Die Krone wéér terug met CD en vertoning

Die krone tree op in konsert 25 en 26 Julie FOTO: Verskaf

Die Krone hou op 25 en 26 Julie konsert. Foto: Verskaf.

Kurt Darren, Nicholis Louw, Ray Dylan, Heinz Winckler en Snotkop is vanjaar weer terug as Die Krone om musiekliefhebbers met die lekkerste musiekvertoning en die grootste partytjie in musiekgeskiedenis te vermaak. Hulle beloof om vanjaar ’n selfs groter vertoning as ooit te gee.

Die Krone is op 25 en 26 Julie by die Big Top Arena by Carnival City in Johannesburg op die verhoog. Gaskunstenaars soos Elizma Theron, Liezel, Andriëtte, Manie Jackson en Adam Tas is slegs enkele van die topkunstenaars in Suid-Afrikaanse musiek wat by die Krone sal aansluit – met van goue oues tot splinternuwe treffers.

Om te verseker dat almal uit volle bors kan saamsing, is hulle ook terug met Krone 2. Dié dubbel-CD pryk met Afrikaners se gunsteling- plaaslike en internasionale saamsingtreffers. Alle gaskunstenaars by die vertoning sing ook op die CD.

Dié liedjies is saamgestel uit die grootste treffers wat verskeie genres soos ballades, country, danstreffers, sokkiemusiek en die goue oues insluit. Die CD sowel as die vertoning práát dus met musiekliefhebbers van vele genres.

Aanhangers kan verwag om by die konsert en op die CD saam te sing met plaaslike treffers soos dié van Lucas Maree, Steve Hofmeyr, Dr. Victor and the Rasta Rebels, Anton Goosen, Koos Kombuis en Carike Keuzenkamp, asook ander internasionale treffers van Rihanna, Katy Perry, Roxette, Cher, Elton John, Whitney Houston, Laura Branigan, Starship, Toto, Elvis Presley, Buddy Holly, Bill Haley & The Comets, Los Lobos, Van Morrison, Lonestar, Taylor Swift, The Eagles, ABBA en Queen.

Om as voorsmakie vir vanjaar se vertoning te dien, gaan laas jaar se vertoning Saterdag 25 April om 21:30, 26 April om 18:00 en 28 April om 22:00 op kykNET Musiek gebeeldsaai word. Die CD is ook landwyd beskikbaar.
Aanhangers kan hulle volgens die tema van die vertoning vir die okkasie tooi – koninklike wit en goud – om te verseker dat hulle in die volle ervaring deel.

Kaartjies vir die vertoning is nou beskikbaar by Computicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anton Stripp ·

Hello daar. Teen watter prys sal die nuwe Krone dubbel CD verkruigbaar wees en dalk ‘n datum wanneer dit te koop aangebied word? Groete Anton

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.