‘Die Boland Moorde’ keer terug na die kassie

Die Boland Moorde seisoen 2 (Foto: kykNET)

Die Boland Moorde seisoen 2 (Foto: kykNET)

Luitenante André Fourie en Shane Williams is ʼn gedugte span. Hulle het nog altyd ʼn manier gehad om vrees en ontsag af te dwing sodat reg kan geskied. Sáám kon hulle daarin slaag om menige moordenaar in die Boland vas te trek. Maar daar is iets baie duister en geheimsinnig oor die jongste moorde op die Macbeth-geselskap wat die ondersoekeenheid moet oplos.

Dié saak laat hulle met die vraag worstel: Het hulle te doen met ʼn geslypte moordenaar? Dalk iemand wat die Boland soos die palm van sy hand ken. Of is dit iets groters as die lewe; dalk iets bonatuurliks?

Dít is maar een van talle moordsake wat die luitenante moet oplos wanneer die tweede seisoen van Die Boland Moorde op 14  Februarie na die kassie terugkeer vir agt episodes.

Die Boland Moorde seisoen 2 (Foto: kykNET)

Die Boland Moorde seisoen 2 (Foto: kykNET)

Elke episode is soos die oorspronklike reeks ʼn uur en ʼn half en is geskoei op die tradisionele formaat van die Britse whodunnits soos Lewis, Midsummer Murders en Vera.

Stian Bam en Brendon Daniels neem weer die leisels in die reeks as luitenante Fourie en Williams. Saam met hulle gedugte span los hulle raaiselagtige moorde in die wynland op en word hul logika en kundigheid tot die uiterste beproef om die moordenaar te ontmasker.

Die tweede reeks begin vier jaar na die afloop van die eerste reeks en baie het verander vir die span. Japie (Marlo Minnaar), die IT-spesialis, is nog steeds deel van die span, maar die res is almal nuwe gesigte. Die span se hoof is nou kolonel Khumalo (Mbulelo Grootboom) en Busi (Ebby Weyime) het oorgeneem as forensiese spesialis. Shane en André het ook ʼn nuwe kantoor én bestuurder wat Shane teen die mure uitdryf.

Die Boland Moorde seisoen 2 (Foto: kykNET)

Die Boland Moorde seisoen 2 (Foto: kykNET)

Elise (Nicole Holm) dink egter hy is heeltemal te sensitief.  Dokter Le Roux het ook afgetree en ʼn nuwe patoloog sluit by die span aan. Dokter Rachelle de Jager (Tinarie van Wyk-Loots) is ʼn vars briesie wat deur die span waai en André se hart verbasend warm laat klop.

In die nuwe seisoen word die span weer gekonfronteer met ʼn wye verskeidenheid sake. Uiteindelik is die reeks steeds ʼn mengsel van humor, drama en vriendskap.

Die Boland Moorde Seisoen 2 begin op 14 Februarie op kykNET, DStv-kanaal 144.

Vir meer inligting, besoek kykNET se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.