Die twee gesigte van Odelle de Wet

Odelle de Wet. (Foto: Facebook)

Vir iemand wat floreer in stilte en hou van rustigheid, is die langbeen-aktrise Odelle de Wet se lewe tans holderstebolder.

Nie net is sy tans in twee groot rolle op die kassie te sien nie, maar maak sy ook tyd om haar passie vir joga uit te leef en ʼn kwalifikasie in integrale afrigting aan die Universiteit van Kaapstad te verwerf.

Vir Odelle, wat weer as die ewige moeilikheidmaker Delia Richter in die kykNET-sepie Binnelanders haar verskyning maak – dié keer swanger en swygend oor wie die pa is – is daar nie baie tyd vir stilsit nie.

Trouens, sy hardloop só rond tussen die stelle van Binnelanders en die telenovela Legacy, waarin sy die rol van die vredeliewende Charmaine vertolk, dat sy skaars tyd kry om haar jogasessies in die oggende uit te voer.

“Ek en my agent het besluit ons sal beter moet beplan, anders gaan my jogasessies heeltemal agterweë begin raak, en dit is nie goed vir my psige nie!” sê Odelle laggend in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Soggens is sy soms al teen 04:00 op om haar karakters se skoene vol te staan. “Dit kan nogal ʼn uitdaging raak om nog oefening ook in te kry as jy heeldag voor die kamera op jou voete staan, woorde moet leer en genoeg slaap inkry,” verduidelik sy.

Odelle de Wet as Delia Richter in ‘Binnelanders’. (Foto: kykNET)

Odelle, wat in Januarie 2007 haar debuut in die sepie Isidingo gemaak het, vertel dat sy gemaklik vir Delia Richter kan agterlaat om Charmaine se gedaante aan te neem, aangesien dié twee karakters wyd van mekaar verskil.

“Delia se sagter kant kom met die swangerskap meer gereeld na vore en dan raak dit soms ʼn uitdaging om nie vir Charmaine te laat deurskemer nie, maar oor die algemeen is die karakters só uiteenlopend.

“Delia is ʼn leeuwyfie wat so passievol is dat haar vuur ʼn gesellige kaggel kan wees, óf dit kan alles om haar afbrand, terwyl Charmaine altyd die silwer randjie om enige donker wolk kan raak sien,” sê sy.

Binnelanders-kykers hou tans hulle asems op om te hoor of dr. Conrad Bester die pa van Delia se ongebore baba is. Delia swyg egter steeds soos die graf, terwyl Conrad (Hykie Berg) en sy meisie, Tracy Smith (Melinda Brink), tans salig onbewus is van die swangerskap.

Tog skerm Odelle dié slag vir Delia, want hierdie keer is sy nie daarop uit om Conrad en Tracy se verhouding te laat sneuwel nie.

Odelle de Wet as Delia Richter in ‘Binnelanders’. (Foto: kykNET)

“Sy het besluit hierdie baba is iets wat sy kan koester en liefhê, sonder enigiemand se hulp of insette. Dit is vir haar belangrik om iets te hê wat net hare is.”

Volgens Odelle is sepiewerk ʼn kunsvorm wat akteurs op ʼn fisieke, emosionele en intellektuele manier uitdaag.

“Jy moet jou liggaam op ʼn sekere plek hou vir die kamera terwyl jy jou woorde só goed moet onthou dat jy met gevoel kan speel. Goeie voorbereiding is van kardinale belang.”

Op die stel van Legacy het sy meer vryheid om te beweeg, aangesien daar nie soveel limiete op die stel is soos met ʼn sepie nie.

“Daar is meer beweegruimte en gevolglik kan jy as aktrise jou liggaam soveel meer aanwend. Dit is ʼn losser styl van speel as op ʼn sepiestel.”

Sy bieg dat Charmaine, wat in ʼn verhouding is met Willem Potgieter, Dawid Minnaar se karakter, die tipe mens is wie sy graag sou wou wees.

Odelle de Wet en Dawid Minnaar in ‘Legacy’.

“Sy sien altyd die ligstraaltjie in die donker. Sy het nie ʼn maklike kinderlewe gehad nie, maar alles was nie noodwendig sleg nie. Waar Delia in moeilike omstandighede sal verhard om haarself te beskerm, lê Charmaine se krag daarin om ʼn glimlag op te kan sit en die positiewe in eenvoudige goed in die lewe te soek.”

Odelle vertel sy was nog altyd baie geïnteresseerd in Oosterse filosofie en dat dit haar na joga en pilates gelei het. Sy het in 2018 ʼn maand lank in Bali ʼn intensiewe kursus by Matthew Sweeney, ʼn Australiese joga-instrukteur, gedoen.

Sy vertel sy maak dié praktyk nou ook deel van haar studies as integrale afrigter, andersins bekend as ʼn lewensafrigter.

“Dit behels ook baie asemhaling en bewustheid van die liggaam. Ons leef mos heeltyd in ons koppe, maar dis belangrik om ook bewus te wees van die boodskappe wat ons liggame vir ons stuur.”

Haar langtermyndoelwit is om ʼn praktyk oop te maak waar sy haar passie vir integrale afrigting kan uitleef.

Odelle de Wet en Dawid Minnaar in ‘Legacy’.

As sy egter werklik haar sin kon kry, het sy elke dag in ʼn huisie in ʼn woud wakker geword waar sy en haar twee geliefde hondjies, Poppie en Jezebel, kan gaan stap.

“Ek hou nie daarvan om oorweldig te voel nie. Ten spyte van al die negatiewe dinge wat saam met die inperking gekom het verlede jaar, was ek in my element met die stilte wat oor die land gekom het. Ek skakel selde die televisie aan, maar as my kêrel kom kuier, kyk ons ʼn fliek en eet pizza.”

Binnelanders is weekliks om 19:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Legacy is weeksaande om 19:00 op M-Net, DStv-kanaal 101, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.