Duisend hoeras vir ‘Ontbytsake’

Dawie Roodt (Foto: kykNET)

“Al wat ek kan sê, is: Moenie program 1 000 misloop nie!”

Só antwoord die ekonoom en aanbieder Dawie Roodt op die vraag watter verrassings die televisieprogram Ontbytsake vir die toekoms beplan. Dié tydskrifstyl-program, wat ontwerp is om alternatiewe Afrikaanse kykgenot tydens naweekoggende op kykNET te verskaf, bereik vandag ʼn mylpaal met die 1 000ste episode wat uitgesaai word.

Roodt was van die begin af deel van die program. Maar dit was nie die plan nie, hy het eintlik per ongeluk betrokke geraak, vertel hy. “Die uitvoerende regisseur, Johann Joubert, het my met ʼn slap riem gevang. Hy het voorgegee dat hy ʼn onderhoud met my wil doen, toe was dit al die tyd ʼn oudisie.”

Volgens Roodt het die program baie ontwikkel en verbeter van daardie eerste episodes af. “ʼn Mens probeer maar verskillende goed en kyk wat werk, maar die eintlike idee is steeds dieselfde.”

Daar gebeur vreeslik baie werk van die lug af waarvan mense nie weet nie. Die aanbieders kry gewoonlik al die erkenning, maar hulle doen eintlik baie min, sê Roodt. Agter die skerms word daar voltyds gewoel en gewerskaf deur regisseur Melinda Meyer, produksiebestuurder Maderi Louw van Blerk en die ander spanlede.

Wanneer hy oor die afgelope 1 000 uitsendings terugdink, is dit vir hom baie moeilik om ʼn hoogtepunt uit te sonder, want daar was net te veel en elke program is anders. “Maar ek moet sê, om my kinders as ʼn verrassing op my verjaardag daar te hê was vir my baie spesiaal.”

Sy werk is wel so af en toe uitdagend wanneer tegniese probleme insluip of as gaste net “ja” en “nee” op vrae antwoord. Tog is dit ʼn druppel in die emmer van goeie – en snaakse – oomblikke, sê Roodt.

“Daar was al soveel lawwe kere wanneer gaste ʼn gek van my gemaak het. Dowwe Dolla wat “Kameeltoon” sing, Leon Schuster wat my uitvang met ʼn houtlepel, Granite wat my van die stoel af donner … Ek moet ook met byna elke program die een of ander tyd vinnig improviseer, veral wanneer dit by name kom. Ek het ʼn probleem om name reg te lees.”

Ontbytsake vier Saterdag sy 1 000ste episode. (Foto: Verskaf)

Met honderde gaste wat Roodt al verras, vermaak en beïndruk het, is dit moeilik om enkeles uit te sonder. Tog het ʼn paar ʼn besondere indruk op hom gemaak, soos mej. Dwergie, sy gesprek met ʼn Downsindroom-lyer, die blinde Hein Wagner en die paleoantropoloog prof. Lee Berger.

Roodt is trots om deel van die ontbytsake-span te wees, omdat dit ʼn vermaaklike oggendprogram is wat iets vir almal bied – van weer, kook, politiek en ekonomie tot gesprekke met interessante gaste. Dit alles in ʼn ontspanne atmosfeer.

Ontbytsake het sy eie lewe en roetine baie verander. “Dit neem een dag uit my week, maar terselfdertyd beteken dit baie vir my onderneming. Die belangrikste is dat dit die dag in die week is waarop ek die geleentheid kry om van my ‘gewone’ werk te ontsnap en pret te hê!”

Sal hy nog vir lank die gesig van Ontbytsake bly? “Ek dink hulle sal my vir nog ʼn rukkie verduur – hoofsaaklik omdat ek so goedkoop is. Goeie aanbieders kos geld!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

Waarom net die heel rykes na op-datum-Afrikaanse programme mag kyk, is bo mens se begrip. Ontbytsake is ‘n onbekende in baie Afrikaanse huishoudings se daaglikse bestaan. Om tv in Afrikaans af te skaal tot ou muwwe Lekker en & Kie is ‘n klap in die gesig van ons naaste taalgenote. Waarom so duur? Koerante is klaar taboe vir Afrikaanses in verskeie gebiede en net dié wat internet kan bekostigbaar g mag Afrikaans lees. Maar almal kla oor die US. Wat is die verskil. Sies vir julle!

Jurie

Die program is net een lang advertensie.

Dries

Een program wat ek nie mis nie.

Fae Fubar

Ontbytsake is myns insiens een van die beste programme op TV. Ons kyk sommige episodes meer as een keer.

Shady

Beste program