‘Die Kontrak 2’ vir eers uitgestel

Bobby van Jaarsveld, Demi Lee Moore en Monique Steyn tydens die eerste seisoen van ‘Die Kontrak’. 

Die vervaardigers van Die Kontrak het Woensdag aangekondig dat die produksie van dié gewilde talentsoekprogram se tweede seisoen vir eers uitgestel is.

Inskrywings vir die kompetisie sou op 1 Mei open en die program sou later vanjaar op e.tv te sien wees. Die eerste seisoen, waartydens Demi Lee Moore as wenner aangewys is, is in 2018 op VIA op DStv uitgesaai.

Volgens die vervaardigers is die produksie van die program vir eers uitgestel as gevolg van die deurlopende beperkings op sosiale geleenthede en byeenkomste tydens die onderskeie vlakke van die landwye afsonderingstydperk weens die Covid-19-pandemie.

“Die veiligheid van ons produksiespan, kenners, mentors, aanbieders, deelnemers en gehoorlede bly ons eerste prioriteit,” lui ʼn verklaring deur die program se vervaardigers.

“Ons bly dankbaar vir julle opgewondenheid en ondersteuning en ons sien uit na ʼn nuwe seisoen sodra die afsondering verby is.”

Bobby van Jaarsveld, Demi Lee Moore en Pulane Sekepe is aangekondig as die tweede seisoen se aanbieders.

Volgens Johan C Venter, hoof van bemarking by Coleske Artists, is die positiewe reaksie oorweldigend sedert die tweede seisoen aangekondig is. “Mense is ongelooflik opgewonde en ons is baie hartseer om die nuus met ons ondersteuners te deel dat die program vir eers uitgestel is, veral nadat ons reeds soveel opgewondenheid geskep het,” sê Venter.

Demi Lee Moore, Bobby van Jaarsveld en Pulane Sekepe is aangekondig as die aanbieders van die program terwyl Karlien van Jaarsveld, Monique Steyn, Refentse en Hemelbesem as mentors vir die deelnemers sou optree. Theuns Jordaan, Barry Pretorius en Corlea Botha sou ook betrokke wees as kenners.

“Die kompetisie en mense se sangtalent gaan nie verdwyn nie. Ons vra maar net vir mense se geduld – hou gerus ons sosialemediaplatforms dop vir die jongste verwikkelinge,” sê Venter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.