Ellen se kletsprogram groet vandag vir oulaas

Ellen DeGeneres. (Foto: Valerie Macon/AFP)

Ná 19 seisoene en 3 000 episodes kom Ellen DeGeneres se immergewilde TV-kletsprogram vandag (Donderdag) tot ’n einde.

Die program wat propvol Hollywood-sterre, prettige aktiwiteite en kosbare oomblikke was, het miljoene kykers wêreldwyd vasgenael voor die TV-skerm gehou.

Die 64-jarige aanbieder, skrywer, vervaardiger, aktrise en komediant het dosyne Emmys met die program ingeoes.

“Toe ons die program in 2003 begin het, het die iPhone nog nie bestaan nie. Sosiale media het nie bestaan nie. Ons het die wêreld sien verander, soms met goeie veranderinge, soms nie,” het De Generes verlede maand ná die vooraf-opname van die slotepisode gesê.

Jennifer Aniston, wat die Ellen DeGeneres Show se eerste gas was en deur die jare talle kere na die program teruggekeer het, sal in die slotepisode te sien wees.

In 2020 het die wêreld begin gons oor die beweerde ongesonde werksomstandighede wat op die stel van die program geheers het.

DeGeneres het egter met die aankondiging van die einde van die kletsprogram in 2021 benadruk dat die einde van die program nie gepaard gaan met aantygings van boeliery, rassediskriminasie en seksuele teistering wat teen haar gemaak is nie.

Sy het in 2020 ná klagtes van werknemers van die program wel erken dat daar probleme is en het om verskoning gevra.

DeGeneres is nie self van enige oortredings beskuldig nie, maar drie senior vervaardigers is afgedank.

Die kletsprogramaanbieder wat getroud is met Portia de Rossi, het in die laaste paar weke van die program onder andere met Oprah Winfrey, Justin Timberlake, Michelle Obama en Kevin Hart gesels.

“Mense vra gewis hoekom ons nie nog ʼn bietjie langer voortgaan nie, maar 19 jaar is ʼn baie lang tyd om enigiets te doen. Ek is nie elke dag vol glimlagte nie, maar my bedoeling is nooit om iemand seer te maak nie,” het DeGeneres tydens die aankondiging van die program se einde verlede jaar gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hannelie ·

Ek het dit nooit gekyk nie….daarom sal ek nie my mond uitspoel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.