‘Die Kontrak’ se Demi Lee slaan goud los

Demi Lee Moore spog met haar toekenning. (Foto: Verskaf)

Demi Lee Moore spog met haar toekenning. (Foto: Verskaf)

Die Kontrak se Demi Lee Moore spog reeds met goue status vir haar debuutalbum, skaars twee weke nadat sy as die eerste wenner van dié gewilde realiteitsprogram op VIA aangewys is.

Meer as 15 000 eksemplare van dié album, Mis Eet Slaap Herhaal, is al verkoop.

Moore is op 23 November, tydens die eerste Afrikaans is Groot-konsert in Pretoria, aangewys as die wenner van dié gewilde televisieprogram waarin kykers voorgestel is aan hoopvolle deelnemers wat om ʼn Coleske Artists-platekontrak van R1 miljoen meegeding het.

Moore se album bevat haar jongste enkelsnit, “Mis Eet Slaap Herhaal”, asook nog drie oorspronklike treffers én van die liedjies wat sy tydens die program gesing het. Die gewilde vertolking van die Amerikaanse countrysangeres, Cam, se treffer “Diane”, is ook op die album te hoor.

Nadat Moore dié lied saam met haar mentor op die program, die donkerkopsangeres Monique Steyn, uitgevoer het, het hulle ook Cam se aandag getrek wat hulle op sosiale media komplimenteer het met die weergawe. ʼn Twiet oor die duet het onder Cam se aandag gekom waarna sy ʼn skakel daarna gedeel en geskryf het: “Diane has made it to South Africa. My heart just exploded.”

Demi Lee Moore is verras met 'n splinternuwe motor. (Foto: Verskaf)

Demi Lee Moore is verras met ‘n splinternuwe motor. (Foto: Verskaf)

Moore is tydens die laaste Afrikaans is Groot-vertoning verras met ʼn goue toekenning vir haar album. “Dit is ʼn uitsonderlike prestasie vir enige kunstenaar, om nie eers te praat van ʼn kunstenaar wat nuut is op die toneel met ʼn album wat skaars twee weke oud is nie,” het Johan C Venter van Coleske Artists gesê.

“Vir ʼn album om deesdae goud te gaan, is nie so maklik nie. Van die land se grootste en gevestigde kunstenaars se albums het nog nie goud bereik nie.”

Steve Hofmeyr se jongste album, The Country Collection, het ook binne twee weke platinumstatus bereik, met meer as 30 000 kopieë van dié album wat reeds verkoop is. Moore het ook ʼn duet van die liedjie “Amanda” saam met Hofmeyr op dié album gedoen.

“Dit is ʼn ongelooflike prestasie. Ons dink die feit dat Steve en Demi Lee saamgewerk het, het bygedra tot die sukses van die albums,” het Venter gesê.

Moore is ook verras met ʼn splinternuwe Toyota C-HR-voertuig. Calvyn Hamman, senior vise-president van Toyota, het dié voertuig aan haar oorhandig. “Ek kan dit nie glo nie! Dit voel só onwerklik, al my drome word waar,” het ʼn oorstelpte en emosionele Moore gesê toe sy die voertuig ontvang.

Afrikaans is Groot het pas nege uitverkoopte vertonings gehad in Pretoria. Daar is nog enkele kaartjies oor vir Afrikaans is Groot se konserte in Kaapstad volgende jaar op Vrydag 15 Maart om 19:30, Saterdag 16 Maart om 13:00 en 19:30, en op Sondag, 17 Maart om 13:00 by die GrandWest Casino. Kaartjies is slegs by Computicket beskikbaar.

Die Afrikaans is Groot- kalenders is eksklusief aanlyn beskikbaar op Maroela Media se winkel teen R120. Kliek hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Demi-lee ·

Demi-Lee, baie, baie geluk! ons ‘geld’ was op jou! hou net jou voete op die grond en BLY so nederig soos wat jy is! Bid vir jou baie voorspoed toe.! Mag die Here jou seën! moenie te lank stilbly nie, sing, sing, sing!!

Carlien ·

Ek het die laaste CD van Demi-Lee by Musica in die Kollenade gekoop.. Ek Luister die heeltyd haar musiek. Wat n pragtige stem.. Love haar musiek!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.