Die boere maak hul keuses

Die boere. Van links na regs is boere Jacques, Ruan, Braam, Adriaan en Johan. (Foto: Twitter/Boer soek ‘n vrou)

In Donderdagaand se episode van die kykNET-realiteitsreeks Boer soek ʼn vrou het die boere hul langverwagte keuses tussen die oorblywende vroue op die plase gemaak.

Boer Braam, ʼn groenteboer van die Oos-Kaap, en Yola, wat in die vorige uitsending alleen op die plaas agtergebly het nadat Janine besluit het om die plaas vir die stad te verruil, is deur die aanbieder van die program, Minki Joubert, oor hul toekoms uitgevra.

“Ons het besluit om nie verder voort te gaan nie,” het Yola strak gesê. “Dit was grotendeels Braam se besluit.” Braam het dit beaam. “Dit is my skuld dat alles nie uitgewerk het nie. Ek het so gehoop, maar alles gaan oor die afstand. Ek is iemand wat baie ernstig is en ek wil nie wag nie. Ons gaan mekaar dalk een of twee keer per maand sien.

“Ek moes dit beter deurdink het toe ek my briewe gekies het,” het Braam gesê.

Yola het later aan Minki toegegee dat sy dalk wou hê dinge moes anders uitwerk. “Ek is nie teleurgesteld nie. Ek respekteer sy besluit.”

adriaan en helene

Boer Adriaan en Heléne.

Op Boer Adriaan se plaas op Riversdal in die Wes-Kaap het sy finale keuse nie in Anzelle se guns getel nie. Adriaan en Heléne het teenoor Minki erken albei se harte klop vinniger.

“Ek is gelukkig met sy besluit. Ek sal hom graag beter wil leer ken,” het Heléne gesê.

Boer Jacques van Loeriesfontein in die Noord-Kaap het met ʼn kussing as afskeidsgeskenk vir Danél gevra om die plaas te verlaat. “Ek is opgewonde om hom meer van my wêreld te wys,” het Corné, sy finale keuse, gesê.

Boer Ruan, ʼn mielie- en pekanneutboer van die Noord-Kaap, het besluit dat hy vir Bianca, ʼn onderwyseres, beter wil leer ken en het vir Marica die trekpas gegee. “Daar is niks fout met jou nie,” het hy gesê.

“Ek wil vir Bianca beter leer ken. Haar spontaniteit het my van die begin af aangetrek. Sy straal ʼn warmte uit.”

marilyn en johan

Marilyn en boer Johan.

Op Boer Johan se plaas in Carolina in Mpumalanga het die emosies weer hoog geloop terwyl Minki met hom en Marilyn, ʼn rekenmeester van Fourways wat met haar brief reeds Johan se hart verower het, in sy sitkamer gesels het.

“Ja, Minki, my hart wil uit my borskas spring. Dit kom al ʼn hele rukkie saam,” het Johan emosioneel gesê. “Ek het ʼn geweldige verwagting van hierdie reis gehad.”

“Ek is so bly dat ek vandag hier is,” het Marilyn gesê. “Ek sal graag vir Johan beter wil leer ken. Daar is nog baie van hom wat ek nog moet ontdek.”

Minki het geskerts dat Johan, wat met beeste boer, se emosies altyd “baie na aan die oppervlak lê”.

“Dit laat my so goed voel, want ek weet waar ek met hom staan en ek is mal daaroor,” het Marilyn met trane in haar oë gesê. “Ek sukkel om te praat oor my gevoelens. As ʼn vrou laat dit my spesiaal voel.”

Boer soek ʼn vrou is Donderdae op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Lees meer oor dié reeks op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Heila ·

Ek dink boer ruan en adriaan het die beste keuses gemaak en glo ook die liefde gaan blom vir hulle. Boer jacques en johan het nie met hul harte besluit nie.maak nie saak wat hul op skerm se nie. En dan is ek bja jammer vir yola. . So geglo sy pas saam braam. Mar ja is tog mar beter as sy hart nie by haar is nie.

Denise ·

Wonderlik ek hoop julle het die regte keuses gemaak vrou vat is nie perde koop nie !!!!

Rachelle ·

As ek dit reg het is Bianca ‘n ingeneurswese student en nie ‘n onderwyseres nie? Of dalk dit ek die pot mis!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.