Ellen DeGeneres wuif kassie vaarwel

Ellen DeGeneres in 2020 op die 62ste jaarlikse Grammy-toekennings by die Staples Center in Los Angeles, Kalifornië. (Foto: Frazer Harrison/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Ellen DeGeneres, ster van die Amerikaanse geselsprogram The Ellen DeGeneres Show, het Woensdag aangekondig die program kom ná 19 seisoene tot ʼn einde.

Die 63-jarige aanbieder, skrywer, vervaardiger, aktrise en komediant het dosyne Emmy-toekennings vir die program ingeoes.

Sy het Woensdag benadruk dat haar besluit om die program te beëindig niks te doen het met die aantygings wat die afgelope jaar gemaak is oor ʼn ongesonde werkomgewing gevul met boeliery, rassediskriminasie en seksuele teistering nie.

Voormalige en huidige personeellede voer aan dat The Ellen DeGeneres Show ʼn onaangename plek is om te werk en kykersgetalle neem geleidelik af.

“Wanneer jy ʼn kreatiewe mens is, het jy gedurig nodig om uitgedaag te word. So goed soos wat die program is, en soveel pret soos wat dit is, is dit net nie meer ʼn uitdaging nie,” het DeGeneres aan The Hollywood Reporter gesê.

DeGeneres het verlede jaar ná klagtes van werknemers van die program erken dat daar probleme is en het om verskoning gevra.

DeGeneres is nie self van enige oortredings beskuldig nie, maar drie senior vervaardigers is afgedank.

‘Be kind’-beweging

Dinge het vererger vir die komediant toe die akteur Brad Garrett, wat ses keer op die program verskyn het, in Augustus verlede jaar op Twitter geskryf het: “Jammer maar dit kom van bo af @TheEllenShow. Weet van meer as een wat sleg behandel is deur haar. Algemene kennis [sic].”

DeGeneres, wat haar handelsmerk gebou het op die slagspreuk “Be kind”, het Woensdag oor die nadraai van die aantygings gepraat.

“Dit het my baie seer gemaak, ek bedoel, baie. Maar as ek wou ophou daaroor, sou ek nie hierdie seisoen terug gekom het nie. So, dit is nie hoekom ek stop nie. Al waaroor ek omgegee het, was om vriendelikheid en medelye te versprei en alles waarvoor ek staan is aangeval. So, dit het my vernietig, eerlikwaar.”

DeGeneres, wat getroud is met die aktrise Portia de Rossi, dink glo al jare daaraan om die program te beëindig.

Kykersgetalle het sedert September met meer as die helfte afgeneem na slegs 1,2 miljoen kykers per episode.

DeGeneres het Donderdag vir Oprah Winfrey as ʼn gas op die program om te gesels oor die jongste verwikkelinge. Die laaste episode sal in 2022 uitgesaai word.

DeGeneres is ook die mede-vervaardiger en het sowat $84 miljoen verdien verlede jaar, meestal te danke aan die program. Volgens Forbes-tydskrif het dit haar die 12de hoogs betaalde bekende ter wêreld gemaak.

Die program het ʼn kort produksiebreuk geneem in Desember verlede jaar toe Covid-19 by DeGeneres gediagnoseer is.

“Mense vra definitief hoekom ons nie nog ʼn bietjie langer voortgaan nie, maar 19 jaar is ʼn baie lang tyd om enigiets te doen. Ek is nie elke dag vol glimlagte nie, maar my bedoeling is nooit om iemand seer te maak nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pampoen ·

Nou gaan as nog vyf jaar kyk na al die uitstaande episodes en heruitsendings …. SUG!

MakersMark ·

Nee te ongeskik en seksisties vir die mense wat saam met haar moet werk. Niks met “woke” te doen nie. As sy “woke” was sou sy nie so opgetree het nie.
Good riddance!

VaalDonkie ·

wonder hoekom sy ouers hom ‘n meisie-naam gegee het .

ES ·

Almal wil so graag “celebrities” word maar min mense besef hoe donker daardie wereld kan wees.

En die slagspreuk “waar daar ‘n rokie is, is daar ‘n vuurtjie” is altyd waar.
Hierdie mense dink hulle raak so magtig dat hulle mense behandel net soos hulle wil.

Jammer Ellen, jy het dalk die wereld geflous vir baie jare, maar nou het jy jou raklewe bereik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.