En die aanbieder van ‘Wie word ʼn miljoenêr’ is …

Rian van Heerden. (Foto: Verskaf)

Die miljoenrandvraag oor wie die aanbieder van die Afrikaanse weergawe van die gewilde Britse vasvraprogram, Who wants to be a millionaire, gaan wees, kan nou beantwoord word.

Wie word ’n miljoenêr word van 27 Oktober op kykNET uitgesaai. Rian van Heerden gaan hom nou in die geselskap bevind van Chris Tarrant en Jeremy Clarkson, aanbieders van die Britse weergawes, en Jeremy Maggs wat in die aanbiederstoel van die destydse Suid-Afrikaanse weergawe was.

Dié gewilde radio-en-televisiepersoonlikheid sê die spanning wat deurgaans in episodes aangebied word, is deel van die program se wenresep.

“Kykers sit vasgenael voor die TV om saam te speel, om sodoende te probeer bewys dat hy of sy daai miljoen rand ook sal kan wen.”

Volgens Rian, wat al voorheen Op die spel op kykNET aangebied het waar deelnemers se spel- en taalvaardighede getoets is, bied hierdie gewilde vasvraprogram ook unieke uitdagings aan die aanbieder.

“In Wie word ’n miljoenêr is dit net jy en een deelnemer vir ’n groot gedeelte van die episode, en terselfdertyd moet jy ’n vriend én vraesteller wees.”

Die eerste 13-episode-seisoen skop af op Woensdag 27 Oktober met die opvolgseisoen wat direk daarna begin, wat beteken Wie word ’n miljoenêr gaan vir ses maande naelbyt-oomblikke verskaf. En soos die oorspronklike Who wants to be a millionaire-formaat gaan deelnemers 15 meervoudigekeusevrae beantwoord om deur te dring na die finale ronde, waar ’n miljoen rand gewen kan word. Langs die pad is daar hulplyne, die opsie om die gehoor te vra, bel ’n pel en 50/50.

Volgens Cecil Barry, uitvoerende vervaardiger van die reeks, sal Wie word ’n miljoenêr getrou aan die Britse weergawe bly, maar die trivia-vrae sal die program se Suid-Afrikaanse identiteit weerspieël.

Daar is 156 kandidate gekies wat vir 26 weke sal meeding en ’n groep van ses sal in elke episode deelneem.

“Ons het duisende inskrywings binne twee weke gekry.

“Die inskrywings wat deurgedring het na die volgende ronde moes ’n individuele onderhoud en ’n tweede algemenekennistoets aflê met ’n lid van ons inhoudspan,” sê Cecil.

Hy het bygevoeg dat daar streng sekerheidsmaatreëls van toepassing is om die integriteit van die reeks te beskerm.

“Niemand mag weet wie die vraagopstellers is nie en die ‘spel-en-vrae’-rekenaar word in ’n hoësekerheidsvertrek geberg, waartoe slegs die operateur, ouditeur en vervaardiger toegang het.”

Wie word ’n miljoenêr gaan ’n kleiner gehoor van 40 mense hê, wat aan streng Covid-19-regulasies moet voldoen. Dit word opgeneem by Atlantic Studios in Kaapstad, wat ook onder meer die tuiste van ander kykNET-reekse soos Suidooster, Arendsvlei en Tussen Ons is.

Lesers wat in Kaapstad is, en in die gehoor wil wees, kan ’n e-pos stuur na [email protected].

(Grafika: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marisa ·

Ag hoe lekker kry ek nou ek is mal oor Rian – julle moet sy boek lees 16 dinge wat ek nooit moes nie!!

MakersMark ·

Gelukkig kan dieselfde vuilpraatjies nie hier kwytgeraak word soos op die radio nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.