‘Ek is net Lisa’

Lisa van Rooyen (Foto: Mizanne Hattinhg/Maroela Media)

Lisa van Rooyen, oftewel Lisa met die Rooi Hare, soos wat sy beter bekend is, het in die afgelope paar jaar nuwe hoogtes in die vermaakbedryf bereik.

Met wortels in Potchefstroom, Noordwes, het die energieke jong vrou vir haarself ʼn netwerk van volgelinge geskep en dit is veral haar opvangvideo’s oor die gewilde werklikheidsreeks Boer soek ʼn vrou wat Suid-Afrikaners omtrent aan die gons het.

Waar dit begin het

As dogtertjie het Lisa al klaar groot drome gehad. “Ek het vir my ouers vertel dat ek net ʼn popster wou wees,” het sy vertel. Min wetend dat dié woorde eintlik ʼn soort toekomsblik vir Van Rooyen sou wees.

Sy vertel dat die begin van haar loopbaan voor die kamera egter ietwat van ʼn grap was. “Ek het in Pretoria musiek studeer. Ek het saam met my vriendinne rondgery, simpel goed aangevang vir die snaaksigheid daarvan.” Die Amerikaanse YouTube-ster, Jenna Marbles, het Van Rooyen geïnspireer om haar eie YouTube-kanaal te begin.

Die begin van haar bekende Boer soek ʼn vrou-opvangreeks het gekom terwyl sy na internasionale opvangvideo’s van The Bachelor gekyk het. Die eerste opvang-videoreeks wat sy gedoen het, was oor The Bachelor South Africa. Survivor SA het gevolg, en toe kom die deurbraakreeks oor Boer soek ʼn vrou.

“Ek het besef my video’s is Afrikaans, my kykers is Afrikaans – daarom het ek die reeks begin. En nou is dit drie jaar later.”

Oor Boer soek ʼn vrou

Van Rooyen erken dat sy vasgenael voor die skerm op Donderdagaande sit. “Ek kyk wel die episodes net een keer. Ek dink jou aanvanklike reaksie is snaakser as wanneer jy dit oor en oor kyk om met grappies vorendag te kom.”

Sy vertel dat die 5-minute-afsprake haar gunstelingdeel van die reeks se proses is. “Dit is nie net goed uit ʼn inhoudperspektief nie, maar dis waar mens kan sien watter meisies het ingeskryf – en om eerlik te wees, hou ek van die ongemaklikheid wat daarmee gepaard gaan.”

Sy sien die meeste uit na die moontlike flikflooiery in die seisoen wat voorlê. “In normale omstandighede flankeer die boere en die meisies bietjie, en dit was nie daar laas seisoen nie. Ek sien uit daarna om te sien hoe hulle flikkers gooi, dalk ʼn drukkie of twee – miskien ʼn skelm soen soos in ʼn vorige seisoen.

“Die drama, ek leef vir die drama,” het sy skertsend opgemerk.

Haar verhouding met die boere van seisoen 13 is sterk, vertel sy. “Hulle het uitgereik na my, en ons het so deur die internet vriende geword.” Van Rooyen vertel dat sy gereeld nog saam met van die boere kuier.

(Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Van Rooyen sê sy het die menslike aanslag van twee voormalige aanbieders, Minki van der Westhuizen en Nadia Beukes, geniet. “Dit was nog voordat ek my video’s begin maak het. Wanneer die meisies gehuil het, het hulle gehuil – en dit het my nou weer laat huil.” Sy en Marciel Hopkins, wat tans die reeks aanbied, het intussen ook al ontmoet en kon lekker saamkuier.

Om die video’s aan mekaar te slaan, is ʼn lang proses, vertel Van Rooyen. “Nadat ek die episode gekyk het, skiet ek die video, wat my gewoonlik ʼn uur neem. Ek wil gewoonlik nie dadelik redigeer nie, veral nie ná die glasie wyn of twee wat ek inhet nie.” Sy sê egter dat sy iets net moet duidelik maak: “Ek het al gehoor mense dink ek drink ʼn bottel wyn per video uit, wat glad nie die geval is nie. Ek drink gewoonlik een glasie wyn, miskien twee.”

Die bulletjie is egter die redigering van die video’s. “Ek staan gewoonlik om en by tien uur af aan die redigering van elke video.”

“Ek glo in liefde en ek glo in die Boer soek ’n vrou-proses. Kyk net al die suksesverhale.”

Oor onlangse sukses en gewildheid

Van Rooyen het 11 000 intekenaars op YouTube, 29 300 volgelinge op Instagram en byna 40 000 volgelinge op Facebook.

“Mens sien net die getal op die skerm, jy besef nie altyd hoeveel mense dit in werklikheid is nie.

“Dis vir my baie vreemd om te dink dat mense wat ek nie ken nie, my ken,” het sy uitgebrei oor haar groeiende gewildheid. “Dit begin al hoe meer gebeur dat mense my voorkeer en vra vir ʼn foto – maar ek is nou nie Kim Kardashian nie – ek is net Lisa, ek is net daardie meisie van Potch af.

“Daar is nie regtig druk van buite af nie – ek plaas meer druk op myself om gelukkig en opgewonde te wees. Ek moet myself partykeer kalmeer, en net onthou dat ʼn mens nie te alle tye gelukkig is nie.”

Daar is ook sekere dinge wat sy nie bereid is om te deel nie. “Ek hou van familiekuiers en lewe saam met my kêrel redelik privaat. Ek deel ook nie altyd my mening oor kontroversiële onderwerpe nie; ek voel net, nie almal hoef my mening te weet nie.”

Die suurknolle is nie vir Van Rooyen ʼn uitdaging nie. “Ek kry ten minste nie veel lelike kommentaar nie, en indien wel, steur ek my nie veel daaraan nie. As iemand voor my sou sit en my beledig, sou dit my meer ontstel het.”

Daar is wel een onverwagse voordeel wat Van Rooyen meegedeel het. “Ek het nie verwag hoeveel wyn ek sou ontvang nie. Ek drink nie regtig wyn tussen seisoene nie, aangesien dit nou vir my soos werk proe.”

Van Potchefstroom na die plaas

Van Rooyen en haar kerel, Rudolph van Niekerk (Foto: verskaf)

Van Rooyen en haar kêrel, Rudolph van Niekerk, het onlangs van Potchefstroom na ʼn wildsplaas buite Pretoria getrek.

“Potch is nou nie ʼn groot dorp nie, maar dit was ʼn groot aanpassing om iewers ver van ʼn winkel te wees. En om ver van my familie en vriende af te wees.”

“Ek is ook nie mal oor die spinnekoppe nie, dis asof my fobie net erger geword het,” het sy geskerts.

Die skuif was egter vir Van Rooyen soos ʼn asemteug. “Ek het gemengde gevoelens oor Potch, aan die een kant is dit my huis, maar aan die ander kant weet ek dat ek nie noodwendig weer daar sal wil bly nie.”

Hou Van Rooyen se YouTube-kanaal en Facebook-blad dop vir die befaamde Boer soek ’n vrou-opvangvideo’s wat op Sondae uitgereik word. Sy doen ook op Donderdagaande ʼn program-ná-die-program- regstreekse uitsending op haar Facebook-blad.

 

Maroela Media het bietjie met Lisa by Ludwig’s Roses gesels. Kyk die video hier:

 

Kyk haar nuutste opvang -video hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leon ·

Lisa! jy moet nog die res van “Ram vir ‘n Rus” doen – die drama’s daar bleik veel erger te wees :-P

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.