Die room van Afrikaanse flieks nou op Showmax beskikbaar

Jy hoef nie té ver te soek as jy van ons gewildste Afrikaanse flieks onder oë wil kry nie – Showmax bied ’n wye verskeidenheid Afrikaanse flieks wat ʼn hele klomp genres – van komedie en drama tot romantiese komedies – insluit.

Die storie van Klara Viljee

Dié dramatiese rolprent is deur die gesoute kamera-regisseur Koos Roets verfilm onder die leiding en knap regisseursoog van Katinka Heyns. Anna-Mart van der Merwe skitter as Klara Viljee, ’n jong vrou wie se verloofde, Pietman Willemse (Gavin van den Berg), op see verdrink het. Klara besluit sy wil nooit weer die see sien nie en bou haar huis agter ’n sandduin. Benewens Klara kruip van die plat-op-die-aarde kleindorpse karakters soos Rose (Trix Pienaar), tant Mollie (Lida Botha), Soois de Swart (Hennie Oosthuizen) en Boetie (Cobus Visser) diep in jou hart. Hoewel hierdie bekoorlike verhaal in ’n Kaapse vissersdorpie in die laat vyftigs afspeel, is die tema universeel: vergifnis, self-ondersoek en vernuwing. Boonop is al die bestanddele soos humor, liefde en verraad ook daar wat jou enduit sal boei.

 

Fiela se kind

Die gelyknamige rolprentweergawe (1988) geskied reg aan Daleen Matthee se trefferroman. Fiela se kind vertel die roerende verhaal van ’n bruin vrou, Fiela Komoetie (Shaleen Surtie-Richards), wat ’n verlore wit kind, Benjamin (Jan Ellis as die jong Benjamin, Dawid Minnaar as die ouer een), aanneem. Maar dan besluit die regering dat ’n wit kind nie in ’n bruin gemeenskap mag grootword nie, en boonop wil sy ma, Barta (Lida Botha), hom dan ná nege jaar terug hê. Benjamin se soeke na sy identiteit en Fiela se verlange na haar optelkind word die oorbruggende temas. Dié storie speel teen die agtergrond van die Knysna-bos af.

 

Pad na jou hart

Pad Na Jou Hart (2014) is propvol avontuur, romanse en ’n skeutjie komedie, plus ‘n klankbaan met musiek van gewilde kunstenaars soos Karen Zoid, Adam, Joe Foster en Die Heuwels Fantasties. Die vonk tussen die jong sakeman Basson (Ivan Botha), wat vyf dae het om by sy pa se begrafnisdiens in Kaapstad uit te kom, en die boheemse Amoré (Donnalee Roberts) wat hom ’n saamry-geleentheid bied is onmiskenbaar. Gaan Basson al die opdragte wat hy van sy oorlede pa ontvang het, betyds kan uitvoer om die familie-besigheid oor te neem? En gaan die held en heldin uiteindelik bymekaar uitkom?

 

Verraaiers

Verraaiers (2013) vertel die aangrypende verhaal van ’n gerespekteerde Boere- kommandant, Van Aswegen (Gys de Villiers), wat hom verset teen Lord Kitchener se verskroeideaardebeleid waartydens plase en plaashuise, landerye en vee verwoes is en vroue en kinders na konsentrasiekampe gestuur is tydens die Suid-Afrikaanse oorlog rondom die draai van die 19de eeu. Van Aswegen verlaat die slagveld en keer terug huis toe om sy gesin te beskerm. En dan word hy en sy seuns vir hoogverraad aangekla. Dié rolprent belig nie net die universele verskrikking van oorlog nie, maar ook die smart van die wat tydens die oorlog agtergelaat is. Dit het ’n sterbelaaide rolverdeling wat Deon Lotz, André Roothman, Carel Trichardt, Jacques Bessenger, Andrew Thomson, Rika Sennett en Viljé Maritz insluit, en Paul Eilers het die regie behartig.

Showmax is nou gratis beskikbaar as deel van jou DStv Premium-pakket! Klik hier om meer uit te vind.

Dié vier flieks is nou vir die eerste keer op Showmax beskikbaar. Indien jy nog nie vir Showmax ingeteken het nie, probeer die gratis 14 dae-proeflopie vir duisende ure se topklas vermaak op jou rekenaar, slimfoon, slim TV of tablet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.