Elvis Blue is aan’t bou

Elvis Blue. (Foto: Francois Olivier)

Elvis Blue, oftewel Jan Hoogendyk, het met ’n hart vol hoop in die ry gaan staan om aan die sesde seisoen van die gewilde Suid-Afrikaanse Idols-sangkompetisiereeks deel te neem. Vandag is hy ʼn huishoudelike naam wat reeds diep spore in Suid-Afrikaanse gehore se harte getrap het.

Begin van ‘Blue’

Blue, toe 30 jaar oud, het al ʼn vrou en kind gehad toe hy aan Idols se deure gaan klop het. Die geleenthede wat die sangkompetisiereeks aan hom gebied het, het sy loopbaan op ʼn splinternuwe trajek geplaas.

“Ek was ʼn voltydse musikant, en niemand het na my musiek geluister nie. Ek was redelik desperaat.”

Hy erken dat hy effe snobisties oor sy musiek was. “Ek het gedink dat ek dit kon maak sonder die program. Ek het nie. Toe ek 30 tref, het my vrou my aangemoedig om vir Idols in te skryf.”

Hy het besef dat die Idols-inskrywing enige rigting kon inslaan.

“Jy is baie gelukkig as jy die geleentheid kry, jy is nóg gelukkiger as daar ewe skielik ʼn klomp mense is wat van jou musiek hou. Mens dink natuurlik jy is goed genoeg om die kompetisie te kan wen.”

Die ervaring het egter talle vraagstukke op die voorgrond geplaas.

“Is ek goed genoeg? Miskien. Is ek dalk beter as van die ouens? Ja. Is ek dalk slegter as van die ouens? Ja. Is dit my tyd? Miskien.

“Ek is ʼn realis. Ek het al talle kere gevoel dat iets vir my moet gebeur, dan bly daardie deur toe. Dis nie my skuld nie, dis net hoe die lewe werk. Ek het geweet dat daar ʼn moontlikheid was dat ek die program kan wen, maar ek het ook geweet dat ek dit kan verloor.”

Hy het in 2021 sy album Meer as genoeg uitgereik, twee jaar na die album Jou huis. Blue spog met drie platinum- en twee goue albums, asook ʼn lang lys van toptien-treffers.

Blue het ook al die verhoog gedeel met van sy eie musiekhelde soos James Blunt en Bruce Springsteen, asook Bon Jovi toe die manne in Suid-Afrika opgetree het. Daar is ook ʼn hele paar indrukwekkende trofees, waaronder talle Ghoema-toekennings, in sy spogkabinet.

Elvis-Blue

(Argieffoto)

Musikale agtergrond

Blue het in ʼn huis grootgeword waar musiek altyd in die kollig was. “My ma was ʼn klassieke klavieronderwyseres en my pa ʼn predikant. Ons het gedurig na klassieke musiek in die huis geluister.”

Hy erken dat hy sy ma se klavierlesse keer op keer van die hand gewys het. “Ek is nou spyt daaroor; ek moes dit later self leer speel.

“Vandat ek sestien jaar oud was, het ek geen ander droom gehad as om te sing en musiek te skryf nie. Dit was eintlik baie voordelig vir my. Baie outjies voel daardie sekuriteit van ʼn maandelikse salaris is baie meer aantreklik, dan los hulle musiek. Ek was gelukkig, ek was net te onnosel om enige iets anders as musiek te doen,” het hy geskerts.

Blue het ook ʼn draai oorkant die waters gaan maak om sy sangtalent in die strate van Londen en Skotland te deel.

“Die jare voor Idols het vir my geleer hoe om vas te byt. Dit gee jou darem iets om oor te skryf.

Blue het aan die einde van die sesde seisoen van dié talentsoekprogram koning gekraai, maar dit was slegs die begin.

Nuwe uitdagings

Die nuutste projek in dié veelsydige blou-oog man se hande is die herlewing van ʼn ou bus. Blue en sy vrou, Chireze, is besig om vir dié bus ʼn nuwe baadjie aan te trek, en beplan om daarmee die land plat te toer.

“Dit was eintlik so ʼn bietjie van ʼn grendeltyd-idee gemeng met ʼn droom wat ek en my vrou nog altyd gehad het. Ons sê al jare dat ons een dag ʼn bus gaan bou; ons hou nie eintlik van karavane nie. Aangesien ek tydens die grendeltydperk nie so baie kon sing nie, moes ons met nuwe sake‑idees vorendag gekom het,” het Blue aan Maroela Media vertel.

Die egpaar beoog om aan dié bus talle nuwe rolle toe te wys. Van koffiewinkel op wiele, ʼn toerbus tot ʼn Airbnb waar gaste hul koppe op die kussings van die interessante rusplekkie kan neerlê.

Die omskepping van die bus het ook aanleiding gegee tot ʼn televisieprogram, Elvis B(l)ou, wat eersdaags op Via-TV uitgesaai word. Hier sal kykers ʼn unieke blik op die ombou van die bus kry.

Elvis Blue (Foto: Maroela Media)

Blue, die koffie-entoesias

Die inperkingstyd het talle diamante in Blue se agtertuin opgelewer. Een van dié diamante is “Elvis Brew Co”, die koffiewinkel oorkant die lughawe in sy tuisdorp George, wat lank in Blue se drome gelê en prut het.

“ʼn Ruk vóór die grendeltydperk het ek ernstig begin raak oor baristawerk. Die droom om ʼn koffiewinkel oop te maak, het net groter geword. Die grendeltydperk het die hele proses sommer in die vinnige baan gesit. So het die winkeltjie tot stand gekom. Ons is eintlik heel beïndruk daarmee; dis ʼn mooi spasie, die mense wat daar werk is wonderlik en dis ʼn lekker plek om te besoek.”

Oor sy passie vir koffie het hy laggend verduidelik dat hy nog altyd baie van koffie gehou het, nes hy nog altyd van wyn hou.

“Hoe ouer jy word, hoe meer hou jy daarvan.”

Die liefde vir koffie het die onafwendbare waarwording van Blue se padstal-droom ʼn behoorlike hupstoot gegee, aangesien dit alles by sy eie koffie-brousel begin het.

Elvis Brew Co is ook ʼn tuisverhoog wat gereeld deur Blue gebruik word.

  • Elvis B(l)ou word tans op Maandae om 18:30 op Via-TV, kanaal 147, uitgesaai.
  • Vir meer inligting oor waar Blue volgende in die land gaan draai, besoek sy webwerf of Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.