Drie broers pak Tankwa-Karoo op motorfietse

Bennie Fourie het saammet sy broers, Reynold en Wilbrie, die Tankwa-Karoo op motorfietse deurkruis. (Foto: Verskaf.)

Drie broers, drie motorfietse, geen lisensies, een groot avontuur – welkom by Die Broer Toer.

Donderdag 10 September 21:00 kan kykers inskakel vir die heel eerste episode van Die Broer Toer op kykNET (DStv-kanaal 144), met Bennie Fourie en sy twee broers.

Bennie is bekend as akteur, regisseur en skrywer, maar hy en sy broers, Reynold en Wilbrie, is ook bekend vir hul legendariese avonture. Selfs met die eise wat die grootmenswêreld stel en hul verantwoordelikhede wat hulle in teenoorgestelde rigtings dryf, vind hulle steeds tyd om saam avonture aan te pak.

“Ons hou van remote toer en kamp. Omtrent een keer ʼn jaar onderneem ons saam ʼn avontuur. Of dit nou is om Botswana in te vaar of op die Oranjerivier te gaan roei – ons hou daarvan om ‘anderste’ soort vakansies te hou,” vertel Bennie.

Hoewel hulle soos dag en nag verskil, is daar een ding wat hulle gemeen het – hulle sê nooit nee vir ʼn uitdaging nie. En met hul volgende uitdaging gaan hulle behoorlik getoets word, want hierdie keer doen hulle dinge anders. Gewoonlik beplan Reynold en Wilbrie die avonture, maar hierdie keer gaan Bennie die avontuur beplan.

Vir die bekendstellingsepisode van Die Broer Toer pak die drie broers die Tankwa-Karoo aan op motorfietse. Bennie maak seker daar is heelwat uitdagings – kompetisie is al van kleins af ʼn hoofbron van vermaak vir hulle, met die wenner wat beloon word en die verloorders wat beboet word. Dié familietradisie is ʼn groot deel van hierdie avontuur – die pad is lank en die luukshede is min. So, wanneer dit kom by belonings, is daar baie op die spel.

Kykers sal dadelik van Bennie se twee broers, Reynold en Wilbrie, hou. “Reynold, ʼn dominee soos ons pa, is verreweg die lieflikste, niceste mens in die wêreld en game vir alles,” vertel Bennie. “Wilbrie is die stoutgat en ‘lewe’ van die partytjie. As hy sê ons moet ʼn opblaasbootjie koop en in die see sit, dan doen ons dit – hy sal ons nie uitlos as ons dit nie doen nie.

“Ons het besluit om die Tankwa aan te pak vir Die Broer Toer-bekendstellingsepisode sodat kykers ʼn idee kan kry van hoe ons avonture gewoonlik lyk. Indien dié episode suksesvol is, beoog ons om ʼn selfs groter avontuur aan te pak,” sê Bennie.

Vir die broers is dit belangrik om bymekaar te kom en saam herinneringe te skep.

“Ons wil vir mense wys dat dit maklik en lekker is om sulke avonture aan te pak – dit hoef ook nie ʼn plaas te kos nie. Daar is ʼn lekker balans tussen stout en snaaks, maar dit is ook familievriendelik – dis ʼn episode met hart wat hopelik kykers sal aanmoedig om meer dinge saam te doen.”

Skakel Donderdag 10 September 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) in vir die eerste episode van Die Broer Toer.

(Grafika: kykNET)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.