‘Die wasgoedlyn’: ʼn musiekprogram ‘wat alles wys’

Riku Lätt (Foto: Susanne Joubert/ Facebook)

Die aanbieder, Riku Lätt (Foto: Susanne Joubert/ Facebook)

Die wasgoedlyn, ’n splinternuwe musiekprogram op kykNET, is van 11 Augustus op die kassie te sien.

Ilza Roggeband, mediabestuurder, sê dié program is ʼn “kultuur-historiese-mooimusiek-dokumentêre reeks” waarin die sanger en liedjieskrywer Riku Lätti verskeie musiekkunstenaars “in die agterplaas, langs die wasgoedlyn” besoek.

Kykers kan verwag om kunstenaars soos Les Javan, Rian Malan, Bacchus Nel, die rapper van Mitchells Plain, Churchill Naudé, Dozi, Lochner de Kock, Andra Cilliers, André van Rensburg, Loit Sôls, Francois van Coke, Willim Welsyn, Ryno Velvet, Laurinda Hofmeyr, Piet Botha, Gert Vlok Nel en nog vele meer in dié program te sien.

“Om dié wasgoedlyn word daar musiek gemaak en nonsens gepraat. Daar gaan alles gewys word wat die kyker nie verwag om te sien nie, maar wat hul wel kan verwag, is dat dit mooi gaan klink,” sê Roggeband.

Kykers kan glo uitsien na spesiale oomblikke. “Daar is seldsame oomblikke soos Piet Botha wat op Lanseria-lughawe sing en amper sy vlug verpas, Liela Groenewald wat in ʼn plakkerskamp in Lenasia sing, ʼn bymekaarkoms in Mitchells Plain wat in ʼn kulturele uitruiltransaksie ontaard, Ryno Velvet en Willim Welsyn saam met Dana Snyman, Laurinda Hofmeyr en C. Johan Bakkes in ʼn tabakskuur in die Paarl, Dozi op sy plaas, Francois van Coke wat verstom en nog veel meer.”

Daar word egter nie net musiek gemaak nie. “Die kunstenaars verskyn in hul natuurlike omgewing: by hul eie huise of om braaivleisvure saam met vriende terwyl hulle musiek en grappies maak.”

Die wasgoedlyn begin op 11 Augustus om 20:30 op kykNET Nou! (kanaal 146).

Daar is herhalings op Vrydae om 18:30, Saterdae om 21:30, Sondae om 17:00, Dinsdae om 16:30 en Woensdae om 12:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.