
Edwin Theron (Foto: Verskaf)
Edwin Theron is Woensdagaand as die wenner van kykNET se gewilde Kokkedoortjie-werklikheidsreeks gekroon.
Dié jong kok (13) van Worcester het in die finale episode van Kokkedoortjie teen Christi Myburgh (14) van Bloemfontein meegeding.
Edwin en Christi moes ’n driegang-spyskaart vir die beoordelaars, Mari-Louis Guy en Nic van Wyk, voorberei. Wat die kroon vir Edwin gespan het, was sy weergawes van ’n Avokado Ritz as voorgereg en hoender cordon bleu as hoofgereg. Sy spyskaart is afgerond met sjokoladepoeding met kersies. Dié drie treffergeregte het hom die Kokkedoortjie-wennerstitel besorg.
“Ek kan steeds nie glo ek het gewen nie, want Christi is ongelooflik goed in die kombuis, boonop met baie koskennis,” sê Edwin.

Edwin saam met sy ma (Foto: Verskaf)
“Kokkedoortjie het my lewe verander en ek is nou trots om vir die wêreld te wys dat ek daarvan hou om te kook!”
Edwin se hoofprys is ’n Mediterreense bootreis, geborg deur Pentravel, en hy vertrek Saterdag (1 Julie) saam met sy ma, Marietjie, en suster, Martli, met dié vakansie.
Christi stap ook met ’n prys van Pentravel weg en hy en sy gesin vertrek binnekort met ’n vakansie na Mauritius.
Ander goeie nuus
kykNET het ook Woensdagaand ʼn opvolgreeks vir Kokkedoortjie aangekondig, maar dié keer met ’n baktema.

Edwin en Christi saam met hul ma’s (Foto: Verskaf)
kykNET soek nou deelnemers, tussen nege en 13 jaar oud, vir Koekedoortjie, terwyl Mari-Louis Guy en Nic van Wyk weer die septer, of eerder die klitser, sal swaai in die Koekedoortjie-kombuis.
Voornemende deelnemers kan ’n e-pos stuur na [email protected], 021-422-3452 bel vir meer inligting of die kykNET-webwerf besoek. Inskrywings sluit 25 Augustus 2017.
Aanhangers van Kokkedoortjie kan ook uitsien na ’n kookboek oor die reeks, wat deur Errieda du Toit saamgestel is. Dit sal van 19 Julie te koop wees en bevat talle resepte uit die reeks en die beoordelaars deel ook resepte waarvan hul eie kinders baie hou.

Mari-Louis Guy, Edwin en sy ma (Foto: Verskaf)

Die Kokkedoortjie-span (Foto: Verskaf)
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
18 Kommentare
Ons het die reeks baie geniet! Veral my kinders ook! Dit was vir hulle ‘n groot inspirasie om te sien hoe kinders van hul eie ouderdom alreeds hul drome kan uitleef. Stunning decor!
Baie geluk Edwin, jy was van die begin af my gunsteling.
So vrolik in die kombuis en niks kan jou onder kry nie.
Ek het sommer samet die mammas gehuil van blydskap.Dai Edwin het geweet wat hy doen.3Gang maaltyd yoh.Baie geluk vir hom,en Christi was netso oulik.
Puik program – Edwin jy was maar my gunsteling van die begin af! Wonderlike mammas en ondersteuning! Baie baie geluk, en bly altyd so positiewe mensie!
Verbeel ek my, of was dit nie Christi wat die hoender cordon bleu as sy hoofgereg gemaak het nie? Edwin het sulke “balle” gemaak met steak.