Dokkie bekyk geslagsgeweld vanuit manlike perspektief

Tracy Going en Natasha Sutherland saam met lede van die manlike paneel in die rolprent “That’s What She Said – A Social Inquiry”. (Foto: Verskaf)

ʼn Baanbrekende, plaaslike, dokumentêre rolprent deur drie vroue wil die plaag van geslagsgebaseerde geweld blootlê ter viering van die jaarlikse 16 Dae van Aktivisme teen Vroue- en Kindermishandeling in Suid-Afrika.

Dié keer egter óók vanuit die manlike perspektief.

Die aktrises, skrywers en regisseurs Natasha Sutherland en Lesedi Job het kragte met Tracy Going, televisie- en radiopersoonlikheid, saamgesnoer vir die dokumentêr, That’s What She SaidA Social Inquiry.

Dit is vanaf 1 Desember op Showmax te sien en handel oor ʼn paneel van agt onverwante mans se reaksies op die bekroonde toneelstukverwerking van Tracy se memoires, Brutal Legacy.

Die fliek se narratief word dus deur die uitdagende en dikwels ontstellende tonele van die teateropvoering saam met gesprekke en reaksies van die paneel saamgeweef en bepaal.

Tracy, ʼn voormalige aanbieder van die SABC-nuusprogram Morning Live, se kortstondige verhouding met ʼn kameraman wat haar mishandel het, het nuusopskrifte in die 1990’s gehaal en volgens haar beide haar loopbaan en gesondheid geknou.

Sy het dít, sowel as haar ervarings met gesinsgeweld as kind in haar memoires vasgevang. Lesedi en Natasha het dit in 2019 vir die verhoog verwerk met Lesedi wat die regie behartig het terwyl Natasha ʼn ouer Tracy in dié produksie vertolk het.

Al drie vroue het nou saam die nuwe dokumentêr vervaardig.

“Hoewel die inhoud en onderwerp bitter ongemaklik is, is die eindproduk tog ʼn pragtige samewerking tussen drie vroue: Tracy met die boek, Lesedi met die produksie en ek met die rolprent. Al die verhale en weergawes is met mekaar verweef,” vertel Natasha aan Maroela Media. Sy maak met dié rolprent haar dokumentêre debuut.

Natasha sê die reis van verhoog na skerm was intens, maar belonend, juis omdat sy so goed met die inhoud vertroud is.

“Geslagsgebaseerde misdaad is nie die tipe onderwerpe of beelde wat mense wil sien of oor praat nie, wat sin maak siende dat so baie wat ons deesdae ervaar en aan blootgestel word, ongemaklik is. Ons beloof nie dat ons noodwendig nou skielik al die oplossings hiervoor het nie, maar glo dis belangrik om die gesprek aan die gang te hou om ten einde die uitkringeffek daarvan te verbreek.”

Natasha sê haar seuns, wat graag YouTube-kanale volg met eerlike en ongeredigeerde onderhoudstyle, het grotendeels die fliek se unieke paneelformaat beïnvloed. Die vervaardigingspan het ook nie spesifieke mans uitgesoek om deel daarvan te wees nie, maar eerder voelers uitgesteek na mense en organisasies wat hulle ken.

“Die finale paneel se samestelling was ʼn divine accident. Ek het geen vooropgestelde idees of kennis van hulle gehad nie, wat as regisseur nogal angswekkend was. Ons het ook nie ʼn poging aangewend om uit te vind of hulle slagoffers van misdaad óf selfs oortreders is nie – wat dit nog interessanter maak. Hulle was van nature ook ʼn diverse en uiteenlopende groep.”

Natasha erken dat die paneel se reaksies met tye haar eie denkwyse teenoor mans uitgedaag het, en vir kykers unieke insigte oor hierdie omstrede sosiale kwessie sal bied.

“Ek dink kykers gaan verbaas wees om te sien watter kwesbare gesprekke, argumente en selfs onthullings deur die paneel gemaak word, want ék was beslis daardeur geraak.”

In die lokprent word mans gevra of hulle vroue dadelik glo wanneer hulle bewerings van mishandeling maak, waarop enkele “nee” antwoord. Een man verklap selfs dat sy ma, eerder as sy pa, die oortreder in hul huis was.

“Ons kan nie die statistiek verontagsaam nie, want vroue is eenvoudig meer kwesbaar. Maar ons doel is nie om mans te name en shame nie, want ʼn mens kan nie almal oor dieselfde kam skeer nie. Op die einde van die dag beïnvloed geweld ons almal.”

Onderwerpe soos “mans is gemors” en “regte mans huil nie” word aangepak, en gesprekke met Tracy, Lesedi en ander kenners word ook gevoer.

That’s What She Said volg ook nie ʼn tradisionele verspreidingsbenadering nie en word nie in rolprentteaters vrygestel nie. Korporatiewe maatskappye en organisasies word eerder genooi om vertonings by rolprentteaters of op hul eie perseel te bespreek.

Volgens Natasha is die doel om die film in kleiner groepe te sien sodat betekenisvolle gesprekke daaromtrent gevoer kan word. Sensitiewe kykers word vooraf gewaarsku, en kenners en beraders word beskikbaargestel indien hulle benodig sou word.

“Niemand gaan bioskoop toe jaag om ʼn rolprent oor geslagsgebaseerde misdaad te sien nie, maar Tracy bied haar eie verhaal as ʼn generiese een van geweld aan sodat meer mense daarmee kan vereenselwig. Sy lê dit bloot om ondersoek en dalk gekritiseer te word, wat ongelooflik dapper is.”

Die terugvoer wat die filmspan reeds ontvang het, is volgens haar ook ʼn beduidende bewys dat storievertelling mag het.

“ʼn Man het ná een van ons vertonings ons bedank en gesê dat die dokumentêr treffend was, maar volgens hom nie by alle mans ewe goed aanklank gaan vind nie. Hy het ons gevra hoe ʼn mens dié onderwerp kan aanpak om ‘beter by mans se dinamika te pas’.

“Ons antwoord was dat die rolprent reeds sy doel begin dien as ʼn man hierdie tipe vrae uit sy eie begin vra, want hy verstaan dat ʼn mens hierdie gesprek verder kan neem.”

Volgens Benjamin Cowley, hoof van die Gravel Road-verspreidingsgroep wat die fliek se amptelike verspreider is, lig die dokumentêr die gordyn oor die paradokse wat in huise en die samelewing oor geslagsgebaseerde misdaad bestaan.

“Hierdie tipe geweld skuil dikwels agter fasades waar die wese van sorg en deernis tragies verdraai word in wreedheid en lyding. Ek hoop dat die film help om begrip vir die erns van hierdie misdade in Suid-Afrika te versterk, en dat maatskappye na vore sal tree om ʼn rol te speel om gesprekke oor hierdie belangrike kwessie uit te lok.”

  • Maatskappye wat ʼn vertoning in ʼn bioskoop of by hul eie perseel wil bespreek, kan ʼn e-pos na [email protected]
  • Kyk die fliek se lokprent hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.