Eish, die liefde blom vir ‘OME’-deelnemers!

Nadia, Katja en Sonel het hul deksels gevind. (Foto’s: verskaf)

Elke pot het sy deksel, en ondanks die feit dat ʼn paar Op my eish!-deelnemers toe nou nie hulle deksel op die kassie in die vorm van Brendan Peyper gevind het nie, moes hulle nie te lank wag voordat liefde aan hul deur kom klop het nie.

Katja Pieters, Thelmané Wentzel, Sonel van der Walt, Nadia Olivier en Christine Kirkcaldy het ná die verfilming van die reeks elkeen liefde gevind, met Christine wat boonop onlangs verloof geraak het.

Maroela Media het by Katja, Sonel en Nadia ingeloer om te hoor hoe dit deesdae met hulle gaan en wanneer Kupido se liefdespyl hulle getref het.

Namibsroos se maat toe net om die draai

Katja Pieters het die afgelope paar weke diep in kykersharte gekruip, en nou is daar iemand wat net so diep in haar eie hart tuis geword het.

ʼn Week nadat die laaste episode van Op my eish! opgeneem is, was Katja terug in haar ouerhuis in Namibië. Sy onthou dit nog goed: Haar pa het al die pad van Kanada af kom kuier, en sy was net al te dankbaar dat sy iets gehad het om haar aandag af te lei.

Sy was in daardie stadium op soek na werk, aangesien sy besluit het om te bedank voordat die verfilming van Op my eish! afgeskop het.

“Ek het uitgevind dat daar ʼn koffiewinkel in Windhoek is wat ʼn bestuurder nodig het. Ek het met die bestuurder gepraat en hom mooi daarop voorberei dat ek binnekort in ʼn werklikheidsreeks gaan wees en dat ek nie weet wat presies dit vir my daaglikse lewe gaan beteken nie,” vertel Katja aan Maroela Media.

Dié bestuurder, Jonathan, was net te dankbaar dat hy iemand in die pos kan aanstel en het hom nie veel gesteur aan dié werklikheidstelevisie-besigheid nie.

Mettertyd het Katja en Jonathan al hoe meer tyd saam deurgebring, en naderhand kon hulle nie meer die vonk tussen hulle ignoreer nie, hoewel hulle vir ʼn wyle probeer het.

Katja en haar Jonathan. (Foto: verskaf)

Jonathan se ouers het lank voordat hulle uiteindelik begin uitgaan het vermoed dat daar iets tussen die twee blom, en Katja het ʼn hele paar keer vir haar pa gesê sy is bang dat Jonathan “verlief raak op haar”.

Toe Katja egter in Desember ʼn uitnodiging gekry het om saam met Jonathan en sy gesin by die see vakansie te hou, was die koeël deur die kerk.

“Op 17 Januarie het ek hom gevra om my kêrel te wees – dit is mos skrikkeljaar!

“Hy het egter later aan my erken dat hy self ook beplan het om my uit te vra.”

Dié twee se verhouding was maar nog in sy kinderskoene toe Op my eish! uitgesaai is, en Katja bieg dat dit ʼn moeilike proses vir hulle was om deur te maak.

Hulle kon vir maande nie saam in die openbaar gesien word nie, en dit was beslis ʼn uitdaging vir hulle om te sien hoe Katja se gevoelens vir ʼn ander man op so ʼn openbare wyse ten toon gestel word.

“Ons is daardeur, en ons het sterker by die ander kant uitgekom,” vertel Katja.

“Hy is ʼn wonderlike mens wat ongelooflik vrygewig is. Ons is deur hierdie uitdagende tyd saam, en Jonathan is bly dat hy nou my hand kan vashou wanneer ons saam in die winkels is!”

Nadia het haar vis gevang

Nadia Olivier het as 16-jarige ʼn brief vir haar toekomstige man geskryf. Dié droomman was ʼn boer, heelwat langer as Nadia en ʼn ridder op ʼn trekker wat haar hart sou wen en vir homself sou hou.

Dit is presies wat sy in haar Dawie gevind het, sê Nadia.

Sy was een van die eerste vroue wat huis toe gestuur is in die program, en wanneer sy vandag daaraan terugdink, is sy dankbaar sy kon nie langer bly nie.

“Alles werk uit soos dit moet. Ek kon seker meer uit my kassie geklim het, maar dit is net nie my persoonlikheid nie.

“Ek het besef dat ons vir hierdie ou gaan moet baklei en dat ek gaan moet uitstaan. Ek is oor die algemeen nie so ʼn mens nie. Wanneer daar lekkers uitgedeel word, gaan staan ek agter en wag dat almal anders eers lekkers kry.”

Dawie en Nadia. (Foto: verskaf)

Sy is egter vandag glad nie spyt dat sy vir die program ingeskryf het nie en beskou dit as deel van haar lewensreis wat haar gebring het tot waar sy vandag is.

“Buiten die  haatkommentaar, was dit ʼn baie goeie ervaring. Ek sal niks verander nie; die lewe is ʼn somtotaal van jou ervarings.”

Ná die program het sy besluit sy moet eerder vir ʼn wyle enkellopend wees en dat sy nie dadelik kans sien om weer na liefde te begin soek nie.

Haar hart het egter mettertyd versag, en teen November het sy die maatsoek-app Tinder afgelaai om te kyk of sy dalk nie ʼn spesiale iemand kan vind nie.

“Toe ek Dawie se profiel die eerste keer sien, was ek oortuig daarvan dat dit ʼn vals profiel moet wees. Hy is mooier as ʼn mens!

“Hy het op daardie tydstip in Amerika geboer, en ons kon eers in Desember ontmoet. Hy tick al my boksies; ek is ongelooflik gelukkig saam met hom.”

En ja, dié nuwe kêrel het al ʼn paar keer saam met Nadia gaan visvang, al sê sy hy sukkel soms ʼn bietjie.

“Al is sy passie nie so groot soos myne nie, is dit heerlik om hom by my te hê langs die viswaters.”

Rugbyspeler verower Sonel se hart

Sonel van der Walt het mense se aandag veral getrek met haar skertsende flikflooiery. Hoewel Brendan nie altyd op dieselfde manier gereageer het nie, het Sonel iemand gevind wat net so baie ogies vir haar maak soos sy vir hom.

Die Potchefstroomse skoonheid het haar Ernst al ontmoet voordat die verfilming van Op my eish! begin het, hoewel die liefde toe nog nie tussen hulle geblom het nie.

Ernst en Sonel. (Foto: verskaf)

“Ek kry bietjie skaam om dit te sê, maar ek het hom in ʼn kroeg in Potchefstroom ontmoet. Sy pa en my ouers was ook daar.

“Hy het toe al my nommer gevra, maar ons het nooit gesels nie.”

Nadat Sonel die verfilming van die program afgehandel het, het sy en Ernst mekaar weer gevind. Hulle het Oukersaand saam deurgebring en besef dat hulle vir mekaar bedoel is.

Ernst speel tans rugby in Frankryk, en die twee sien mekaar maar min, maar Sonel is vol vertroue dat sy haar pasmaat gevind het.

“Hy is net my mens. Ek het vir hom gesê dat hy Op my eish! kan kyk, maar dat ek dit nie aanbeveel nie.

“Ek gebruik steeds my pick up lines. Die verskil is, Ernst gee vir my dieselfde energie terug. Ek bloos sommer as ek net daaraan dink!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.