Desember-vermaak: Nuwe Afrikaanse reeks deur ‘Die Boekklub’-skrywers

Troukoors is ʼn splinternuwe Showmax Original-reeks in Afrikaans uit die pen van Louis Pretorius en Albert Snyman, skrywers van gewilde reekse soos Die Boekklub en Fynskrif.

Die reeks debuteer op 13 Desember, wanneer al 14 episodes beskikbaar sal wees vir vraatkykers wat dié Desembervakansie met Afrikaanse vermaak wil afskop.

Nina Swart het die regie behartig. Pretorius en Snyman is die kreatiewe, SAFTA (South African Film and Television Awards)-benoemde duo van Infinity Films wat voorheen topreekse vir kykNET geskep het.

Troukoors is soos goeie sjampanje: lig en borrelend, met ʼn neiging om mense se stoute kant na vore te bring,” sê Candice Fangueiro, inhoudshoof by Showmax.

“Dit is soos Younger of The Bold Type, maar speel teen die agtergrond van die prag en romanse van die Kaapse troubedryf af.”

Ilse-Lee van Niekerk (Getroud met rugby, 4 Mure, Die Boekklub) vertolk die rol van Jessica, ’n troubeplanner wat omring is deur liefde, maar wat sukkel om dit vir haarself te vind.

Die voormalige kinderster Blyde Smit (Erfsondes, 7de Laan) speel Jessica se suster Luca, ʼn sagteware-ontwikkelaar wat meer vlot is in Klingon as flankeer, met Fleur du Cap-benoemde Bianca Flanders (Nêrens, Noord-Kaap; Address Unknown) as Jessica se beste vriendin Abi, ʼn professionele bakker.

SAFTA-wenner Kevin Smith (Skemerdans) is Abi se pa (en Luca se baas), met Melt Sieberhagen (Proesstraat) as sy kêrel.

Blyde Smit en Ilse-Lee va Niekerk is in ‘Troukoors’ te sien. (Foto: Verskaf)

Die lokprent gee ons ook ons eerste blik op die drie beste vriendinne se liefdesbelangstellings, onder wie Armand Aucamp (Tom in Die Boekklub), Christiaan Schoombie (Warrior), Evan Hengst (Miles in The Kissing Booth 1, 2 en 3), Danny Ross (Nommer 37), asook Emma van Heyn, wat onlangs vir ʼn Fiësta-toekenning as beste opkomende kunstenaar benoem is.

“Wat ek regtig interessant vind is dat die reeks alternatiewe tipes verhoudings uitbeeld. Troukoors weerspieël baie van die verhoudings wat ek om my sien. Dit wys die egte kwessies wat mense binne hul verhoudings ervaar,” sê Flanders.

Troukoors is egter nie net nog ʼn Hollywood-sprokie, waar elke oomblik perfekte sonsondergange het met vuurwerke in die agtergrond, nie.

“Wat verfrissend van hierdie reeks is, is dat Louis en Albert realistiese stories geskep het wat ook wys daar is geen mens wat heeltemal perfek vir jou gaan wees nie,” se Aucamp.

Troukoors bied ook ʼn verfrissende blik op familie. “Wat die hele reeks so mooi maak, is hoe familie op ʼn baie onkonvensionele manier voorgestel word. Dit is so ʼn eerlike voorstelling van moderne gesinne, insluitend egskeiding en dood en om te ondersoek hoe mense wat nie bloedverwant is nie, familie word,” sê Smit.

Showmax het reeds die reeks vir ʼn tweede seisoen hernu, wat in 2022 uitgereik sal word.

Kyk hier na die lokprent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.