal hou, meen Deon. Die kleurvolle karakters waarmee kykers kan vereenselwig, dra ook by tot die aanloklikheid van die reeks.

Deon en Ira deel die kassie met akteurs soos Brümilda van Rensburg, Liam Bosman, Beer Adriaanse, Carla Smith, Antoinette Kellermann, Kim Cloete, Tinarie Van Wyk-Loots en Paul du Toit.

“Dit was ’n uitdaging omdat ons nie altyd saam op stel was nie. Natuurlik het ek baie tonele saam met Deon en ook saam met Kim Cloete gehad, maar ons was min almal saam op stel,” het Ira oor die groot rolverdeling gesê.

“Dit gesê: Wat ’n eer en voorreg om deel van die talentvolle rolverdeling van so ’n groot produksie te wees.”

Deon het bygevoeg dat die verskeie spelers juis mekaar uitdaag om die beste moontlike voetjie met hul toneelspel voor te sit.

“Dit maak dit makliker om te speel en te werk en nuwe goed te probeer. Dit is ’n wonderlike ervaring, en dit maak dit moontlik om iets spesiaals na jou karakter te bring,” het Deon gesê.

“Dan is daar die spanningslyn met die wete dat iets gaan gebeur. Daar kom nog heelwat drama, lag en trane – moet beslis nie ophou kyk nie.”

  • Mooiweer en warm word Dinsdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.