‘Die Kontrak 2’: Ontmoet die aanbieders

Na ʼn uiters gewilde eerste seisoen met derduisende inskrywings en ʼn wenner wat die Afrikaanse musiekbedryf storm geloop het, is Die Kontrak terug vir ʼn tweede seisoen. Vanjaar spog die program, wat op e.tv sal uitsaai, met drie splinternuwe aanbieders.

Ontmoet die aanbieders:

Demi Lee Moore

Demi Lee Moore.

Moore is in 2018 as wenner van die eerste seisoen van dié sangkompetisie gekroon. Haar debuutalbum, Mis, eet, slaap, herhaal, het goue status bereik nog voordat die Afrikaans is Groot-konsertreeks in Pretoria, waar sy as wenner aangekondig is, geëindig het.

“Ek is vreeslik opgewonde om weer deel van die program te wees. Om as aanbieder aan te sluit is ’n groot hoogtepunt, want dit is iets wat ek nog altyd wou doen,” sê sy.

“Ek sien so uit daarna om die nuwe talent te sien en deel te wees van hul reis en hulle natuurlik by te staan waar ek kan, omdat ek self deur die hele proses is.”

Sy glo die beoordelaars, wat ook binnekort bekendgemaak word, sal na iemand soek wat vars en selfversekerd is. “Beslis iemand wat weet wie en wat hulle wil wees.”

Haar raad aan voornemende deelnemers is eenvoudig: “As jy te skaam of te bang is, moet jy nie deelneem nie. Dit is die harde werklikheid van die bedryf. Dit is nie maklik nie en ʼn mens word daagliks getoets. Ek praat nie net van die laaste jaar sedert ek [aan die program] deelgeneem het nie, ek praat uit ondervinding van die laaste 11 jaar,” sê Moore.

“Dit is meer as net ʼn sangkompetisie. Daar is ʼn span wat werklik die beste vir jou wil hê en hard werk om jou daar te kry. Jy moet reg wees vir enige uitdaging en dit is beslis iets wat ʼn groot rol speel.”

Bobby van Jaarsveld

Bobby van Jaarsveld.

Van Jaarsveld, wat voorheen as mentor op die MNet-sangprogram The Voice verskyn het, is geen vreemdeling by sangkompetisies nie en neem vanjaar sy rol as aanbieder van Die Kontrak in.

“Die vorige seisoen was so ʼn groot sukses en ek glo dit gaan hierdie keer dubbeld so groot wees,” sê Van Jaarsveld.

“Dit is so reg in my kraal en ek voel baie tuis saam met almal wat deel is van die span. Ek sien ongelooflik baie uit na dié seisoen. Die bedryf verander so vinnig; dit sal goed wees om te sien wie en wat tree vanjaar na vore met hulle unieke styl en aanslag tot die bedryf,” sê hy.

Hy sê Moore is die beste voorbeeld van waarna die beoordelaars gaan soek. “Ek dink stemtoon is alles en as jy uniek en toeganklik is, gaan jy die oog vang. Mense gaan van jou hou en jou weer wil sien. Sangers wat inskryf moet seker maak dat die beoordelaars daarna uitsien om hulle weer en weer op die verhoog te sien,” sê hy.

Pulane Sekepe

Die sangeres en aanbieder Pulane Sekepe is die jongste toevoeging tot die Die Kontrak-span en sy vertel dit is vir haar ʼn voorreg om deel te wees van die program.

“Ek dink ek was definitief verlede seisoen se grootste aanhanger, so jy kan jou net indink hoe baie ek daarna uitsien!” sê Sekepe.

“Ek dink die beoordelaars gaan soek na iemand wat nie net die talent het nie, maar wat ook streetwise is en wat ʼn goeie loopbaan sal opbou uit hierdie geleentheid. Min dinge in die lewe is so sleg soos om spyt te wees jy het iets nie gedoen nie. So skryf eerder nou in, of jy wen of nie – jy gaan dan weet jy het probeer en niemand kan dit van jou af wegneem nie.”

Die wenner van Die Kontrak stap weg as ʼn kunstenaar van die gesogte platemaatskappy Coleske Artists wat verantwoordelik is vir die loopbane van die land se grootste kunstenaars.

Barry Pretorius, een van die kenners van dié program en regisseur van Afrikaans is Groot, sê die program is na deeglike oorweging na die gratis kanaal e.tv geskuif.

“Coleske Artists het besef e.tv sal die perfekte platform wees om die nuwe seisoen van Die Kontrak uit te saai,” het hy verduidelik.

“Ons wil graag hê dat almal Die Kontrak moet kan volg en deel wees van al die aksie tydens dié realiteitsangkompetisie.”

Inskrywings vir Die Kontrak open op 1 Mei. Hou die kompetisie se sosialemediaplatforms dop vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.