Emmys: ‘Schitt’s Creek’ maak skoonskip, breek rekord

Catherine O’Hara, Eugene Levy, Annie Murphy en Dan Levy in ‘Schitt’s Creek’. (Foto: IMDb)

Die 72ste jaarlikse Emmy-toekennings is Sondag regstreeks vanuit die Staples Centre in Los Angeles deur die televisienetwerk ABC uitgesaai.

Weens die Covid-19-pandemie was daar geen gehoor teenwoordig of enige geleentheid op die rooi tapyt vooraf nie. Die geselsprogramaanbieder Jimmy Kimmel was die gasheer van die toekenningsgeleentheid. Die benoemdes het ingeskakel en toekennings ontvang via Zoom.

Die gewilde Netflix-komediereeks Schitt’s Creek het vanjaar skoonskip gemaak deur nege toekennings in te oes. Dié Kanadese reeks het ook die Emmys-rekord gebreek vir ʼn komediereeks wat die meeste toekennings gewen het vir ’n enkele seisoen.

Die sesde en finale seisoen van Schitt’s Creek is onlangs uitgesaai. Eugene Levy en sy seun, Daniel Levy, is onderskeidelik as beste akteur en beste akteur in ʼn ondersteunde rol in ʼn komediereeks vereer terwyl die veteraan-aktrise Catherine O’Hara en Annie Murphy ook onderskeidelik as beste aktrise en beste aktrise in ʼn ondersteunende rol in ʼn komediereeks aangewys is.

Zendaya op verlede jaar se Emmy-toekenningsgeleentheid. (Foto: Richard Shotwell/Invision/AP)

Die reeks volg die skatryk Rose-gesin wat genoop word om in ʼn motel op ʼn klein dorpie te gaan woon nadat hulle hul fortuin kwyt is.

“Die reeks is in sy wese oor die transformatiewe effek van liefde en aanvaarding, en dit is iets wat ons nou meer as ooit tevore nodig het,” het Daniel Levy in sy toespraak gesê.

Die dramareeks Succession is as beste dramareeks aangewys en Jeremy Strong is as beste akteur aangewys vir sy rol in die reeks. Die HBO-reeks het ook die toekennings vir beste skryfwerk en beste regie ingeoes.

Die aktrise Zendaya (24) het die jongste wenner ooit van die toekenning vir beste aktrise in ʼn dramareeks geword vir haar rol in die tienerdrama Euphoria. Sy het aktrises soos Jennifer Aniston en Olivia Colman in dié kategorie uitgestof.

Regina King is aangewys as beste aktrise in ʼn beperkte reeks vir haar rol in Watchmen, wat vanjaar die meeste benoemings ontvang het. King se medester Yahya Abdul-Mateen II is as beste akteur in ʼn ondersteunende rol in ʼn beperkte reeks aangewys.

Klik hier vir ʼn volledige lys van die wenners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.