Deon Meyer se ‘Bottervisse in die jêm’ dié Sondag op kykNET

Sedert einde Januarie skuif kykNET-kykers elke Sondagaand voor die kassie in vir die gewilde #JouSondagDrama-rolprentreeks. Flieks soos Desember, Stille nag en Vat ʼn kans en Boesman, my seun, het reeds verskyn.

Vandeesweek hervat die reeks met Bottervisse in die jêm, ʼn fliek geskoei op ʼn gelyknamige kortverhaal uit die pen van die bekroonde skrywer, Deon Meyer.

Die kanaal se oogmerk met dié projek is om uiteenlopende skrywers van alle agtergronde en ervaringsvelde die geleentheid te gee om draaiboeke te skryf, hul bestaande verhoogtekste te verwerk vir dié formaat, of om oorspronklike draaiboeke te skryf.

Verskeie gesoute regisseurs asook regisseurs wat hul debuut maak, is die geleentheid gegee om hul slag met regie te wys. Kykers kan uitsien na uiteenlopende temas en genres. Die ernstiger dramas (Die dag is bros en Stille nag) word afgewissel met ligter romantiese komedies (Vat ʼn kans) en komedies (Die skandaal).

Daarby is die vervaardigers, Soné Combrinck en Deon Opperman, baie opgewonde oor die skryftalent van Candice Johannes (Draadloos) en Lize Vosloo (Desember).

Die rolverdeling is deurlopende ensemblewerk en sluit in Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Franci Swanepoel, Simon Bruinders, Amalia Uys, Leandie du Randt Bosch, Shaleen Surtie-Richards en Armand Aucamp. Jonger talent soos dié van die tienjarige Dirk Jacobs en Ian Roelofs is ook gebruik.

Op Sondag 17 Februarie word Bottervisse in die jêm uitgesaai. Die verhaal handel oor ʼn siniese kunstenaar, Christo Nienaber (Stiaan Smith), wat ʼn nuwe lus vir die lewe ontdek.

Sy gebroke wêreld word omgekeer wanneer ʼn klein wysneusseuntjie, Buks Barnard (Dirk Jacobs), onverwags en ongenooid by Christo se tuisstudio opdaag en hy gekonfronteer word met emosies en herinneringe van die verlede en sy soeke na heelword.

Nadia Valvekens, Leandie du Randt Bosch, Schelaine Bennett, Elizca Coetzer, Kyle Grant, Paula Davids en Runaldo Hendricks is ook in die fliek te sien.

Die draaiboek en verwerking is deur Deon Opperman gedoen en Marisa Drummond het die regie behartig.

Skakel Sondag om 20:00 in op kykNET, DStv-kanaal 144, vir #JouSondagDrama.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

sonja coetzee ·

Baie dankie Kyknet julle is die beste!!mis die Sondagaand drama vir niks nie!!beslis die moeite werd om dit te kyk Stille Nag was uitstekkend en hartroerend!!!Kyknet is fantastiese kanaal trots suid-afrikaans!!!

Venetia ·

Ek is nou soooooooooooo opgewonde!!! Ek het hierdie kortverhaal baie baie jare gelede in die Huisgenoot gelees en dink ALTYD daaraan as ek ‘jem’ smeer. Ek het inteendeel net 2 weke gelede vir my kollegas daarvan vertel hier by die werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.