Dié 12 bekendes gaan op die dansbaan meeding

Eden Classens (Foto: Facebook)

Die volledige lys plaaslike bekendes wat binnekort in die eerste aflewering van die M-Net-dansprogram Dancing With the Stars te sien gaan wees, is pas bekend gemaak.

Die model en akteur Eden Classens van Suidooster-faam en die komediant Ebenhaezer Dibakwane gaan ook vanaf Februarie vanjaar hul beste voetjie op die dansbaan voorsit.

Classens en Dibakwane gaan saam met die Mzansi TV-aanbieder Thembisa Mdoda, die akteurs Frank Opperman en Juanita de Villiers, die voormalige Mej. SA Liesl Laurie, Wayde van Niekerk se afrigter-ma, Odessa Swarts, die aktrise Zola Nombona, die sanger Connell Cruise, die Bafana Bafana-legende Delron Buckley en die voormalige Springbok-rugbyspeler Thando Manana op die program te sien wees.

Frank Opperman (Foto: www.frankopperman.co.za)

Classens sê hy is in “ekstase” om deel te wees van dié program. “Ek is baie opgewonde oor hierdie uitdaging. Ek beoog om my hart uit te dans en hope pret te hê,” vertel hy.

Die gewilde omroeper en televisieaanbieder Tracey Lange en die akteur Chris Jaftha gaan as aanbieders op die program te sien wees.

Die internasionale choreograaf en regisseur Jason Gilkison gaan op die beoordelingspaneel van die program wees. Nóg twee beoordelaars sal later deur die kanaal bekend gemaak word.

Lange het vroeër aan Maroela Media vertel kykers gaan glanspersoonlikhede tydens die loop van dié reeks sien soos nooit vantevore nie. “Die reeks beloof vermaak uit die boonste rakke. Ek sien ook verskriklik baie daarna uit om saam met Chris aan te bied – hy het ’n baie gemaklike manier van aanbied en het boonop hope selfvertroue wat verseker dat ek baie opgewonde is om saam met hom voor die kameras in te skuif.”

Dancing with the Stars, die oorspronklike program van BBC Worldwide, se televisieregte is al in meer as 50 lande wêreldwyd verkoop. Die program begin op 4 Februarie (Sondag) om 17:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VanAfrika ·

Dit gaan lekker kyk genot wees. Ek hou van dans programme en te sien hoe iemand wat nie kan dans in dans kampoien ontaard.

Cathy Kotze ·

Wanneer gaan ons weet wie die professionele dansers is. Keo Motsepe is al vir ‘n geruime tyd in die VSA, en hierdie voormalige Suid-Afrikaanse kampioen is amper sonder gelyke. Sy dansmaat sal moeilik geklop kan word indien hy een van die professionele dansers is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.