DStv kry nuwe Afrikaanse fliekkanaal

DStv het aangekondig dat sy Premium-intekenare vanaf 1 September vanjaar ʼn nuwe televisiekanaal, wat uitsluitlik Afrikaanse flieks vertoon, kan geniet.

Dié fliekNET-opwipkanaal was die afgelope paar jaar net tydens Desembervakansies beskikbaar. Dit het egter so goed gevaar dat daar besluit is om dit ʼn permanente kanaal te maak. fliekNET sal deel van kykNET vorm en op kanaal 149 aan Premium-intekenare beskikbaar wees.

Yolisa Phahle, uitvoerende hoof van algemene vermaak by MultiChoice, het tydens ʼn mediakonferensie gesê dié besluit is geneem in ooreenstemming met MultiChoice se plaasliketaalstrategie.

“Ons het kanale waarby ons Nigeriese kykers baie aanklank vind, met Nollywood-inhoud daarop. So wil ons ook vir ons Afrikaanse kykers, van wie daar baie is, plaaslike stories en flieks in hul taal bied,” het Phahle gesê.

Suzaan Keyter, reklamehoof van kykNET, sê fliekNET sal uitsluitlik Afrikaanse rolprente, kortfilms en dokumentêre vertoon.

“Dinsdag 1 September skop ons op ʼn hoë noot af met Die storie van Klara Viljee, die lokettreffer wat in 1992 vrygestel is met Anna-Mart van der Merwe in die hoofrol. Dit is dan net gepas dat Moedertjie, een van die eerste Suid-Afrikaans vervaardigde rolprente met klank, ook op die eerste dag gewys word.”

Moedertjie, wat in 1931 uitgereik is, is gegrond op JFW Grosskopf se toneelstuk In die wagkamer en vertel die verhaal van ʼn groep jong Afrikaners wat stad toe trek om ʼn beter lewe te gaan soek.

ʼn Pawpaw vir my darling en verskeie kortfilms wat hul debuut op die Silwerskermfees gemaak het, is ook op 1 September se skedule,” vertel Keyter.

Ander gewilde lokettreffers soos Vuil wasgoedSuurlemoenPad na jou hart en Lien se lankstaanskoene, asook klassieke speelfilms soos DebbieDr. Marius Hugo en Die geheim van Nantes sal ook te sien wees.

Verskeie Silwerskermfees-kortfilms, filmreekse soos Ons stories, asook dokumentêre films oor legendes soos Mimi Coertse en Katinka Heyns sal ook vertoon word.

Keyter sê fliekNET gaan ook oorspronklike inhoud, spesifiek vir dié nuwe kanaal, skep.

“fliekNET gaan in sy nuwe permanente gedaante veel meer bied as net voorheen vervaardigde speelfilms, kortfilms en dokumentêre reekse en films. Die TV-speelfilms wat in 2018 op ʼn Sondagaand in die 20:00-tydgleuf uitgesaai is, was baie gewild en daar word beplan om nog meer van hierdie TV-speelfilms te vervaardig; ʼn verdere bewys van kykNET se belegging in die plaaslike film- en TV-bedryf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Annelie ·

Hmmm, dis goed.
Ons het al al die flieks gesien, weet nie wat gaan hulle ons nog kan wys nie. (hopelik Griekwastad).
Ongelukkig is die afrikaanse flieks te min om voortdurend nuwe flieks te wys.
Sal maar sien hoe vinnig ons verveeld gaan raak.

Hendrik Marthinus ·

O genade tog, oor n maand moet Hulle die kanaal sluit, want Afrikaanse kanale is mos onwettig.
Dit gaan sommige kykers vreeslik pyn veroorsaak want dus nie vir die meerderheid S – Afrikaners bedoel nie.
Annelie is 100% korrek, al die flieks al gesien, hopenlik is daar darem 1 fliek n week wat die moeite werd gaan wees om na te kyk.

Kakamiet ·

Nee wat. Julle ondersteun nie Afrikaans oor die algemeen nie en stem om knieg te buig ook. Afrikanse geld lyk my is goed genoeg. Hou verby maar.

Santjie van Soendal ·

Opgewonde oor die Afrikaanse Fliekkanaal. Hoop “Eintlik nogal baie” sal ook daarop uitgesaai word.

Chappie ·

Maar net n manier om die intekenare wat hulle alreeds verloor het en tans besig is om te verloor, te probeer hou/terug te kry. Dankie maar nee dankie.

Karinda ·

Herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings … herhalings …………….

Francois Le Cochon ·

Oor en oor dieselfde. As kind het ons dieselfde fotoverhaal boekie oor en oor gelees (en gekyk). Daarna die boekie middeldeur geskeur. Dan het ons weer twee nuwe verhale.

Matrone ·

Hoekom kan nie almal die kanaal 149 kry nie.. Ek betaal wel vir n goedkoper pakket maar kyk steeds kanaal 144..145 en 147…Is my geld dan nie goed genoeg nie. Suur druiwe is ek nie, maar ja daar is ook net soveel afrikaanse flieks dat herhaling jou seker teen die mure gaan laat uitklim.

Francois Le Cochon ·

Multichoice wil nie he^ dat wit, bruin en swart afrikaanssprekendes in die middel- en laer inkomste groepe afrikaanse flieks kyk nie.

Moedeloos ·

Asb tog net nie ou herhalings nie en die klank wat baie swak is nie. Dan kan dit maar verby hou

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.