Dié huisvrou ‘dink nie mooi voor sy praat nie’

Karen Schwendtke en die veteraanmodeontweper, Errol Arendz. (Foto: Verskaf)

“Iemand wat vir my uitstaan onder dié groep vroue, is Karen. Somtyds ontmoet ʼn mens daai een tipe persoon wat jou laat voel daar’s ʼn strange energy hier.”

Só het Gloria Arendz Theiler, sakevrou en suster van die veteraanmodeontwerper, Errol Arendz, vir Karen Schwendtke, een van die “real housewives” van die Wynlande beskryf in Donderdag se episode van dié kykNET-werklikheidsreeks.

Karen, tesame met Amy Kleinhans-Curd, Anita Lloyd, Candice Bester, Mariska Thorpe en Michelle van Zyl gee vir kykers weekliks  ʼn blik op hul luukse en kleurvolle lewens in die Wes-Kaapse wynlande.

In die jongste aflewering het dié ses vroue ʼn swierige partytjie by Gloria en haar Switserse man, Rolf Theiler, se R99 miljoen-herehuis in Kaapstad genaamd “Enigma” bygewoon.

Bekendes soos Gloria se broer, Errol, die sakevrou en filantroop, Basetsana Kumalo, en Shari Kennedy, aanbieder van kykNET se werklikheidsreeks, Hokaai my meisie!, was onder die bekende partytjiegaste.

Hoewel Candice, Michelle, Anita en Mariska ʼn goeie indruk onder voormalige Mej. SA, Amy se glansryke vriende gemaak het, het dit nie lank gevat vir Karen om wenkbroue te laat lig nie.

“Sy was oral by daai partytjie en sy het haar sê omtrent gesê. Ek het haar eintlik jammer gekry, want sy gee haarself nie tyd om te dink voordat sy iets sê nie,” het Gloria vertel nadat Karen haar herhaaldelik in die rede geval het tydens hul gesprekke.

Amy, Candice en Michelle het self ‘n toer deur Gloria se huis geneem. (Foto: Verskaf)

Karen het ook haarself aanvanklik as “Michelle” aan Gloria voorgestel.

“Dit was sommer van daar af net afdraande. Toe begin daardie bal rol en toe sneeubal dit net,” het Anita, wie se man binnekort uittree as uitvoerende hoof van die Ko-operatieve Wijnbouwers Vereniging van Zuid-Afrika (KWV), oor Karen se gedrag by Gloria se geselligheid gesê.

Amy, wat dikwels vir Karen in die bresse tree, het self gefrustreerd geraak met haar vriendin se partytjie-etiket. “Kan sy nie net blend nie? Sy doen haarself so erg in. As die dag nou só begin, hoe gaan Karen lyk ná ʼn uur of twee?”

Amy, Candice en Michelle het tussendeur hulself op ʼn toer geneem deur Gloria se eklektiese herehuis, wat eens een van die duurste op die Suid-Afrikaanse huismark is.

Veral dié huis se interessante gimnasium en tuisfliekteater, waar daar portrette van naak vroue gehang het, sowel as die donker masseurkamer, het omtrent die vroue laat giggel.

“Ek dink nie dis net ʼn ‘teater’ en ‘gimnasium’ nie,” het Candice knipoog gesê.

Die huisvroue het partytjie op ‘n boot gehou. (Foto: Verskaf)

“Daardie masjiene word nie vir pilates gebruik nie.”

Candice, ʼn voormalige sanger, het vroeër in dié episode ook verklap dat sy haar werk as bemarkingsbestuurder bedank het en saam met haar man ʼn restaurant gaan oopmaak.

Sy het dié nuus gedeel toe Amy die vroue saam op ʼn bootpartytjie genooi het.

Tydens die kuier het Anita en Amy gedeel dat hul gemakliker onder die groep vroue raak en voel asof hulle hegte bande as vriendinne begin smee.

Karen het egter nie die ander huisvroue se sentiment gedeel nie.

“Ek voel dat ek nie ʼn baie lang paadjie saam met baie van hierdie vroue sal kan stap nie. Daar moet altyd drama wees. Ek probeer juis myself nie vereenselwig met hierdie tipe energie nie.”

  • Die Real Housewives van die Wynlande wys Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is beskikbaar op DStv Catch Up.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ronel ·

Nee kyk, dis nou ‘n program wat ek nie sal kyk nie – al betaal jy my R100 miljoen!!

kommentaar ·

Het iemand al daaraan gedink dat karen so optree want sy is onseker van haarself, en glo daarom hoe meer wind sy blaas hoop sy dat mense van haar sal hou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.