‘Die Boekklub’ kom terug

Dit is al meer as drie jaar sedert kykNET-kykers die geliefde karakters van Die Boekklub met groot hartseer gegroet het, met die gedagte dat dit vir altyd sou wees.

Ter viering van kykNET se 21ste verjaardag is daar egter besluit om Tom, Lillie, Anna, Sofia en die res van die boekklub in Februarie 2021 op die kassie terug te verwelkom vir ʼn derde seisoen van dié uiters gewilde reeks.

Die Boekklub se derde seisoen speel af in 2024. Ná die dood van ʼn lid van die boekklub keer Tom (Armand Aucamp) terug na Merweville vir die begrafnis. Weens ʼn sameloop van omstandighede besluit hy om ʼn bietjie langer te vertoef op die dorp en herontdek hy nie net die boekklub nie, maar ook homself.

Nicole Holm, Jana Cilliers, June van Merch, Karli Heine en De Klerk Oelofse is ook in die derde seisoen te sien.

Armand Aucamp is Tom in ‘Die Boekklub’. (Foto: kykNET)

Aucamp sê hy is opgewonde oor die terugkeer van Die Boekklub. “Om nog ʼn seisoen van die reeks te kan aanpak, is werklik soos om na my tweede familie te kan terugkeer; dit voel asof ek weer ‘tuis’ is. Om weer in Tom se skoene te kan staan maak my inniglik gelukkig. Ek weet die kykers gaan dieselfde voel. Ek sien uit om almal weer op Merweville te verwelkom.”

Louis Pretorius en Albert Snyman (Fynskrif, Kompleks), skrywers en vervaardigers van die reeks, verklap die derde deel van Die Boekklub is ʼn oomblik vasgevang in tyd.

“Die storie speel af oor drie maande op ’n tyd waar baie van die karakters voor ’n kruispad staan. Ten spyte van al die aanslae van die lewe ontdek en herontdek die karakters die mag van die liefde. Dit is ’n verhaal van hoop, waarin die nag skynbaar op sy donkerste is, maar, die son breek altyd deur die wolke en skyn oor Merweville en sy mense.”

 Die Boekklub word tans geskiet op Merweville in die Karoo, Stellenbosch, die Strand en Somerset-Wes. Nina Swart is weer die regisseur.

Die Boekklub word in Februarie 2021 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Schalk

Nee dankie. Die vorige reeks was vir my ongelukkig “te veel”. Ek sal verseker nie die reeks weer volg nie.

Alta Alleman

Yippeeeeee!!!!

Twopence

So bly Die Boekklub gaan weer op ons kassie wees. Uitmuntende storielyn en ‘n kan-nie-beter rolverdeling.

Niklaas

Ek het dit altyd geniet. Is sommer baie bly oor die nuwe reeks wat in Februarie begin op TV.

Debbie

Het die vorige seisoene baie geniet. Kan nie wag vir die nuwe een nie