Eerste episode van ‘Alles Malan’ skop met spoed af

Deur Ilza Roggeband

Albert Maritz as Derik Malan. (Foto: Verskaf)

Dit is drie jaar nadat ons die Malans van die eerste seisoen gegroet het. Elani (Greteli Fincham) se klein Junior is ’n blondekop-seuntjie, Freek (Mateo Olivier) is in graad 11 en Lee-Ann (Nicole Fortuin) en Nico (Sean-Marco Vorster) wag op hulle eersteling.

Intussen is Derik (Albert Maritz) se gesondheid glad nie wat dit moet wees nie, maar hy steek dit veral vir Brenda (Elsabé Daneel) weg. Selfs toe sy dokter vir hom sê hy moet ’n operasie ondergaan en dat dit ’n kwessie van lewe en dood is, skop hy vas.

By Malan Vervoer gaan dinge nie beter nie. Frik (Ivan Zimmermann) doen sy bes om al die balle in die lug te hou, maar dit gaan broekskeur. Tessa (Nadia Valvekens) het weer begin werk, maar in haar geval is sy baie suksesvol en daar is selfs sprake van ’n verhoging. Gaan Frik sy trots in sy sak steek en haar hulp aanvaar wanneer sy dit aanbied?

Mateo Olivier as Freek. (Foto: Verskaf)

Freek se biologiese ma, Cathy (Kay Smith), en haar gesin het Paarl toe getrek om nader aan hom te wees. Is bloed dikker as water of sal sy lojaliteit altyd by die Malans lê? Freek is ook tot sy ore toe verlief op Jessica (Chelsea Thomas) en dit lyk of die gevoel wedersyds is.

Johan (Brent Vermeulen) en Elani is nog ’n paartjie, maar hy los ’n bom toe hy vir Elani sê hy gaan sy studie staak en in Suid-Amerika werk. Is dit die einde van hulle verhouding?

Die episode eindig op ’n hoogtepunt met Lee-Ann en Nico se klein Nina wat met ’n tuisgeboorte in haar ouma en oupa se huis gebore word. Aan die begin van die episode sê Brenda sy is bang die Malans lewe by mekaar verby, maar aan die einde – wanneer Derik weer ’n foto van hulle saam neem – is dit duidelik dat die Malans deur dik en dun sal saamstaan.

  • Alles Malan is elke Dinsdagaand om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.