En die wenners van ‘Kwarantyn’ is…

Die Le Roux-familie het die eerste seisoen van ‘Kwarantyn’ gewen.

Die Le Roux-familie is Woensdagaand tydens die finale episode van kykNET se realiteitsprogram, Kwarantyn, as die wenners van die eerste seisoen aangewys.

Braam, Manie, Lisa, Adriaan en Heinrich was oorstelp toe Die Opsigter, Ferdinand Rabie, aangekondig het dat hulle wegstap met ʼn kontantprys van R250 000.

Kykers het weekliks die geleentheid gehad om vir hul gunstelingfamilie te stem. Al die stemme oor die afgelope paar weke is bymekaar getel en só is dit bepaal dat die Le Roux-familie die meeste stemme gekry het.

Die afgelope twee maande het die Le Roux- en Scheepers-families kykers 24 uur per dag, sewe dae van die week op die opwipkanaal vir Kwarantyn, DStv-kanaal 149, vermaak. Van kosuitdagings, kunsprojekte en vroegoggend oefensessies tot karaoke, saamkuier en besoeke deur bekende persoonlikhede was deel van dié avontuur.

“Vir ons was daar verskeie hoogtepunte – Lisa se verjaarsdag wat ons met ballonne en koek gevier het, Francois van Coke wat gebel het, die aande se saamkuier en die speletjies. Ons gaan Kwarantyn baie mis,” sê die Le Roux-familie.

Vir die Scheepers-familie was dit ʼn groot hoogtepunt om bekende persoonlikhede soos Cindy Swanepoel en Stephanie Baartman te ontmoet.

Die honde van Kwarantyn het ook diep in kykers se harte ingekruip. Vlooi, van die Le Roux-familie, het al die manewales van die rusbank aanskou en Max het vir ʼn ruk lank by die Scheepers-familie kom kuier. “Max het die Kwarantyn­-huis soos ʼn tuiste laat voel – dit was so lekker om hom by ons te hê,” sê Caryn.

Die Scheepers-familie.

Albei families stem saam dat Kwarantyn al hulle verwagtinge oortref het en dit was ʼn groter uitdaging as wat hulle ooit sou kon dink.

“Ons het nie besef dit gaan so emosioneel wees nie,” vertel Jade.

“Ek het ook nie gedink dit sal so stresvol wees nie – dit was meer werk as vakansie,” meen Manie.

“Daar was meer kameras as wat ek verwag het!” voeg Lisa by.

Alhoewel die Scheepers-familie nie gewen het nie, stap hulle nie met leë hande weg nie. Caryn wen die prys as die mees eerlike en opregte deelnemer en ontvang R10 000 kontant. Dié prys word toegeken deur die Kwarantyn-span wat die twee families die afgelope twee maande deurgaans dopgehou het. Die Le Roux-familie en Scheepers-familie het deur die loop van die reeks onderskeidelik R41 000 en R40 000 se geskenkbewyse ontvang.

Dan wag daar ook ʼn verrassing op die Scheepers-familie – die kunswerke wat die afgelope week deur die twee families gemaak is, is opgeveil en R156 000 is op só manier ingesamel. Die geld word aan die Scheepers-familie geskenk.

Die sanger en aanbieder Emo Adams het ook aangebied om Austin te help om sy eerste aanlyn optrede te vervaardig en sal hom ook verder met ʼn moontlike sangloopbaan ondersteun. Kyk hier toe Emo vir Austin gebel het.

Albei die families het baie geleer in hul tyd op Kwarantyn. Die Le Roux-familie het meer oor mekaar geleer en hoe om as ʼn span saam te werk. “Ek het geleer om myself nie te onderskat nie,” meen Avril. “Van die uitdagings het onmoontlik gelyk, maar as ek dit eers aangepak het, het ek besef ek kan dit doen!”

‘Kwarantyn’ saai vanaf Woensdag 10 Junie uit.

Caryn sê sy het ʼn passie vir bak ontdek. Pamela is trots daarop dat sy haar eerste pastei gebak en geleer het hoe om eend en afval te bak.

Die twee families wil graag dankie sê aan die kykers. “Dankie vir al jul ondersteuning en stemme – ons love julle!” is die Le Roux-familie se boodskap.

En die Scheepers-familie voeg by: “Ons is dankbaar vir jul ondersteuning en dat julle ons gemotiveer en ondersteun het.”

Kwarantyn het ons geneem deur ʼn spektrum van ervarings: van skadukante tot uitgelate vreugdes soos dit net in Afrikaans moontlik is,” sê Karen Meiring, M-Net Direkteur: Afrikaans kanale. “Die program was meer as ʼn sosiale eksperiment.  Dit het vermaak, ʼn spieël opgehou en kulture nader aan mekaar gebring.  Dankie aan die Scheepers- en Le Roux-families dat ons deel kon wees van julle lief en leed.  Geniet julle welverdiende buitelewe.”

*Besoek kykNET.tv vir al die hoogtepunte van Kwarantyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Martie ·

Persoonlik dink ek dat die Le Roux familie dit GLAD NIE verdien nie! hoe kan jy vir n gesin wat Jana uit die huis uit "geskop" is oorn rassistiese opmerking asook Heinrich wat rassisties opgetree het teenoor Austin die Prysgeld gee. Julle bevorder mos dan Rassisme. Die Scheepers familie was van die begin af opreg en nie “FAKE” soos die Le Roux gesin nie. Die Scheepers gesin het ons dag na dag laat skaterlag waar die Le Roux gesin gevrek was!!! You go Scheepers gesin julle het meer gewen as daai geld. Geld word uit gegee maar `n blink toekoms in die musiek en dans bedryf le vir julle voor meer as wat geld kan koop. Sterkte vorentoe Scheepers ek gaan julle mis :@(

Rerig ·

So Martie jy wou eerder die geld gee vir die span wat net nie uitgeskop is oor hulle rassisme nie maar eerder toegesmeer is, wat op ander mense se banke, stoele en beddens spring, wat skinder heeldag en aldag, wat skynheilig was en leuns vertel het en sommige lede geen morele waardes gehad het nie!! hoe sou dit regverdig wees?

Martie ·

Karen…. en die Le Roux gesin het dit nie gedoen nie ne. So bly jy dink so. Die rassisme het dit nie vir my gedoen nie want Heinrich kon nie eers onder gebed Austin se hand vas gehou het soos dit ‘n christen betaam nie.
As jy so voorbeeld vir jou kinders stel good luck. Ek respekteer alle rasse want geloof sien nie kleur nie maar die Le Roux gesin het nou gewen maar ek sal nooit saamstem nie.

Jacobus ·

Wat duidelik in dié sg “sosiale eksperiment” is dat die dubbele standaarde in rassigheid weer tevoorskyn gekom het en straf weer so uitgedeel is. (Die k woord en die m woord) Watter van die twee spanne eintlik gewen het is nie baie ter sake nie. Maroela wees versigtig vir “fake” kommentaar en Marie – dis Christen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.