Donker Showmax-drama ʼn eerste vir SA

Jane de Wet vertolk die rol van Lexi Summerveld in 'The Girl from St Agnes'. (Foto: Verskaf)

Jane de Wet vertolk die rol van Lexi Summerveld in ‘The Girl from St. Agnes’. (Foto: Verskaf)

Die lokprente wat Showmax onlangs vir sy eerste oorspronklike drama, The Girl from St. Agnes, uitgereik het, het al altesaam sowat 1,2 miljoen trefslae op sosiale media gekry en kan daarin slaag om Suid-Afrikaanse reekskykers regop te laat sit.

By St. Agnes, ʼn spogskool vir meisies in die KwaZulu-Natalse Middellande, is al wat heilig is die skool se naam. Wanneer ʼn populêre student dood gevind word aan die voet van ʼn ou meul, is die skool vinnig om te verklaar dat dit ʼn tragiese ongeluk was.

Die drama-onderwyseres, Kate Ballard, vertolk deur Nina Milner, glo nie die verklaring nie. Hoe verder sy in haar eie ondersoek delf, hoe meer besef Kate dat sy nie die oorlede meisie, Lexi Summerveld, vertolk deur Jane de Wet, of die skool hoegenaamd geken het soos sy gedink het nie. Lexi se moordenaar is nie die enigste persoon wat ontbloot sal word nie.

“Ek is baie opgewonde vir die kykers om dit te sien,” sê die 22-jarige De Wet in ʼn onderhoud met Maroela Media.

“Ek is natuurlik ook ʼn bietjie senuweeagtig, want dit is iets unieks vir Suid-Afrika en dit is glad nie konserwatief en veilig nie. Dit is baanbrekerswerk deur ʼn ongelooflike span gesoute mense in die vermaakbedryf, maar dit gaan moeilik verteer word deur sommige mense. Ek dink tog mense is ook gereed om hierdie vlak van werklikheid op televisie te sien in Suid-Afrika.”

Sy beskryf haar karakter as ʼn verkleurmannetjie. “Lexi is 17 jaar oud, intelligent en baie sosiaal, maar ook baie manipulerend. Sy kan haarself aanpas by enige situasie en om te voldoen aan mense rondom haar se verwagtinge dra sy verskillende maskers voor verskillende mense. Sy sukkel met haar identiteit en omdat sy so baie voorgee weet sy nie wie sy is nie.”

De Wet in 'n toneel uit 'The Girl from St Agnes'. (Foto: Verskaf)

De Wet in ‘n toneel uit ‘The Girl from St. Agnes’. (Foto: Verskaf)

Moonyeenn Lee, rolverdelingsregisseur van The Girl from St. Agnes, is in die laaste drie jaar vir twee Emmy-toekennings benoem vir The Looming Tower en Roots. Lee was ook die rolverdelingsregisseur vir die Oscar-bekroonde Suid-Afrikaanse fliek Tsotsi.

De Wet vertel Lee het haar vir die rol van Lexi gekies nadat sy ʼn oudisie-opname van haarself na haar agent aangestuur het. De Wet is in die Kaap gebaseer terwyl die oudisies in Johannesburg plaasgevind het. Die rol van Lexi is De Wet se eerste rol voor die kameras.

“Ek was verlede jaar in Indië met ʼn danskontrak en daarna het ek besluit dat ek ʼn agent wil kry. Ek wou nog altyd voor die kameras wees, maar het net nooit blootstelling en geleenthede gekry nie. Binne drie maande nadat ek ʼn agent gekry het, het die oudisie deurgekom. Ek dink regtig dit was van die begin af net vir my bedoel – toe ek die storie lees het ek gevoel die rol is net vir my geskryf,” vertel De Wet.

Jane de Wet vertolk die rol van Lexi Summerveld in 'The Girl from St Agnes'. (Foto: Verskaf)

Jane de Wet vertolk die rol van Lexi Summerveld in ‘The Girl from St. Agnes’. (Foto: Verskaf)

Sy vertel dit was vir haar “verbasend maklik” om die rol van ʼn 17-jarige te speel. “Ek is baie klein gebou en mense onderskat my al my hele lewe lank. Mense dink baie keer ek is 17, so daardie persepsie is iets waaraan ek baie gewoond is. Ek het gehou van die uitdaging en dit was baie opwindend om vanuit ʼn volwasse plek waar ek is in my eie lewe die hele hoërskool-ervaring te herleef.”

Tog was dit ook uitdagend. “Dit was ʼn totale onbekende terrein vir my. Ek moes baie vinnig gewoond raak aan tegniese terme op die stel en wat van my verwag word op daaglikse basis. Al was dit moeilik, het ek saam met ʼn baie ondersteunende geselskap gewerk – gesoute akteurs wat regtig so bemoedigend was en wat heeltemal selfloos hulle kennis met my gedeel het. Dit het dit definitief ʼn positiewe ervaring gemaak. Ek onthou baie duidelik my eerste dag op stel was by ʼn openbare swembad, en ek het gedink as daar nog ooit ʼn metafoor vir iets was, dan was dit dié: Dit is nou tyd om te sink of te swem,” lag sy.

The Girl from St. Agnes begin op 31 Januarie op Showmax.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.