‘Die Byl’ se kreatiewe Stian, grillerige Len

Stian Bam as Len Villiers in ‘Die Byl’. (Foto: Verskaf)

Deur Ilza Roggeband

Stian Bam het deeglik navorsing gedoen voordat hy die karakter Len Villiers in Die Byl vertolk het. Ja, daardie laggie is nie sommer net nie.

Hoe het jy die karakter gebou nadat jy die draaiboek gelees het?

Ek het gedink dit is makaber en donker. Ons het nie eintlik sulke donker kriminele op Suid-Afrikaanse televisie nie. Buitelandse reekse, ja, maar nie hier by ons nie. In die materiaal wat ek vir die oudisie gedoen het, was daar al spesifieke leidrade soos dat hy kuru (ʼn seldsame siekte) het en daarom sekere fisieke eienskappe het. Maar jy moet ook in die karakter se kop inklim; probeer rasionaliseer hoekom iemand doen wat hy doen.

Ek het baie gelees en deur die jare na reekse gekyk en al hierdie inligting gaan lê in jou onderbewussyn wat jy nie aktiveer tot jy dit nodig het nie. Aan die einde van die dag gaan alles oor die teks wat jy gegee word om te speel en al die leidrade oor Len Villiers was daar.

Dit is vir my moeilik om aan my twee episodes in Die Byl te dink sonder om aan Leon Kruger (die skrywer en regisseur wat in 2021 dood is) te dink. Hy was die regisseur van die twee episodes en was ’n groot vangnet vir my. Hy het ook die karakter gesien soos ek hom gesien het, wat dit maklik gemaak het.

Wie het besluit op die snor? En die laggie?

My baard was lank daardie tyd en ek het vir Leon gevra of ek alles moet skeer. Hy het gedink ek moet ’n snor hê nadat die grimeerkunstenaar dit voorgestel het. Dit herinner baie aan die 1980’s. So ’n retro vibe. Vreemd genoeg het die Amerikaanse reeksmoordenaars Ted Bundy en Jeffrey Dahmer ook op ’n tyd al twee snorre gehad.

Die laggie het te doen met kuru, die siekte waaraan Len ly, en wat jy kry wanneer jy menslike vleis en organe eet. Een van die simptome is dat jy onder meer onbeheersd lag.

Stian Bam in ‘Die Byl’. (Foto: Verskaf)

Jy lyk of jy heel handig met ’n naaimasjien is. Is dit iets wat jy al voorheen gedoen het?

Ja, ek is baie lief vir naaldwerk. Ek het ’n moeder wat ’n naaldwerkkoningin was en sy het my geleer. Ek het al klere gemaak en het om die waarheid te sê my eie industriële omkapmasjien. Ek is juis op soek na ’n nuwe naaimasjien. Dis baie makliker om jou eie gordyne te maak of die kinders se klere reg te maak as om iemand te betaal om dit te doen.

Jy klap op ’n stadium twee vroue. Hoe het julle die tonele geskiet?

Die klaptonele is met sorg gedoen. Jy kan lekker kroek met ’n kamera en ons het die tonele oor en oor gerepeteer. Daar was ook ’n toertjie-koördineerder en hulle is uitstekend met wat hulle doen. So ja, dit was repetisie, repetisie, repetisie en dan natuurlik die redigeerder wat alles aan die einde bymekaar sit om dit realisties te laat lyk.

Al die bloed! Was dit grillerig?

Dis mos nie regtig bloed nie, maar ja, dit was erg. Die mense wat die rekwisiete gemaak het, was ongelooflik, maar dit was ’n grillerige affêre. Dit was rof! Die bloed is so taaierig en soet. Ek was ook vreeslik bang ek gly op die bloed.

Wat is jou gunsteling-riller?

Ek is mal oor Psycho. Die heel eerste riller wat ek as kind gesien het, was The Birds en dit was baie erg. ’n Goeie riller is Silence of the Lambs, maar meer oor die spelers as die storie. Ek het gehou van Funny Games, die Oostenrykse rolprent wat deur Michael Haneke geskryf en regisseer is.

Eintlik is ek nie so erg oor rillers nie. Dit is beslis nie my gunsteling nie. Ek hou van sielkundige rillers en geniet dit om misdaadrillers te lees.

Stian Bam in ‘Die Byl’. (Foto: Verskaf)

As jy ’n rol in enige riller kan speel, wat sal dit wees?

Jy moet ’n baie geloofwaardige karakter speel, om dit wat hy doen te rasionaliseer en dit is die grootste uitdaging. Enigiets wat ʼn mens uitdaag as akteur, is ’n wonderlike geleentheid. Vir my sal dit baie lekker wees om die persoon te speel wat weghardloop van die slegte ou.

Wat het jy die meeste gemis die afgelope twee jaar?

Dat jy kan repeteer en saam met jou kollegas kan wees en sien hoe hulle werk. Ek het gemis om deel van daardie familie te wees en nuwe rolle te skep saam met kreatiewe mense; die repetisie-proses en te delf om ’n karakter te vorm.

Jy is ’n uiterse talentvolle kunstenaar. Is daar dalk ’n uitstalling op pad?

Dis net ’n stokperdjie vir my. Ek maak wanneer ek tyd het goedjies en kyk of iemand dit wil koop en ongelukkig kry ek nie baie tyd daarvoor nie, maar ek fokus om tyd te maak om meer kreatief te wees.

Wat is jou planne vir die res van die jaar?

Om te oorleef. Ek gee soms klas by die Universiteit Stellenbosch, is in ’n toneelstuk op vanjaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees en werk as bestuurder by ’n restaurant. Ek is ook onlangs aangestel as kunstenaarsmentor by Curro Create, ’n program vir die kreatiewe kinders wat by Curro skoolgaan, wat ’n groot voorreg is.

Die Byl is Sondae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Die reeks is ook op DStv CatchUp beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.