En die nuwe ‘Boer soek ʼn vrou’-aanbieder is…

Marciel Hopkins is die nuwe aanbieder van ‘Boer soek ‘n vrou’. (Foto: Sulet Fourie)

Ná vele bespiegelinge en opwinding in die sosiale media het die gewilde kykNET-werklikheidsreeks Boer soek ʼn vrou Donderdagoggend uiteindelik die splinternuwe aanbieder vir die 13de seisoen aangekondig.

Marciel Hopkins, internasionale model, lewensafrigter en motiveringspreker, sal eersdaags op die kassie te sien wees waar sy boere regoor Suid-Afrika gaan help om liefde te vind.

Hopkins is die sesde aanbieder van dié program. Sy volg in die voetspore van Elma Postma, Angelique Gerber, Nadia Beukes, Minki van der Westhuizen en Leah, wat almal geliefde aanbieders onder Boer soek ʼn vrou-kykers was.

Sy is in 2016 as een van die top-12 finaliste in die Mej. Suid-Afrika-kompetisie aangewys. Sy het drama aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en sy spog ook met ʼn honneursgraad in sielkunde, ook van Maties. Sy het sedert haar studies as ʼn lewensafrigter gekwalifiseer en gee gereeld motiveringspraatjies, terwyl sy as professionele model die wêreld rondrits.

Hopkins sê dit was verskriklik moeilik om die geheim dat sy gekies is as aanbieder vir die program stil te hou terwyl aanhangers op sosiale media gegons het.

“Ek is ʼn vryskutwerker, so in my persoonlike lewe vra mense nogal gereeld wat doen ek volgende, en dan kon ek nie daaroor praat nie, so dit was ʼn groot uitdaging,” sê sy.

Hoewel sy gereeld na die buiteland reis as internasionale model en bestemmings soos Londen soos die palm van haar hand ken, sien sy uit daarna om saam met die Boer soek ʼn vrou-span en die boere die reis deur die land te onderneem.

“Ek is gebore en getoë Boland-meisie,” sê dié 26-jarige donkerkop, wat haar kinderjare tussen die wingerde spandeer het aangesien haar pa, Charles, ʼn keldermeester is wat deesdae op die bekende Kaapse wynlandgoed, De Grendel, werk.

“Ek ken egter nie die platteland van Suid-Afrika so goed nie, so dit is vir my lekker dat ek ʼn toeris in my eie land kan wees en dele te sien wat ek nooit andersins sou sien nie.”

Dit is vir Hopkins ʼn droom wat bewaarheid word om aanbiedingswerk in Afrikaans te doen, al voel sy ook die druk wat daarmee gepaard gaan om die nuwe gesig van Boer soek ʼn vrou te wees.

“Dit is ʼn baie groot geleentheid en die kykers wil lief raak vir die aanbieder en haar vertrou met die proses, so ek dink daar is natuurlik gesonde druk. Ek het nog nooit deelgeneem aan ʼn skoonheidskompetisie nie en toe neem en deel aan Mej. SA, so ek floreer met ʼn uitdaging en ek glo alles gaan oukei wees,” sê sy.

Sy sê sy sien uit na die publiek se reaksie wanneer hulle uitvind dat sy die nuwe aanbieder is. “Natuurlik is dit soos met alles in die lewe – jy kan nie almal tevrede stel nie en mens moet baie realisties daaroor wees. Mense is ook baie lojaal teenoor iemand as hulle vir hul lief raak en het hulle gunstelinge en ek besef mense gaan my nou eers moet leer ken voor hulle my sal vertrou.”

As gekwalifiseerde lewensafrigter is Hopkins gerat om enige emosionele situasie wat hom tydens die program mag uitspeel, te hanteer.

Marciel Hopkins. (Foto: Sulet Fourie)

“Ek sit gereeld met mense voor my wat emosioneel raak en dit is glad nie iets wat my bang maak of waarvoor ek wegskram nie. Inteendeel dink ek ʼn mens kan leer deur weerloosheid. Ek dink Boer soek ʼn vrou bied die ruimte vir mense om hul emosies uit te pak, so dit is ʼn voorreg om dan daar die fassiliteerder te wees.”

Sy sien uit daarna om die boere te help om die beste keuses vir hulself te maak. “Ons werk met mense wat hulle harte op die spel plaas en ons moet sensitief daarmee kan omgaan. Die program is nie ʼn grap nie en mense is regtig ernstig daaroor om iemand te ontmoet.

“Dit is ʼn oorweldigende proses, want dit is nie vir die boere binne hulle gemaksone om voor kameras te wees en tien vroue gelyk te leer ken nie. Daarom is dit belangrik dat ek as die aanbieder die rustigheid moet bied en nie in te speel op hoe deurmekaar hulle reeds voel nie.”

Hopkins glo die hart van die program, wat sedert 2007 op die kassie is en 17 huwelike opgelewer het, is opreg en daarom kom kykers en deelnemers elke keer terug vir meer.

“Daar is oorsee maatsoek-programme soos The Bachelor en Love Island en ek glo met die oorsprong van dié programme was dit ook opreg, maar ongelukkig het dit ontaard in ʼn publisiteitsfoefie vir meeste van die deelnemers. Met Boer soek ʼn vrou is dit nie só nie – die boere skryf in met die opregte intensie om iemand te ontmoet en ek dink dit hou die kykers ook lojaal omdat hulle altyd kan vereenselwig met die proses.”

Boer soek ‘n vrou se inskrywings open op 24 Februarie. Die reeks sal in Oktober op kykNET, DStv-kanaal 144, uitsaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hannelie ·

Sy is pragtig, nog nooit van haar gehoor nie maar ons moet haar ‘n kans gee.

katerinadiekat ·

Hoe enigiemand nog die kans wil vat in hierdie land om op n plaas te gaan bly, weet ek nie. Kyk dit Is die lekkerste lewe op aarde maar in hierdie land net Te gevaarlik. Elders sou dit n droomlewe kon wees. Maar as ek n jong dame was, sou ek nie die kans vat nie.

Bre ·

Ek glo sy sal die knoop kan deurhaak. Sy lyk na n meisie met beginsels en sal die vreemdelinge op hulle gemak laat voel.

MakersMark ·

Oulike aanbiedster, jammer net sy bemoei haarself met so snert program.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.