Die ander kant van Hannes van Wyk

Hannes van Wyk in ‘Projek Dina’. (Foto: Verskaf)

Deur Ilza Roggeband

Ons ken hom as die gemoedelike aanbieder van programme soos Kwêla en Hannes aan huis en as akteur in reekse en flieks soos Die Boekklub en Magda Louw, maar in die tweede episode van Projek Dina is dit ’n heel ander Hannes wat kop uitsteek.

Stefan Jansen, jou karakter in Projek Dina, is anders as die karakters wat ons jou al sien vertolk het. Wat was die grootste uitdaging?

Ek het al vreemde karakters gespeel en dit is altyd lekker om karakters te speel wat ver verwyder van my af is. Soos Griet skryf ’n sprokie wat ek saam met Susan Coetzer op die verhoog gedoen het en al my klere moes uittrek. Die aaklige Krynauw in Egoli wat mense gehaat het en wat ’n heerlike karakter was. In Magda Louw was ek die ou oom van 80 en dit was wonderlik.

Die grootste uitdaging van Stefan? Ek hou van iets met vleis aan en met hierdie rol was die lekkerste om saam met die regisseur Liezl Spies te werk. Ek het al voorheen saam met haar gewerk en dis regtig vir my lekker. Moet ook net sê die teks is so goed. Nie net die woorde nie, maar ek weet presies wat die teks in sy geheel sê. Dan vra ek nog baie vrae ook om in die karakter se kop te kom.

Hannes van Wyk en Tim Theron in ‘Projek Dina’. (Foto: Verskaf)

As jy moet kies: akteur of aanbieder?

Ek het drama studeer en is opgelei om akteur te wees. Dit is vir my fantasties. Al die jare wat ek vir Sukovs en Truk gespeel het, was ongelooflik. Die sepies, die reekse. In alles van dit vertolk jy ’n rol, maar wanneer jy ’n aanbieder is, is jy jouself. Ek doen deeglik navorsing voor onderhoude. Ek lees, vind alles uit. Baie mense met wie ek onderhoude gevoer het, het al onderhoude gehad en ek probeer altyd vrae vra wat nog nie gevra is nie. Ek kan regtig nie kies tussen akteur en aanbieder wees nie. Dit is twee kante van ’n munt.

Wat is die rol wat jy nog graag wil speel?

Daar is soveel. Ek het jare gelede vir Ernst Eloff en Wilna Snyman in Gulls deur die dramaturg Robert Hewett gesien waar Ernst die rol speel van die man wat breinskade as kind opgedoen het. Ek sal graag daardie rol wil speel. Ook in Deon Opperman se Stille Nag. Maar weer, daar is so baie op die verhoog én televisie wat ek sal wil speel.

Met wie sal jy nog ’n onderhoud wil voer?

Ek was gelukkig dat ek jare gelede oorsee onderhoude kon doen met mense soos Bill Clinton, Jon Bon Jovi, Kate Moss, Naomi Campbell en vele ander. Ek het ’n teer plekkie vir die ouer garde, ouer akteurs, maar met hulle het ek al amper almal gepraat. Daar is egter mense wat nie meer met ons is nie soos Wena Naudé en San de Lange wat ek baie graag beter sou wou leer ken.

Gaan ons jou binnekort weer op die verhoog sien?

Ek en Danie Niehaus wil graag saam ’n ding doen, maar ons soek ’n borg. Dit gaan alles oor die liefde wees. Ek sal graag saam met Marthinus Basson en van die jong regisseurs soos Nico Scheepers en Christiaan Olwagen op die verhoog wil werk. Wat televisie betref is daar sprake van ’n dramareeks en daar kom ’n televisiereeks van ’n televisierolprent waaroor ek opgewonde is.

Projek Dina is Dinsdagaande om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, en DStv CatchUp te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.