‘Die uitnodiging’ se Cato binnekort terug op die kassie

Cato Bekker. (Foto: Facebook)

Die tweede seisoen van die kykNET-reeks Die Uitnodiging is daarop gemik om gesinne weer te verbind, gebroke verhoudings te herstel en genesing aan te moedig – veral ná die isolasie en eensaamheid wat die Covid-19-pandemie teweeg gebring het.

Cato Bekker van die eerste seisoen tree weer op as aanbieder en uitvoerende vervaardiger van die reeks.

“Vir byna almal van ons was die afgelope tydperk een van besinning en introspeksie. Dit het ons verplig om weer na die verhoudings in ons eie lewens te kyk. Sommige is dalk gebroke, ander dalk verwaarloos. Wil ons so aangaan?” het Bekker gesê.

“Die program bied ʼn platform om mense met hul vervreemde geliefdes byeen te bring. Ons skep ʼn neutrale omgewing wat oop is vir eerlike gesprekke.”

In Oktober verlede jaar is die eerste seisoen van Die Uitnodiging op kykNET uitgesaai. Bekker het verlede jaar in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê sy het die konsep vir die program op die Nederlandse kassie ontdek en het gedink ʼn soortgelyke program kan werk op eie bodem.

“Wat my van die program aangegryp het, is hoe eg en alledaags die temas daarvan is – van hoe verhoudings en dinamika in families verskil. Dit was vir my interessant hoe ʼn klein misverstand ʼn groot skeur in ʼn verhouding kan veroorsaak en hoe die gebrek aan kommunikasie die skeur verdiep. ʼn Rusie is egter nie ʼn eienaardige ding nie en ons almal beleef soms konflik en daarom kan soveel mense aanklank vind by die program.”

Bekker het vertel haar verwagting van hoe die program in ʼn Suid-Afrikaanse konteks gestalte gekry het, is weer en weer oortref.

“Ons het met ongelooflike families en vriendekringe gewerk, mense wat hulle volle vertroue in ons geplaas het en openlik met ons oor hulle konflik gesels het sodat ons hulle uiteindelik by die versoeningsete kon kry. Ons vertel eg, diverse Suid-Afrikaanse stories van alle soorte en dit was regtig vir my ʼn voorreg om deel te kon wees van mense se stories.”

Cato en een van die deelnemers aan die vorige seisoen van ‘Die uitnodiging’. (Foto: Facebook)

Aansoeke vir die tweede seisoen van Die Uitnodiging is nou oop. Suid-Afrikaners wat ʼn verhouding met geliefdes wil herstel, word aangemoedig om in te skryf.

“Ons is gereed om geliefdes weer om dieselfde tafel te bring en ‘n dialoog van versoening en genesing te begin.”

Om in te skryf, besoek die program se amptelike webwerf, die DSTV-webwerf, of die Facebook-blad. As ʼn alternatief kan jy ’n e-pos stuur aan [email protected].

Deelnemers moet Suid-Afrikaanse burgers van 18 jaar of ouer wees, en moet in Gauteng of die Wes-Kaap woon.

Die Uitnodiging 2 word Donderdag 22 Julie om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die eerste seisoen is beskikbaar op Showmax.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.