Die vele kante van Schalk Bezuidenhout

Schalk Bezuidenhout as mimiekkunstenaar en reeksmoordenaar in ‘Die Byl’. (Foto: Verskaf)

Deur Ilza Roggeband

In episodes vyf en ses van die nuwe seisoen van Die Byl is Schalk Bezuidenhout te sien as die reeksmoordenaar Louw Smith, ’n mimiekkunstenaar met ’n hartseer verlede. Hy is tans ook vir oulaas as Danny Beyers, ʼn voornemende akteur en werknemer van die Fransen-hotel, in die laaste reeks van Hotel te sien.

Hoe het jy by die karakter uitgekom?

Dit is moeilik om in die kop van ’n reeksmoordenaar te klim as jy nie een is nie. Ek dink nie regtig ʼn mens kan nie, maar jy probeer jou verbeelding gebruik deur te dink hoe so ’n persoon sal dink as hulle sulke dade pleeg.

Dit is maar donker, maar ek dink op die ou end moet jy die karakter ’n mens probeer maak. Jy kan nie net op die oppervlak speel nie. Dit is ’n regte mens, al doen hy hierdie verskriklike goed. Jy moet die menslike kant kan uitbring en dit is wanneer dit interessant raak.

Schalk Bezuidenhout as mimiekkunstenaar en reeksmoordenaar in ‘Die Byl’. (Foto: Verskaf)

Hou jy van rillers? Wat is jou gunsteling-riller van alle tye?

Ja. My gunsteling is Paranormal Activity. So min gebeur, maar tog sit jy deur die hele fliek vasgenael op jou stoel. Dit is baie spanningsvol. ’n Interessante feit: Dit was een van die flieks met die kleinste begroting wat nog die meeste geld verdien het.

Gril jy vir bloed?

Ja, daar is ’n rede hoekom ek nie in die mediese veld ingegaan het nie. Ek haal my hoed af vir paramedici en dokters, want ek weet nie hoe hulle dit doen nie. Op die stel is dit makliker wanneer jy die plastiekemmer sien waarin die bloed kom en jy sien hoe hulle dit maak. Dit is soos ’n resep – bietjie van dit en bietjie van dat – en dit vat van die gril weg.

Sal jy graag meer dramatiese rolle wil speel? Wat is die rol waarvoor jy jou oogtande sal gee?

Ja, ek wil. Dit is lekker om sulke rolle te speel en niemand wil tog hê sy loopbaan moet eentonig raak nie. Net soos akteurs wat meer komiese rolle speel meer dramatiese rolle wil speel, is daar ook akteurs wat dramatiese rolle speel wat meer komiese rolle wil speel. Almal soek ’n balans.

’n Rol waarvoor ek my oogtande sal gee, is om Freddie Mercury te speel. Ek is mal oor hom en Rami Malik het hom so goed vertolk in Bohemian Rhapsody. Ek het nog altyd gedink ek kan soos Freddie lyk, maar ek het nog nooit die valstande gehad nie. Dan ook The Joker in Batman. Dis daardie menslikheid, om ’n karakter te speel wat bietjie gek is, maar te wys dat jy amper jammer vir hom kan voel. Dat daar ’n rede is hoekom hy is wie hy is en dat hy nie net ’n slegte ou is nie.

Schalk-Bezuidenhout-Danny-Hotel

Schalk as Danny Beyers in ‘Hotel’. (Foto: Verskaf)

Die finale seisoen van Hotel is ook tans op kykNET te sien. Was dit moeilik om vir Danny te groet?

Met die maak van hierdie hele seisoen het mense so nou en dan in trane uitgebars. Dit het gekom in sulke fases. Dan is dit die laaste keer in die kombuis, dan is dit die laaste skote by die fontein, die laaste tonele in die kroeg. Ek het geweet die damwal gaan breek wanneer ons klaar maak en toe ons daardie laaste toneel skiet en Bennie (Fourie) roep al die akteurs en die span bymekaar en begin sy toespraak, toe breek my damwal.

Dit was nie net moeilik om vir Danny te groet nie, maar ook die hele span. Ek onthou nog die oproep van Bennie in 2015. Ek het nog nooit van hom gehoor nie en hier bel hy my om te sê hulle doen ’n reeks vir kykNET en vra of ek ’n oudisie sal doen. Ek was so half, ‘ag oukei’, en was nie baie opgewonde nie, maar toe kry ek die teks en besef hoe snaaks dit is. Sewe jaar later werk ek en Bennie nie net gereeld saam nie, hy is ook een van my beste vriende.

Hoekom is komedie so moeilik? Oftewel, hoekom is dit so moeilik om vir almal snaaks te wees?

Dit kom daarop neer dat mense baie meer saamstem oor wat hartseer is as wat snaaks is. Met ander woorde: die familiehond sterf en almal dink dit is hartseer, maar iemand gly op ’n piesangskil en een groep dink dit is glad nie snaaks nie en die ander groep dink dis skreeusnaaks. Daar is soveel uiteenlopende genres wanneer dit by komedie kom. Donker komedie, slap stick, skurwe komedie, droë komedie… ʼn Mens kan nooit almal op een slag gelukkig hou nie.

Schalk Bezuidenhout in ‘Die Byl’. (Foto: Verskaf)

Is daar enige verrassings op pad?

Ja, ek is swanger.

Nee, grappie! Ek dink ek word net so verras soos mense wat my op Instagram en Facebook volg. Hierdie is nie Hollywood waar projekte jare vooruit beplan word nie. Ek bedoel dit nie negatief nie, dit is net hoe dit hier werk. So om die vraag te beantwoord: Nee, maar daar is die hele tyd goed wat gebeur.

Wat is jou hoop vir 2022?

Wat ons almal hoop – dat die beperkinge weens die pandemie gelig word en ons kan teruggaan na normaal.

Episode vyf van Die Byl word op Sondag 13 Februarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en episode ses op Sondag 20 Februarie om 20:00. Die reeks is ook op DStv CatchUp beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.