Diaan Lawrenson vier meestersgraad, 24 jaar in die bedryf

Diaan Lawrenson. (Facebook/Diaan Lawrenson)

Ná 24 jaar in die vermaakbedryf, tientalle rolprente en reekse, en nou ook ’n splinternuwe meestersgraad wat teen haar muur pryk, is dit steeds die mense wat Diaan Lawrenson omring wat haar na die skerms toe teruglok.

Diaan het onlangs haar meestersgraad in toneelspel verwerf by die Africa Film Drama Art (AFDA), waar sy sedert 2016 doseer en as die AFDA se Kaapstad-kampus se dekaan dien. Sy beskryf dié akademiese berg as ’n “persoonlike reis” waarop sy al vir jare wou gaan.

“Ek probeer myself jaarliks uitdaag in verskillende maniere en wou dié keer myself in die strengheid van die akademie beproef,” het sy aan Maroela Media vertel.

“Ek wou dit al vir ’n hele paar jaar aanpak, maar die tyd was nie reg nie.”

In 2021, ná ’n toneelspelbreuk van vier jaar, het Diaan eindelik besluit dat dit tyd is om ’n akademiese hoed op haar kop te sit. In dié tydperk in haar lewe het die “stukkies bymekaar gekom” en ’n meestersgraad het in ’n haalbare doelwit verander.

Dit was egter nie sonder opofferings, beproewings en ’n vragvol deursettingsvermoë nie.

“Ek weet mense streef na balans, maar as ma van twee met ’n veeleisende werk, is daar nie balans nie,” erken Diaan.

“Dit is net deurdruk en vasbyt.”

Sy bly egter dankbaar vir haar gesin en akademiese toesighouer wat te midde van die akademiese proses haar sonder huiwering ondersteun het.

Diaan het deur die jare heen haar toneelspelvernuf in verskeie genres tentoongestel. In rolprente en reekse soos Raaiselkind, Ludik en Spoorloos het sy die ernstige sy van toneelspel verken en vertolk. In Semi-Soet het sy gehore laat skaterlag en natuurlik is dit moeilik om na Diaan te kyk sonder om aan Paula, die bekende 7de Laan-karakter wie sy jare lank vertolk het, te dink.

Hoewel sy beide drama en komedie geniet, geniet sy dit om mense te laat lag.

“En glo dit of nie, dis baie moeilik,” sê sy.

“Komedie laat mens vol energie.”

(Foto: Diaan Lawrenson/Facebook)

Sy skroom egter nie om uitdagende rolle aan te pak nie, en glo dat die regte rolle op die regte tyd oor haar pad sal kom. Diaan hou ook vol dat komedie en drama elkeen ’n plek op ’n sitplek op enige akteur se rusbank verdien.

Vir Diaan is daar niks lekkerder as om aan die toekoms van die vermaakbedryf te slyp nie.

Sy fokus nie net daarop om haar studente op die werklikheid van die vermaakbedryf voor te berei nie, maar haar benadring is geskoei daarop om die bedryf in Suid-Afrika te “verkwik en te laat groei.”

Wanneer sy terugkyk na meer as twee dekades in die vermaakbedryf, staan die mense saam met wie sy deur die jare gewerk het ongetwyfeld uit.

“Die akteurs, tegniese spanne en produksiespanne, al die kreatiewe mense wat bymekaar kom om iets te skep wat gehore kan vermaak.

(Foto: Diaan Lawrenson/Facebook)

“As jong akteur het ek die voorreg gehad om saam met ikone, baanbrekers, te werk.”

Dié groep mense sluit in Miems de Bruyn, Frans Marx, Patrick Mynhardt, Wilna Snyman, Annelisa Weiland, Sandra Prinsloo, Lida Botha, Deon Lotz, Eric Nobbs, Pierre van Pletzen, Vinette Ebrahim, André Odendaal , Trudie Taljaard, Magda van Rooy, Marius Weyers, Ben Kruger, Chris van Niekerk, Chris Vorster en Zane Neas.

“Vandag werk ek steeds saam met die ikone en legendes – oud en jonk. En ek leer nog steeds by almal. Daardie oomblikke tussen sny en aksie is kosbaar – dit is die herinneringe aan die mense wat bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.