Elvis Blue verruil kitaar vir hamers en spykers

In ’n splinternuwe nuwe televisiereeks, Elvis B(l)ou, omskep die sanger en liedjieskrywer Elvis Blue en sy vrou, Chireze Hoogendyk, ’n 32-sitplekbus in ’n huis op wiele.

In egte Elvis-styl is hierdie bus nie net ’n gewone woonwa nie, maar kry ook ’n verhoog op die dak.

Die reeks bevat ses episodes wat op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai word en wys hoe Elvis en Chireze die ou bus uitbreek en plek maak vir hul nuwe planne.

Die idee vir die “Elbus” het tydens die inperking ontstaan toe die musiekbedryf ’n knou gekry het. Dit was ’n projek wat die Hoogendyks nog altyd wou aanpak.

“Ek is nie baie handig nie,” bieg Elvis. Sy gesukkel om ’n “portret reguit te hang” het hom egter nie gekeer nie – hy en sy gesin hou immers baie van doen-dit-self-programme.

Die kykers sien hoe dié egpaar op hulle voete kan dink en probleme op ’n kreatiewe manier oplos. Tussendeur die onverwagse moeilikhede wat gepaardgaan met so ’n projek, is daar ook uitdagings waarin Elvis en Chireze teen mekaar moet meeding.

Soos met die meeste opknappings en verbouings is daar ’n paar struikelblokke wat kykers eerstehands op die program sal sien – soos wanneer die bus langs die pad breek, of toe Elvis aan die bedrading werk en amper die hele projek pootjie.

Elvis Blue in ‘Elvis B(l)ou’. (Foto: Verskaf)

Kykers sien ook hoe Elvis sy kode 14-rybewys moet kry vir dié rondreishuis, en in die finale episode vind die groot onthulling tydens ’n Elvis Blue-konsert op die dak plaas.

Eon Coetzee, die program se regisseur en vervaardiger, geniet veral Elvis en Chireze se humorsin in die reeks. “Die uitdagings wat hulle vir mekaar uitdink, is snaaks en maak dat ’n mens kliphard saamlag,” sê Coetzee.

Willie Leeuwner, die doen-dit-self-baas wat ook Elvis Brew help bou het, dra ook by tot die Elbus en sy droë humorsin sorg vir baie vermaak.

Elvis B(l)ou word in George geskiet op dieselfde eiendom as Elvis se padstal, Elvis Brew. “Hoe lekker dat VIA vir kykers die singende Elvis in ’n nuwe hoedanigheid kan wys: dié van doen-dit-self-kenner. Saam met sy vrou, Chireze, kan kykers sommer sien hoe al die self-doen-neigings deesdae lyk,” sê Azelia Morkel, VIA se kanaalhoof.

Skakel Maandag 21 Maart om 18:30 in op VIA, DStv-kanaal 147, vir die eerste episode van Elvis B(l)ou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.