Emmy-wenners op Showmax te sien

nicole-kidman

Nicole Kidman by die Emmys (2017) Foto: ANA

Die Primetime Emmy-toekennings is Sondagaand aangewys. Van die reekse wat die mees gesogte toekennings opgeraap het, is almal beskikbaar om te vraatkyk op Showmax.

Het jy geweet dat die Emmy-toekennings oor twee naweke plaasvind? Eerstens is daar die Creative Arts Emmys, wat reekse vereer vir kreatiewe en kunstige dinge soos produksie-ontwerp en klankredigering (en ook – en dit verstom ons nogal – gas-akteur en gas-aktrise). Die toekennings waaroor dit gons het Sondagaand (17 September) plaasgevind. Dis bekend as die Primetime Emmy-toekennings, en dis waar die beeldjies vir die “groot” pryse soos uitstaande hoofaktrise en -akteur uitgedeel is.

Op Showmax sal jy ’n klomp van die reekse vind wat pryse verower het in beide die Creative Arts en Primetime Emmys, asook ‘n klomp wat benoem is vir van die grootste toekennings wat vir baie opwinding sorg. Hierdie is die reekse wat jy nie wil misloop nie.

HBO se Big Little Lies

‘n Verslawende en spannende reeks wat die donker onderstrominge ontbloot wat onder die oppervlak van drie oënskynlik perfekte ma’s en hul kinders se lewens borrel. Reese Witherspoon en Nicole Kidman is beide benoem in die kategorie “Uitstaande aktrise in ’n beperkte reeks”, en Kidman het met die toekenning weggestap. Shailene Woodley is teenoor Emmy-wenner Laura Dern benoem as Beste byspeler. Alexander Skarsgård het die toekenning vir Beste manlike byspeler opgeraap en die reeks is ook aangewys as Beste beperkte reeks, Uitstaande regie van ’n beperkte reeks, Uitstaande rolverdeling, Musiekbegeleiding en Kontemporêre kostuums. Kyk dit nou »

Kidman en haar medester Reese Witherspoon het die reeks vervaardig. In hulle gesamentlike toespraak by die ontvangs van die prys, het Kidman ’n huldeblyk vir hul vriendskap gelewer. “Hierdie is ’n vriendskap wat geleenthede geskep het. Dit het geleenthede geskep vanuit frustrasie met die feit dat daar nie goeie rolle vir ons was nie,” het die 50-jarige Kidman gesê. Sy en Witherspoon het beide reeds Oscars en Golden Globes as beste aktrise gewen, en mens sou dink dat hulle kan kies en keur uit rolle. “So nou, meer goeie rolle vir vroue asseblief!”

Kidman het ook haar vriendin vroeër die aand gehuldig toe sy haar toekenning vir Beste Aktrise ontvang het, waarvoor Witherspoon ook benoem is. “Reese, ek deel hierdie toekenning met jou. Sonder jou sou ek nie hier gestaan het nie.”

“Dit was ’n verstommende jaar vir vroue in televisie,” het Witherspoon gesê, met verwysing na die dominansie van reekse wat op vroue-karakters fokus op ’n toekenningsaand waar

The Handmaid’s Tale en Veep onderskeidelik Beste drama en Beste komedie gewen het.

“Plaas vroue op die voorgrond van hulle eie stories, en maak hulle heldinne,” het sy die gehoor van TV-sterre en stermakers aangemoedig.

Toe sy haar toekenning vir Beste vroulike byspeler ontvang het, het Dern ook die historiese skaarste van vroue in die bedryf aangespreek. “Ek speel al toneel vandat ek 11 jaar oud is, en ek het nog net met ongeveer 12 vroue gewerk, so ek wil die Televisie-akademie bedank dat hulle ons reeks vereer.” Nadat sy HBO en Vallée bedank het, het sy ’n spesiale dankie vir Nicole en Reese se ma’s gehad “… omdat hulle nie net vir ons merkwaardige vroue gegee het nie, maar vroue wat wel belese is, en dis waarom ek nou rolle kry. Ek deel die toekenning met my kring van vier vroue. Ek voel baie trots daarop om vurige vroue en ma’s uit te beeld, om hulle ’n stem te gee.”

Kidman speel Celeste, ’n advokaat wat voltyds ma van ’n tweeling word, maar vasgevang is in ’n toksiese huwelik met Perry (Skarsgård). “Ons het die aandag op huishoudelike geweld geplaas,” het sy gesê toe sy die toekenning as Beste aktrise ontvang. “Dis ’n gekompliseerde en verraderlike siekte. Dit is veel meer wydverspreid as wat ons onsself toelaat om te besef. Daar is skaamte en geheimsinnigheid betrokke, en deur hierdie toekenning word die kwessie verder aan die lig gebring.”

Foto: HBO

 

The Big Bang Theory

Die program wat bleeksiele cool gemaak het! Sluit aan by hierdie groep geeky, strokiesverhaal-lesende, wetenskapsfiksie-kykende ouens soos hulle leer oor die lewe en die liefde. Die reeks het die Emmy vir Uitstaande veelvoudige-kamera redigering opgeraap. Seisoen 1-9 is beskikbaar op Showmax.  Kyk dit nou »

Foto: Warner

 

HBO se Veep

Die eerste drie seisoene van hierdie lagwekkende komedie oor ambisieuse, genadelose, fouterende politikus Selina Meyer is tans beskikbaar op Showmax. Die reeks was die gunsteling om die Emmy vir Uitstaande komediereeks te wen, en het toe ook met dié prys weggestap. Julia Louis-Dreyfuss het die Emmy vir Uitstaande aktrise in ’n komediereeks vir die sesde agtereenvolgende jaar gewen. Haar mede-spelers Anna Chlumsky, Tony Hale en Matt Walsh is almal benoem as Beste byspelers en die reeks het ook die Emmy vir Rolverdeling, Kinematografie en Produksie-ontwerp gewen. As jy dit nog nie gekyk het nie moet jy dadelik wegtrek – Veep word beskryf as die beste komedie wat tans op TV beskikbaar is.  Kyk dit nou »

Foto: HBO

 

Fargo

Tot dusver het Fargo al ses Emmys gewen, insluitende vanjaar se toekenning vir Uitstaande musiek-komposisie vir ’n beperkte reeks. Daar is ook meer benoemings as wat mens kan opnoem (insluitend Uitstaande beperkte reeks en Uitstaande aktrise en akteur in ’n beperkte reeks). Die donker komedie is gebaseer op die Coen-broers se gelyknamige fliek. Dis spannend, briljant geskryf en sal jou vasgevang hou met die ontkoping van ingewikkelde plot-punte in elke selfstandige seisoen. Seisoen 1 en 2 is reeds op Showmax, en Seison 3 is vroeg in 2018 op pad. Kyk dit nou »

 

The Late Late Show with James Corden

Dié program is vanjaar benoem as Uitstaande verskeidenheidsgeselsprogram en wenner van die Emmy vir Uitstaande interaktiewe program en Uitstaande spesiale verskeidenheidsprogram in 2016, maar is seker die beste bekend vir die gewilde Carpool Karaoke insetsels. Britse akteur, sanger en komediant James Corden is die briljante aanbieder, en hy bring bekendes en musikale gaste byeen vir ’n baie vermaaklike laatnag-partytjie. The Late Late Show kom vars van die VSA na Showmax met episodes wat binne 24 uur nadat dit in die VSA uitgesaai is beskikbaar is. Dis tans die enigste plek in Afrika waar jy dié program te siene kan kry. Kyk dit nou »

Foto: CBS

 

HBO se Westworld

Waar trek ʼn mens die streep tussen lewe en kunsmatige intelligensie? Berei jou maar voor om verstom te word deur hierdie ongelooflike en spanningsvolle program oor die mens se stryd teen die masjiene wat ons self gebou het. Dié wetenskapfiksiereeks het toekennings gewen vir Spesiale visuele effekte, Haarstillering, Grimering, Klankmeng, en Interaktiewe media – en het sodoende ’n voorsprong gehad met vyf Emmys in die sakkie voordat die Primetime Emmys nog afgeskop het. Dit is in totaal vir 22 Emmys benoem, onder andere Beste Dramareeks, vir Evan Rachel Wood as Beste aktrise in ’n dramareeks en Thandie Newton as Beste vroulike byspeler.  Kyk dit nou »

Foto: HBO

 

HBO se The Night Of

Riz Ahmed en sy mede-ster John Turturro is albei benoem as Beste akteur in ’n beperkte reeks, maar dis Ahmed wat uiteindelik die trofee opgeraap het. Hierdie vroeë Emmy-gunsteling het ook vier Creative Arts Emmys verower uit die 13 waarvoor dit benoem is (vir Enkelkamera-beeldredigering, Kinematografie, Klankmeng en Klankredigering in ’n Beperkte reeks). Dié aangrypende riller gaan oor ’n student genaamd Naz (Ahmed) wat saam met ’n vreemdeling huis toe gaan, maar wanneer hy die volgende oggend wakker word, tref hy haar vermoor in haar bed aan. Turturro speel sy regsverteenwoordiger wat, ten spyte van al die besonderhede wat onthul word oor wie Naz werklik is, vas glo in sy kliënt se onskuld. Kyk dit nou »

 

Silicon Valley

Benoem vir die Emmys vir Uitstaande regie in ’n komediereeks en Skryfwerk vir ’n komediereeks, onder andere, is die 22-maal Emmy-benoemde reeks ’n kykersgunsteling. Dis ’n komediereeks oor die super-bleeksiele wat reg staan om Silicon Valley op horings te neem met hulle droom van ’n suksesvolle tech-onderneming. Seisoen 1 tot 3 is nou op Showmax. Kyk dit nou »

https://youtu.be/DHGINhaEhCo

 

Mr Robot

Rami Malek is verlede jaar met die Emmy vir Uitstaande akteur in ’n dramareeks bekroon vir sy rol as die idealistiese kuberkraker Elliot, en hy is weer uitstekend in seisoen 3, wat heel eerste op Showmax te sien sal wees op 12 Oktober. Seisoen 1 en 2 is reeds op Showmax vir jou kykplesier (of angs!). In Seisoen 3 is dinge reg om te ontplof, want Stage 2 kom nader en Elliot se veelvoudige persoonlikhede raak sterker. Jy kan niemand vertrou in hierdie briljante kat-en-muis-spel nie. Die reeks is vanjaar vir vier Emmys benoem, onder meer Uitstaande gas-akteur in ’n dramareeks vir BD Wong, wat White Rose, hoof van die opponerende groep kuberkrakers, Dark Army, speel.  Kyk dit nou »

 

HBO se Girls

Riz Ahmed (jip, die hoofspeler in The Night Of) en Matthew Rhys is albei benoem vir hulle ongelooflike vertolkings as Gas-akteurs in ’n komediereeks, terwyl Becky Ann Baker benoem is vir die Beste gas-aktrise-Emmy, vir hulle rolle in enkele episodes van Girls. Vang Seisoen 1-5 van die byna-té-werklike komediereeks oor vier minder as perfekte vroue wat ’n lewe probeer maak in New York op Showmax.  Kyk dit nou »

Foto: HBO

 

Ray Donovan

Liev Schreiber was een van die hoopvolles in die kategorie Uitstaande akteur in ’n dramareeks, en dis duidelik waarom. Hy kook met onderdrukte woede terwyl hy uiterlik koel, kalm en beheersd bly. Hy speel ’n Hollywood-fixer wat genoeg van sy eie probleme het om hom besig te hou. Hank Azaria het verlede jaar die Emmy gewen vir sy gas-verskyning en is weer vanjaar benoem, maar het dit ongelukkig nie weer opgeraap nie, ten spyte van ’n besliste toekenning-waardige vertoning. Seisoen 1-4 is op Showmax.  Kyk dit nou »

 

Shameless

William H Macy, wat Frank (die dronk, disfunksionele en grootliks afwesige pa van ses kinders) speel is hierdie jaar en verlede jaar benoem as Uitstaande akteur in ‘n komediereeks, maar het elke jaar verloor. Ons dink egter sy vertolking van Frank is foutlose komedie-goud. Shameless het darem die Emmy vir Uitstaande stunt-koördinasie vir ’n komediereeks gewen (wie kon nou dink dat so iets bestaan?), so ten minste word die briljantheid van dié reeks op hierdie manier deur die beoordelaars raakgesien. Seisoen 1 – 6 van hierdie wilde, mal komedie is nou op Showmax beskikbaar. Kyk dit nou »

Foto: Warner

 

The Young Pope

In dié minireeks wat heel eerste na Showmax kom, kry jy ’n agter-die-skerms blik op die Vatikaan. Die minireeks het ’n Emmy-benoeming vir Uitstaande produksie-ontwerp losgeslaan, so jy kan vir seker weet die stelle is asembenewend. Daar was ook ‘n knikkie vir Kinematografie, en wanneer jy dit kyk sal jy verstaan waarom. Die storie gaan oor Lenny Belardo (Law), die jongste Pous wat ooit verkies is, en ook die eerste Amerikaanse een.  Die kerk het gedink hy kan beheer word. Hulle het verkeerd gedink.  Kyk dit nou »

 

South Park

Hierdie volwasse komediereeks is vanjaar vir die 16de keer benoem as Uitstaande animasieprogram. Seisoene 19, 20 en 21 is tans op Showmax, en Seisoen 21 kom vars uit die VSA in weeklikse episodes na Showmax! Daar gaan blykbaar nie weer soveel politieke kommentaar in die nuwe seisoen wees as in Seisoen 19 en 20 nie, en hulle belowe baie meer oomblikke waarin laerskoolkinders net besig is om kinders te wees. Maar dis tog steeds South Park waarvan ons hier praat – dit gaan dus sekerlik net so oneerbiedig en relevant soos altyd wees. Kyk dit nou »

Foto: Viacom

 

Het jy nog nie Showmax nie? Probeer sommer nou ’n gratis proeflopie »

Showmax is nou gratis beskikbaar as deel van jou DStv Premium-pakket! Klik hier om meer uit te vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.