Drie kan ʼn geheim hou as twee dood is

sara-se-geheim-3

June van Merch. Foto: Verskaf

Sara se Geheim is ʼn kykNET-dramareeks van 13 episodes wat in Kaapstad afspeel met twee verhale wat ineengestrengel is – dié van ʼn familie in Durbanville en dié van ʼn familie in Athlone. Hierdie mense se lewens is oënskynlik wêrelde van mekaar verwyder, maar een leuen verbind hulle; ʼn leuen wat reeds 35 jaar lank geheim gehou word.

Tog is die reeks nie net donker en dramaties nie. Die temas word ook gestel teenoor die ligter, meer humoristiese gevolge van leuens en geheime in die daaglikse bestaan van die karakters.

Daar is drie gesinne: die Cloetes, Kiewietse en die Vermeulens en dan die een persoon wat hulle saambind: Sara Abrahams (June van Merch). Sy is die stammoeder en dra swaar aan ʼn diep donker geheim en leuen wat sy 35 jaar gelede uit nood moes vertel om haar oudste seun se lewe te red.

Sara is ook die bewaarder van haar kinders se geheime. Soos die storie ontvou en elkeen se geheime ontdek en ontmasker word, sien ons hoe die verhoudings tussen ma en dogter, broer en suster en eggenote oopgekloof word.

sara-se-geheim-2

Quanita Adams. Foto: Verskaf

Wanneer Sara se 14-jarige seun en sy maats tydens die politieke onluste in die 1980’s deur die polisie voorgekeer en in ʼn vangwa gelaai word, word hy laat gaan omdag hy lig van kleur is. Sara het geweet dis net ʼn kwessie van tyd voor die seuns sal erken dat haar seun, Johnny, hul leier is en dat die polisie hom by haar sal kom soek. Dieselfde aand gaan soek sy hulp by die kinderlose mev. Vermeulen en sý oorreed Sara om Johnny in haar sorg te laat.

Johnny word Johan (Dawid Minnaar) en op die vooraand van die nuwe Suid-Afrika raak hy verlief op Nicola (Natania van Heerden). Sara sê hy moet vir Nicola die waarheid vertel, maar hy kan nie.

sara-se-geheim-1

Dawid Minnaar. Foto: Verskaf

Sara se oudste dogter, Maggie Cloete (Lee-Ann van Rooi), is die een wat die meeste geraak word deur Johnny se verdwyning. Sy het haar broer verafgod en met sy verdwyning raak sy as tiener met die ongure Ricky (Brendon Daniels) deurmekaar. Hy beland in die tronk en Maggie, wat swanger met sy kind is, besluit om haar lewe om te keer. Sy aanvaar ‘n trouaanbod van Virgil Cloete (Charlton Lee George), maar Sara weet dat ook Maggie ʼn geheim met haar ronddra.

Sara se jongste dogter, Lizzie Kiewiets (Quanita Adams), lewe ook ʼn leuen. Sy glo sy is gelukkig getroud met Danny (Keenon Arrison), maar Danny lei ʼn dubbele lewe. Johan en Nicola se dogter, Inge (Lise-Marie Richardson), ontmoet Maggie en Virgil se oudste seun, Aiden (Marlo Minnaar), op universiteit. Hulle vorm ʼn noue band en Sara probeer Johan oortuig om die waarheid vir Inge te vertel. So word die groot geheim nou deur drie mense gedeel: Sara, Johan en Inge …

Ander spelers in die rolverdeling is Margot Luyt, Elton Landrew, André Weideman, Nicola Hanekom, Edwin van der Walt, Geon Nel, Marco Spaumer, De Klerk Oelofse, Celeste Matthews, Grant Swanby, Catriona Andrews en Shimmy Isaacs.

Die skrywers van die reeks sluit name in soos Margaret Goldsmid, Peter Goldsmid, Johann Davis, EKM Dido, Ilse Oppelt, Justine Loots en Tristam Atkins.

Die regisseurs is Mia Breet en David Isaacs en die reeks word vir kykNET deur Paw Paw Films, ʼn onderafdeling van Penguin Films, vervaardig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wern ·

Waarom het die ander artikel hier, Sink, nie kommentaar nie? Is hierdie alweer n fliek om blankes as wrede werkewers af te maak?

Ronnie ·

Wern, ek weet nie wat ‘n wrede werkewers is nie, maar ek kan wel sê dat Sink ‘n ongelooflike kragtoer is in verlies en hoe om dit te verwerk. Kyk dit, jy sal nimmer spyt wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.