‘Elders’: Erns onderneem ‘pelgrimstog van hoop’ in nuwe seisoen

Erns Grundling. (Foto: Verskaf)

In Junie vanjaar was Suid-Afrika in vlak 3 van ʼn nasionale afsondering weens die Covid-19-pandemie. Dit het egter nie vir Erns Grundling, joernalis en aanbieder van Elders, gestuit om weer een voet voor die ander vir die derde seisoen van dié gewilde kykNET-reeks te sit nie.

Vir die nuwe seisoen, Elders: Pelgrimstog van hoop, het Grundling en ’n klein kameraspan sowat 350 km afgelê – van die Kaapse wynlande tot die Overberg; van sy huis in Brooklyn, Kaapstad, tot die vuurtoring by die mees suidelike punt van Afrika in Agulhas.

Die span het op 1 Junie begin stap en die Pelgrimstog van hoop, wat in 2014 deur die teoloog Frederick Marais uitgelê en ontwikkel is, in yskoue weersomstandighede en met streng Covid-19-regulasies wat geld aangedurf.

Verskeie kerke, sendingstasies en monumente wat vryheid vier, lê op dié Kaapse roete. “Ek het sowat twee jaar gelede vir Frederick [Marais] en Adrienne Bester van Communitas op Stellenbosch ontmoet,” sê Grundling.

“Die Pelgrimstog van hoop was Frederick se visie nadat hy in 2012 die Camino de Santiago, ʼn pelgrimstog in Spanje, gestap het. Hy het in 2014 die roete van Robertson – later Stellenbosch – tot by Agulhas uitgelê en so het die pelgrimstog ontstaan.”

Grundling vertel hy het nog altyd in sy agterkop gehad om die Pelgrimstog van hoop aan te durf, maar dat hy vir die derde seisoen van Elders beplan het om na Suid-Amerika of China te reis.

Dié planne is in die wiele gery deur die Covid-19-pandemie, maar volgens Grundling is hy heimlik dankbaar daarvoor.

“Dit het my die geleentheid gebied om ʼn plaaslike seisoen van Elders te skiet. Ek het voorheen nooit regtig die geleentheid of tyd daarvoor gevind nie. Toe gebeur daar ʼn pandemie en ʼn inperking en dit het op ʼn vreemde manier die gevolg gehad dat ek uiteindelik hierdie roete kon gaan stap.

Erns Grundling en Dana Snyman op die Pelgrimstog van hoop. (Foto: Verskaf)

“Ek kan nie wag om alles wat ek beleef het met die kykers te deel nie, want dit was só ʼn inspirerende maand op die pad.

“Ons moes redelik uit die boks dink in terme van hoe ons die reeks gaan maak. Dit is een ding om te gaan stap, maar dan moet jy dit in 13 episode-reeks omskep wat die kyker geïnteresseerd hou.”

Een van die span se grootste uitdagings was om gesond te bly en nie die virus op te doen nie. “Ons het oral die protokol so nougeset as moontlik probeer volg. As enige van ons vyf ouens in die span Covid-19 sou opdoen of selfs net simptome van ʼn ander siekte sou begin toon, sou ons die verfilming onmiddellik moes staak en in selfisolasie moes gaan.”

Hy vertel hy het sowat 65 onderhoude gedoen tydens die skiet van die seisoen. “Ons het met die intrapslag besef mense is uitgehonger vir gesels weens die inperking.”

Verlede jaar het Grundling en sy span Japan besoek vir die tweede seisoen van Elders. Dié seisoen is in April vanjaar met ʼn Safta vir beste leefstylprogram bekroon.

Sy ervaring op die Pelgrimstog van hoop was amper heeltemal in teenstelling met dié in Tokio, waar hy tussen honderde ander mense deur die bekende Shibuya-kruising moes beur en die malende groepe mense in Osaka moes trotseer.

“Dit was [hierdie keer] baie stil by tye, maar dit is ook hoekom ek gaste genooi het om van die dele van die roete saam met my te stap.”

Gaste, wat bekendes soos Dana Snyman, Kabous Meiring, Dave Pepler, Hemelbesem, Duane Vermeulen en Lynelle Kenned insluit, verken saam met Grundling die roete.

“Kabous het al voorheen vir my foto’s gestuur terwyl sy op staptogte was en is self lief vir stap. Ons is ook goeie vriende en dit was vir my lekker om haar te kon nooi om saam met my te stap daar buite Pniel op pad na Franschhoek.

Grundling sonder die ekoloog Dave Pepler uit as een van die interessantste gaste wat hy op die program gehad het.

“Hy is iemand wat ek nog altyd net op televisie en sosiale media sien en ek het ʼn kans gevat en hom genader om op die program te verskyn. Ons het mekaar die eerste keer op Genadendal ontmoet. Ek het nog altyd gedink hy is die naaste wat ons aan ʼn boere [David] Attenborough gaan kom, maar nadat ek tyd saam met hom deurgebring het wil ek amper sê Attenborough is die Britse Dave Pepler,” skerts hy.

Twee van sy gaste in Elders: Japan, Johan Symington en die Springbok-rugbyspeler Duane Vermeulen, maak ook weer ʼn verskyning in Elders: Pelgrimstog van hoop.

Erns Grundling en Lynelle Kenned op die Pelgrimstog van hoop. (Foto: Verskaf)

“Duane het ʼn stukkie saam met my gestap buite die Hemel-en-Aarde-vallei. Dis nou natuurlik nadat die Springbokke die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan gewen het verlede jaar. En Johan het teruggetrek van Tokio af Sandbaai toe naby Hermanus, so ek en hy het ook vir ʼn pizza ontmoet – in ʼn leë restaurant hierdie keer.”

Volgens Grundling lê die bekoring van stap daarin dat dit net só eenvoudig is soos om een voet voor die ander te sit.

“Jy het nie noodwendig ʼn klomp bybehore nodig nie. Dit is so deel van menswees om te stap. Ek dink stap, veral as jy dit in die natuur ook bietjie doen, het die manier om jou net in die oomblik in te trek. Ons aandag word so baie afgelei deur selfone en skootrekenaars en eindelose e-posse en as jy ʼn lang stappie vat gee dit jou die geleentheid om jou gedagtes af te skakel.

“Ons word so meegesleur deur die malende gedagtes dat ons vergeet ons is die enigste entiteit wat kan halt roep. Stap help my om, ironies genoeg, ʼn treetjie terug te gee van die geraas.”

Elders: Pelgrimstog van hoop is te sien om 20:00 op Woensdae op kykNET, DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.