Dokumentêr oor Tolla van der Merwe op pad

Tolla van der Merwe, Suid-Afrika se geliefde komediant en storieverteller. (Foto: Twitter)

Vir baie Suid-Afrikaners is Tolla van der Merwe onlosmaaklik deel van die eertydse Afrikaanse vermaakwêreld.

Dié komediant en storieverteller het dekades lank gehore laat skaterlag en deur sy luisterryke loopbaan die grense van vermaak verskuif.

Nou is daar ʼn dokumentêr oor die geliefde grapjas se lewe en loopbaan op pad wat aanhangers ʼn intieme kykie sal gee in die man agter die roem – die komediant en storieverteller, maar ook die pa, gesinsman en lewensmaat.

Tolla is in Augustus 2000 in die ouderdom van 57 dood in ʼn motorongeluk op die N4 naby Belfast in Mpumalanga. Volgende jaar sal die 20ste herdenking van sy dood wees en sy familie het besluit dat ʼn dokumentêr die gepaste manier is om aan hom hulde te bring.

“Nou, byna 20 jaar ná sy dood, is daar steeds soveel mense wat hom onthou en oor hom met ons praat,” sê Wicus van der Merwe, Tolla se seun. “Dié dokumentêr is nie net ʼn manier om hulde aan hom te bring nie, maar ook ʼn manier om sy stories en grappies te laat voortleef, om die jonger garde te wys wie was oom Tolla.”

Tolla was bekend vir sy komieklike staaltjies op televisieprogramme soos Spies en Plessie en Maak ʼn las, maar het ook sy lyf akteur gehou in rolprente soos Kaalgat tussen die Daisies, Panic Mechanic en Tolla is Tops. En min mense sal vergeet hoe Leon Schuster vir arme Tolla ʼn poets gebak het in die 1989-rolprent Oh Schucks …. It’s Schuster!

Tolla se familie hoop om met dié dokumentêr aanhangers ʼn nadere kykie te gee in sy lewe, waar hy grootgeword het en hoe sy loopbaan gevorder het tot hy uiteindelik een van die bekendste name in Afrikaanse komedie was.

Wicus sê die dokumentêr word in samewerking met ʼn produksiehuis vervaardig, maar die projek is tans nog in sy kinderskoene. Daar is pas eers begin met voorlopige onderhoude met van Tolla se skoolvriende en ander kennisse en nog talle ander onderhoude word beplan.

Tolla was bekend vir sy komieklike staaltjies op televisieprogramme soos Spies en Plessie en Maak ʼn las, maar het ook sy lyf akteur gehou in rolprente soos Panic Mechanic en Tolla is Tops. (Foto: Twitter)

“Ons beoog om die dokumentêr teen Augustus volgende jaar vry te stel, maar dit is beslis nog net ʼn voorlopige datum. Dit is ʼn baie groot werk wat ons aanpak en ons sal moet kyk of ons alles voor dan kan klaarkry!” sê hy.

Besonderhede oor op watter kanaal die dokumentêr bekendgestel gaan word en op watter ander platforms dit beskikbaar gaan wees, moet nog gefinaliseer word.

Wicus het ʼn beroep op die publiek gedoen aan almal wat oudiovisuele materiaal van Tolla het, om dit aan die produksiespan te stuur vir moontlike gebruik in die dokumentêr. “Ons is op soek na videomateriaal wat nie in die handel beskikbaar is nie, want uiteraard kan ons kommersiële materiaal maklik in die hande kry. Enige ander beeldmateriaal in enige formaat, al is dit nog op VHS, sal vir ons baie waardevol wees,” sê hy.

“Ons sal dit natuurlik soos goud oppas en nadat ons dit oorgeskakel het na digitale formaat toe, sal ons dit weer veilig aan die eienaar terugbesorg.”

Enigiemand wat oudiovisuele materiaal van Tolla van der Merwe het, kan ʼn e-pos stuur na [email protected] met jou naam, kontakbesonderhede en meer besonderhede oor die beskikbare materiaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

6 Kommentare

Liekie ·

Dit is great nuus!!
Ek sien baie uit daarna.
Ek is lankal due vir ‘n lekker-goeie-lag .

Toubs ·

Ek het hartomleiding in Maart 2000 gehad. Tydens KKNK 2000 was Tolla ook gedoen. Na sy 2-3 dae in ICU het hul hom in Mosselbaai se Bayview hosp. se kraamsaal gesit. Veiliger seker vir hom gewees. ????

Connie ·

Hoop net nie dit is Kyknet. Ek kan dit nie bekostig nie. Sou dit graag wou sien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.