Dis drama om ’n swembad in dié kykNET-telenovelle

’n Familieonderneming is die perfekte agtergrond waarteen ’n drama kan afspeel. In Oktober maak ’n splinternuwe en opwindende telenovelle vol intrige, geheime, verbode liefdes en bowenal ’n storie met hart en diepte sy buiging op kykNET.

Die telenovelle, getiteld Diepe Waters, speel af in en om ’n mededingende swemklub, Die Swartmarlyne, wat deur Gys Swarts besit word. Die Swartmarlyne-swemklub is ’n familieonderneming waarby Gys se seuns, Rossouw en Jacques, albei betrokke is.

Om die spanning te verdiep swem Gys se kleinkinders, Karla en Johan, ook vir die Swartmarlyne se swemspan.

Diepe Waters is geskep deur ’n wêreldklas-span wat kykNET se kykers en die Suid-Afrika van vandag ken en immer beter probeer verstaan,” sê Waldimar Pelser, direkteur van die kykNET-kanale.

“Elke weeksaand tussen Maandag en Donderdag om 18:00 sal hierdie karakters leef in die huise van ons kykers, by wie ons hoop hulle geliefd sal raak. Ons roeping is om boeiende, outentieke stories te vertel waarmee kykers hul aand se kykgenot met genoegdoening kan afskop. Ons hoop Diepe Waters sal aan ons kykers se hoë verwagtinge voldoen.”

In die telenovelle is Karla ʼn jong tiener wat sukkel met die daaglikse druk van kampioen wees. Dis ook nie sonder meriete nie, aangesien haar ma, Sanet, glo sy kan ’n beurs oorsee losswem en nooit minder as perfeksie van Karla verwag nie.

Johan aan die ander kant smag na sy oupa Gys se goedkeuring, maar is net nooit so goed soos Karla nie. Rossouw en Sanet lyk op die oog af soos ’n gelukkige paartjie, maar wanneer hul verlede by die deur instap, word hul alledaagse normale bestaan onverwags omvergegooi.

Jacques, wat steeds op Gys se erf woon, is die smeulende afrigter om wie se aandag al die swemmammas en aquarobics-tannies baklei. Maar hy is in sy hart ’n sagte teddiebeer by wie meer as een persoon afpak oor hul daaglikse struikelblokke.

Dit is teen die agtergrond van hierdie swemklub wat ons verskeie families leer ken wat alles in hul vermoë sal doen om kop bo water te hou terwyl hulle hoop dat hul geheime in diepe waters sal wegsink.

Zelda Joubert, die eienaar van die skoonheidsalon Skinvestment, kan egter nie vir Gys verdra nie. Hierdie jare lange afkeuring van die man gee vir Zelda ’n nuwe huppel in haar stap wanneer sy besef sy moet eerder haar vyande so na moontlik aan haar hou.

Die feit dat Zelda se oogappel, Meghan, nie eens haar eie bloed is nie, maak dit vir Pam, haar dogter, baie moeilik om uit te styg bo Zelda se hoë standaarde. Liewe Lettie bedryf haar eie suksesvolle keffie en dis hier waar ons karakters lafenis vir hul siel kan vind – nie net in Lettie se varsgebak nie, maar ook op haar skouer.

Henry neem die rol van die nuwe opsigter by die klub in en sy aangenome seun, Tshepo, dien as ’n groot bedreiging vir Johan en sy reputasie. Wanneer Nina de Wet en haar ouers, Wim en Rose, deel vorm van die Swartmarlyne-swemklub, voel Karla se hart sommer ligter. Die twee is vinnig-vinnig boesemvriende en albei het eindelik iemand met wie hulle hul hartsgeheime kan deel.

In hierdie gemeenskap is dit maklik om soos ’n vis uit die water te voel en die karakters besef vinnig dat hul vuil wasgoed nie so maklik met water skoongewas kan word nie en elkeen staan die kans om oopgevlek te word vir wie hulle werklik is.

“Hierdie program is ongewoon en iets anders, maar tog ’n telenovelle oor liefde, geheime, intriges en planne om wraak te neem. Ons het ’n ongelooflike rolverdeling en interessante omgewing en ons hoop dat die kykers aanklank daarby sal vind,” sê Roberta Durrant, kreatiewe vervaardiger van Diepe Waters.

Penguin Films behartig die vervaardiging en is ook verantwoordelik vir programme soos Arendsvlei, Afgrond en Projek Dina.

Die spelers in die telenovelle sal op 30 Augustus bekendgemaak word. Hou kykNET se webwerf dop vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.