Die meisie in die holderstebolder wêreld

Meerkat Maantuig

Meeste kinders is bang vir monsters, die vreesaanjaende soort wat onder die bed of in die kas wegkruip. Maar Gideonette De La Rey (Anchen du Plessis) het ’n ander soort vrees in Meerkat Maantuig (2017, nou beskikbaar op Showmax): Sy is bang vir die dood. Of eerder dat sy die volgende slagoffer van die De La Rey-vloek sal word, wat maak dat almal met die naam “Gideon” ’n vroeë dood sterf.

“Alhoewel haar naam Gideonette is, kan sy steeds nie van die gevoel ontslae raak dat die dood haar gaan kom kry nie,” verduidelik skrywer en regisseur Hanneke Schutte.

Wanneer die tiener se dominee-pa Gideon (Drikus Volschenk) skielik sterf, nes sy pa 30 jaar voor hom, word Gideonette se geloof in die vloek só sterk dat sy haarself aan die wêreld onttrek en in haar eie wêreld van nagmerries en moeilikheid begin leef, ’n wêreld wat selfs Alice in Wonderland mak laat lyk.

Haar ma Mathilda (Hanlé Barnard) is nie van veel hulp nie, aangesien sy ook in die vloek glo, en sy besluit die beste manier vir Gideonette om die gevaar vry te spring, is om na haar eksentrieke grootouers Ouma Koekie en (Rika Sennett) en Oupa Willem (Pierre van Pletzen) te gaan, wat in ’n bos bly. Dis hier waar Gideonette die dierbare klein dowe seuntjie Bhubesi (Themba Ntuli) ontmoet, wat ’n ruimtevaarder wil word en die ruimte wil invaar in sy Meerkat Maantuig.

Die tragiese waarheid, waarvan Gideonette nie bewus is nie, is dat haar nuwe vriendjie nie baie tyd oor het nie: hy ly aan ’n dodelike breingewas wat nie geopereer kan word nie. In die tyd wat hulle saam spandeer, help Bhubesi se helder verbeelding vir Gideonette om die lig te sien, en saam droom hulle daarvan om om die aarde te vlieg in die Meerkat Maantuig.

Wendings en draaie

Die rolprent spreek donker temas aan soos die dood, depressie, vrees en geestesgesondheid. Hanneke het inspirasie gevind om hierdie onderwerpe aan te pak op ’n manier wat geskik sou wees vir kinders toe sy die Afrikaanse skrywer Riana Scheepers se boek Blinde Sambok (2003) gelees het.

“Dit het vir my ’n vae buitelyn gegee waarbinne ek my eie storie kon skilder vir Meerkat Maantuig. Ek het die essensie van die boek geneem – ’n jong meisie wat in vrees vir die familievloek leef – en dit toe aangepas om ’n donker sprokie te skep waar daar tog hoop is aan die einde van die storie,” verduidelik Hanneke.

Een van die belangrike toevoegings wat Hanneke gemaak het, was die maantuig, wat volgens haar “self ’n karakter in die rolprent word”.

“Die maantuig help Gideonette om haar vrese te oorkom. Die maantuig het ’n soort toorkrag en dit verteenwoordig vryheid. Die soort vryheid wat jy ervaar wanneer jy uiteindelik die moed vind om jou vrese in die gesig te staar.”

Die fliek daag jou nie net uit om te erken waarvoor jy bang is nie, maar kyk ook na die stories wat ons vir onsself vertel om met ons vrese saam te leef. Die boodskap word opgesom in Oupa Willem se woorde: “As jy gaan wegkruip vir jou vrese gaan jy ʼn baie klein en vervelige lewe lei.”

Ware vrees

Hanneke het haar eie kindertydvrese gaan opdiep vir die draaiboek. “Ek was ’n bang kind en dit het my jare geneem om die moed op te werk om in my eie kamer te slaap!”

Sy noem ook dat sy in haar grootwordjare ’n wilde verbeelding gehad het en dat haar kinderdae vol dierasies en kleurvolle monsters was.

“Om die waarheid te sê is ek steeds ’n bietjie skaam en bang, en daarom was dit vir my belangrik om ’n storie te skep wat daardie vrese konfronteer. Ek het die storie geskryf as ’n les vir myself, om my te help om my eie vrese te oorkom.”

Magiese Magoebaskloof

Meerkat Maantuig is in die Magoebaskloof-woud in Limpopo verfilm. “Net soos die maantuig het die woude van die Magoebaskloof ook ’n karakter in die film geword. Die woud het nie net ’n spokerige, sprokies-agtergrond geskep nie, maar dit was ook ’n plek waar Gideonette kon leer om haar verbeelding aan te skakel en om weer te leer speel,” verduidelik Hanneke. Die verfilming was egter nie maklik nie – daar was spinnekoppe, slange, muskiete en bosluise, en dit het op meeste dae van die skietskedule gereën.

Dis ’n wenner!

“Die rolprent is werklik magies en inspirerend, en ek hoop dat die boodskap met oud en jonk sal resoneer,” sê Hanneke. Die rolprent het inderdaad so goed met plaaslike en internasionale gehore resoneer dat dit die volgende toekennings ingepalm het:

  • Beste Kinematografie by die 2017 Silwerskermfees
  • Beste Vroue-rolprent in 2017 by die Calcutta International Cult Film Festival
  • Kindertoekenning by die 2018 Filem’on: International Children’s Film Festival Brussels
  • Beste Vollengtefilm en die Jurie-prys by die 2018 International Film Festival for Children and Young Audience Schlingel
  • Uitstaande Prestasie in Film – Vollengte Rolprent by die 2018 Newport Beach Film Festival
  • Beste Kinematografie – Vollengte rolprent by die 2019 South African Film and Television Awards.

Nou is dit tyd om die toorkrag van Meerkat Maantuig self te ervaar op Showmax.

Hoe kry jy Showmax?

Kry ’n voorsmakie van al die Showmax-aksie met ’n twee weke gratis proeflopie.  Daarna kos dit slegs 99 per maand om duisende reekse, rolprente en dokkies te geniet.

As jy ’n DStv Premium intekenaar is, sal Showmax jou nie ’n enkele sent meer kos nie. Gaan eenvoudig na www.showmax.com/dstv om in te teken en geniet volledige toegang tot Showmax teen geen ekstra koste nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.