Dié drie bekende gesigte in Mej. SA se eerste werklikheidsreeks te sien

Zozibini Tunzi, Leandie du Randt en Bonang Matheba. (Foto’s: Verskaf)

Die Mej. SA-kompetisie het pas aangekondig dat Zozibini Tunzi, voormalige Mej. SA en Mej. Heelal titelhouer, Leandie du Randt, aktrise, aanbieder en entrepreneur, en Bonang Matheba, radio- en TV-persoonlikheid, op hul nuwe televisieprogram genaamd Crown Chasers te sien sal wees.

Dié volwaardige werklikheidsreeks sal sorg dat aanhangers vanjaar ʼn behoorlike blik agter die Mej. SA-kompetisie se skerms gaan kry en eerstehands sal kan sien hoe die titelhouer, Ndavi Nokeri, se opvolger gekies word.

As deel van hierdie werklikheidsreeks sal deelnemers almal saam in die Mej. SA-hoofkwartiere woon, vanwaar hulle uitdagings wat verband hou met die kompetisie se vier pilare, naamlik plig, kampioenskap, bemagtiging en skoonheid sal moet aanpak.

Finaliste se entrepreneurs- en sakevaardighede sal verder op die proef gestel word en hulle sal gevra word om innoverende maniere te vind om toerisme aan te moedig, om ondersteuning vir sakeondernemings in vroulike besit te toon, of om aspekte van hul kultuur of erfenis ten toon te stel.

Zozibini Tunzi is in 2019 as Mej. Heelal gekroon. (Foto: Miss SA/Instagram)

ʼn Uitdagingswenner sal elke week deur ʼn beoordelaarspaneel, wat uit Du Randt, Matheba en ʼn gasbeoordelaar sal bestaan, aangewys word.

Boonop sal die beoordelaars aan die einde van elke episode een van die 12 finaliste afstem, met die sewe oorblywende finaliste wat deurgaan om aan die regstreekse eindrondte op 13 Augustus by die SunBet Arena in Pretoria deel te neem.

Tunzi maak haar televisiereeksdebuut as gasvrou van Crown Chasers, wat op Saterdag 8 Julie om 16:00 op SABC 3 begin uitsaai.

“Om vir die eerste keer ’n TV-reeks aan te bied, was ’n heerlike ervaring. Dit het vir my as tweede natuur gekom, want dié program gaan oor ‘n wêreld waarmee ek goed vertroud is. Wat dit selfs meer vervullend gemaak het, was om deel te wees van die bou daarvan van die begin af, en elke stap vanuit ‘n uitvoerende vervaardigende perspektief te neem.”

Sy glo dat kykers deur die program ingesluit sal voel.

“Ek dink almal wat aanhangers is moet Crown Chasers kyk. Ek dink soveel mense wonder hoe die proses werk om ‘n Mej. SA te kies, en nou sal hulle uiteindelik ‘n volledige prentjie kan hê. Wanneer jou gunsteling-deelnemer Mej. Suid-Afrika word, sal dit voel asof jy elke tree saam met haar gestap het en geleer het watter soort vrou sy is.”

Du Randt sê haar ervaring as aanbieder op Love Island South Africa het haar gehelp om ​​die druk van werklikheidstelevisie beter te verstaan.

Leandie du Randt klim in die beoordelaarstoel in ‘Crown Chasers’. (Foto: Verskaf)

“Gehore sal mal wees oor die werklikheid en al die aktiwiteite agter die skerms van Crown Chasers. Die program sal hulle ook help om die finaliste op ’n dieper vlak te leer ken en te verstaan, ​​en ook te respekteer waardeur hulle moet gaan om die kroon te wen.”

As beoordelaar soek Du Randt ʼn wenner wat daardie eg “Mej. SA-gevoel” uitstraal wanneer sy by die vertrek instap.

“Ek soek iemand wat ten alle tye die beste weergawe van haarself moet kan wees, iemand wat onvergeetlik is, ’n teenwoordigheid het en ’n doel in haar hart het om die land te dien en te lei.”

Matheba, wat ‘n uitsonderlike loopbaan in radio en televisie gehad het, sê sy soek iemand wat ‘n ambassadeursrol kan speel, wat ’n voorstander is vir sosiale geregtigheid en wat ’n woordvoerder vir die land se jeug kan wees.

“Ek glo die vrou wat uiteindelik wen, is gebore om Mej. SA te wees. Dit is nou ons verantwoordelikheid om haar te identifiseer.”

Matheba beskryf Crown Chasers as ʼn “vars, nuwe perspektief op skoonheidskompetisies” en meen dit is iets wat die status quo uitdaag.

“Die wêreld is besig om te verander. Skoonheidskompetisies, hul reëls en die vroue wat daaraan deelneem verander. Crown Chasers gaan ’n wonderlike bemagtigingsprogram vir jong vroue wees, en ek hoop hulle skakel in en kyk daarna en vind elke week inspirasie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.