Eie hartseer help Clint Brink in sepierol

Clint Brink van Binnelanders. (Foto: Verskaf)

Die akteur Clint Brink kwyt hom só goed van sy taak as dr. Steve Abrahams in die kykNET-hospitaalsepie Binnelanders dat hy vroeër vanjaar met ʼn Suid-Afrikaanse film- en televisietoekenning (Safta) vir dié rol vereer is.

Kykers van die gewilde sepie is dit eens dat Brink uitblink as akteur in die storielyn waarin hy en Ilne Nienaber, wat die rol van sy lewensmaat, dr. Elana Bester, vertolk, tans te sien is.

Steve en Elana se lewens word deurmekaar gekrap wanneer haar broer, George (Tiaan Rautenbach), en sy vrou, Nellie (Beáte Opperman), hulle susterskinders by Elana-hulle wil afrokkel.

Wat presies George en Nellie in die mou voer, is nog nie duidelik nie en kykers krap veral kop oor hoekom die egpaar, wat self drie seuns en duidelike huweliksprobleme het, so gretig is om die kinders van Elana en Steve, wat op die punt was om die kinders aan te neem, weg te neem.

Intussen het George se viertrekvoertuig van ʼn heuwel by die hospitaal afgerol nadat oom Rodney (Wilson Dunster) die voertuig met syne gestamp het. Die viertrekvoertuig het Elana teen ʼn muur vasgepen en ʼn kraan wat in die muur was, het haar lelik beseer.

Volgens Brink (40), wat sedert 2015 deel is van die Binnelanders-familie, het sy persoonlike hartseer in die verlede hom gehelp om in Steve se skoene te staan tydens die skiet van dié intense tonele.

Brink was in 2002 saam met sy destydse meisie, die aktrise Marubini Mogale, en haar suster, Lerato, in ʼn ernstige motorongeluk betrokke. Brink en Lerato het ligte beserings opgedoen, maar Marubini het gesterf.

“Dit wat ek vir jare na die ongeluk moes deurgaan, het my insig gegee wat ek kon gebruik en met my karakter en kollegas deel. In jou lewe gaan jy deur moeilike goed en ʼn mens weet nie altyd hoekom nie.

“Ons vra onsself af of dit nodig was om daardeur te gaan, maar hier staan ek vandag, en die Here is goed vir my, en ek boer konstant vooruit. Kuns gee jou die geleentheid om die seer van die lewe in iets mooi te omskep.”

Clint Brink as dr. Steve Abrahams in ‘n toneel uit ‘Binnelanders’. (Foto: kykNET)

Brink, wat intussen met die Namibiese skoonheid en Survivor South Africa-deelnemer Steffi Brink getroud is, sê hy glo Binnelanders se betowering lê in die manier waarop die ervaring van die stories vir die kyker verpak word.

“Die storie raak baie aan die fisieke en geestelike toestand van die mensdom en kykers kan nie genoeg daarvan kry nie omdat hulle daarmee kan vereenselwig. Die storie trek mense in en laat hulle voel hulle raak betrokke by die karakters.”

Die manier waarop die karakters in hulle rolle verdeel is, dra ook daartoe by. “Dit is belangrik dat stories vir akteurs gegee word wat hulle kan dra en wat hulle sterkpunte ten toon stel. Dit is die beste manier hoe ʼn akteur die storie kan dien.

“Ek is dankbaar dat Binnelanders genoeg vertroue in my het om my met gewigtige storielyne op te saal. Steve het al kanker oorwin, deur ʼn egskeiding gegaan, sy seun in ʼn motorongeluk verloor en nou gaan hy deur diepe waters saam met sy lewensmaat.

“Ek dink nie die kykers besef aldag hoe so ʼn emosionele storielyn sy tol op ʼn akteur kan eis nie. Jy moet oor en oor kwesbaar wees voor mense terwyl jy jou bes probeer om nie jou woorde te vergeet nie en jou energievlakke hoog te hou.”

Clint Brink en Ilne Nienaber in ‘n toneel uit ‘Binnelanders’. (Foto: kykNET)

Oor sy Safta-toekenning as beste akteur in ʼn sepie, is hy uiters beskeie. “In hierdie bedryf moet jy baie waaksaam wees om toekennings en applous om die verkeerde redes na te jaag.

“Baie mense het ná die tyd vir my gesê dit was long overdue vir my om die toekenning huis toe te neem, maar ek glo ek het dit op die regte tyd gewen. ʼn Vriend het my oë oopgemaak ten opsigte van wat die toekenning beteken in die groter prentjie van my loopbaan en daarvoor is ek nederig dankbaar.

“Vir my is die toekenning uiteindelik ʼn eerbewys aan die mense wat die pad saam met my gestap het en wat nog altyd geweet het dat ek hoë hoogtes sal bereik. Dit is vir al die moeilike tye en die opofferinge wat my ouers moes maak, vir die tye wat hulle laat moes werk en vir die lang ure wat ek op die gevaarlike treinstasies tussen die Paarl en Kaapstad moes trotseer om te studeer. Dit is vir al die dinge agter die skerms wat my vandag gebring het waar ek is.”

Binnelanders is weeksaande om 19:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kobus ·

Dis tog eenvoudig . Geld is die enigste rede waarom hulle die kinders wil aanneem.Daar is seker ‘n vet polis wat wag om opgeraap te word.

Peter Pan ·

Binnelanders raak nou net soos 7de Laan… Ek mis die ou Binnelanders met Stefanie en die ou karakters…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.