‘Die Kontrak’ se Deidré: ‘Dis moeilik as jy so naby was’

Deidré Barnard in aksie op die verhoog. (Foto: Afrikaans is Groot/Facebook)

Deidré Barnard in aksie op die verhoog. (Foto: Afrikaans is Groot/Facebook)

Deidré Barnard, die 16-jarige deelnemer aan die VIA-realiteitsreeks Die Kontrak, se kontrak is ná afloop van Woensdagaand se uitklopkonsert deur die grootbaas van Coleske Artists, Arnold Coleske, opgeskeur.

Dewald Wasserfall, haar mentor, het ná afloop van die program op Instagram ʼn foto van Barnard geplaas. “Een van die sadste moments van my lewe. Sy is amazing,” het hy geantwoord op ʼn aanhanger se kommentaar.

“Om saam met Dewald te kon werk, was ʼn droom wat bewaarheid is,” het Barnard in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê.

Dewald Wasserfall en Deidré. (Foto: Instagram/Dewald Wasserfall)

Dewald Wasserfall en Deidré. (Foto: Instagram/Dewald Wasserfall)

“Dewald is so ʼn goeie mentor en mens, en hy het my gedruk om dinge te doen en risiko’s te vat, wat elke keer lonend was. Ek het nooit gedink ek sal die top-24 haal nie, wat nog van die top-drie, en dit is grootliks aan hom te danke. Hy het my verstaan as kunstenaar.”

Sy gee toe dit was nie maklik om die kontrak te verbeur in die pylvak nie. Demi-lee Moore van Durbanville en Ivan Roux van Pretoria ding nou teen mekaar mee vir ʼn Coleske Artists-platekontrak van R1 miljoen en ʼn plek op die Afrikaans is Groot-verhoog.

“Die twee finaliste kry elkeen ʼn enkelsnit, ʼn album, ʼn musiekvideo én hulle oefen saam vir die Afrikaans is Groot-konserte, so dis moeilik dit te verwerk as jy so naby gekom het. Ek glo wel dit is wat God vir my beplan het en as Hy dié pad vir my gekies het, wie is ek om dit te bevraagteken? Ek vertrou voluit dat Hy ander planne vir my het.”

Die jong sangeres van Strand ontvang tuisonderrig en sal vroeg volgende jaar haar matriek voltooi sodat sy haarself heeltyds op musiek kan toespits. “Ek wil baie graag ook ʼn enkelsnit uitbring en ek beplan om ʼn YouTube-kanaal te begin waarop ek video’s van my musiek kan laai. Ek sal ook graag by feeste dwarsoor die land wil optree. Daar is soveel maniere om deur my musiek met mense in aanraking te kom.”

Deidré Barnard. (Foto: Facebook)

Deidré Barnard. (Foto: Facebook)

Die belangrikste les wat sy tydens haar deelname aan Die Kontrak geleer het, is om in haarself te glo en op die Here te vertrou. “Ek is en sal altyd my grootste kritikus wees, maar die kompetisie het my gewys waartoe ek in staat is en dat ek nie hard moet wees op myself nie en dat mense eintlik hou van wat ek doen. Kanse vat is die moeite werd en ek moet nooit ophou droom nie, want niks is onmoontlik nie. Ek het nooit gedink iets soos Die Kontrak sal met my gebeur nie, maar kyk waar is ek nou.”

Barnard se ma, Sicilie, bars van trots oor haar dogter se deelname aan Die Kontrak. “Dit was vir my baie goed om te sien hoe sy gegroei het en wat vir my baie mooi was, is dat sy haar opgewondenheid deurentyd behou het. Net so opgewonde soos sy was toe sy ingestap het, net so opgewonde was sy toe sy die laaste aand opgetree het. Ek is saam met haar hartseer dat sy uitgeval het, maar sy het ongelooflik gevaar en ek is baie trots op haar.”

Nuwe episodes van Die Kontrak word Woensdae om 20:00 op VIA, DStv-kanaal 147, uitgesaai met heruitsendings op Vrydae om 19:00, Saterdae om 21:00 en Sondae om 18:00.

Die JOOX-app is die amptelike musiekstroomvennoot van Die Kontrak en al die liedjies uit die uitklopkonserte is daar beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Alicia ·

Jy is fantasties Deidré! Ek weet jy gaan dit nog ver bring :-)

anni ·

Volgens my moes J nog I gewees het. Jy het elke keer pragtig gesing.
Maar gelukkig is nog baie jonk en wag daar n opwindinde sangloopbaan. Lekker sing

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.