eNuus vier ’n dekade

Daniella-van-Heerden-kykNET.jpg

Daniëlla van Heerden is ’n nuusleser by eNuus. (foto: kykNET)

eNuus, kykNET se daaglikse nuusbulletin, vier Saterdag tien jaar van onafhanklike nuusdekking in Afrikaans op dié DStv-kanaal.

“’n Baanbrekerspan het op 18 Julie 2010 geskiedenis gemaak toe kykNET die eerste onafhanklike Afrikaanse TV-nuusbulletin op lug geplaas het.

“Ons vier hierdie besonderse verjaardag in buitengewone omstandighede en saam met almal wat oor die jare tot die sukses van ons bulletins bygedra het. Dit sluit ook ons kykers in, want sonder hulle volgehoue ondersteuning sou eNuus nooit sy tiende verjaardag gehaal het nie,” sê Paul Dunn, eNuus-redakteur.

ʼn Paar van die eNuus-spanlede deel hul gunsteling-oomblikke in hulle tyd by die Afrikaanse nuusbulletin:

“Daar is nie ʼn spesifieke oomblik wat uitstaan vir my nie, maar meer oor hoe ek oor die afgelope paar jaar saam met eNuus gegroei het. Van ʼn verslaggewer vir bykans vyf jaar in die Wes-Kaap waar ek nuus en sport gedek het, tot in 2018 toe ek ʼn sport-ankeraanbieder geword het,” meen Percivale Young.

“Maar as ek een hoogtepunt moet uitsonder, was dit in 2015 toe ek die uitkloprondtes van die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Engeland vir eNuus gaan dek het. Ek is baie dankbaar om vir ʼn groot deel van dié dekade met ʼn dinamiese span te kon werk.”

Daniëlla van Heerden is reeds tien jaar deel van die span en beskou dit as ʼn ongelooflike voorreg.

“Ek het ʼn paar maande ná die eerste bulletin by die span aangesluit – eers as veldverslaggewer en later as nuusleser. As veldverslaggewer staan veral die wonderlike plekke wat ʼn mens sien en die mense wat jy leer ken uit.

“ʼn Gebeurtenis wat veral vir my uitstaan is toe Madiba in 2013 dood is en sy roudiens in Soccer City gehou is. Bekende wêreldleiers was daar en die stadion is volgepak deur Suid-Afrikaners – ek was daar om daaroor verslag te lewer. Dit is ʼn voorreg om na ʼn dekade steeds deel van die span te wees.”

Barron Hufkie het in Februarie vanjaar by die eNuus-span aangesluit.

“As die jongste lid is dit vir my ʼn groot voorreg om deel van so ’n gedugte span te kan wees. Die eNuus-span het in hierdie interessante en uitdagende tyd waarin ons leef, bewys dat dit ʼn betroubare en akkurate nuusbron is. Ek is besonder trots op die span en ál die harde werk wat agter die skerms ingesit word. Mag die volgende tien jaar net so suksesvol wees.”

Volgens Gerhard Pretorius, wat sedert 2013 deel van die eNuus-span is, was daar ontelbare hoogtepunte. “Wat vir my uitstaan is die spanwerk en hoe almal altyd bereid is om te help net waar hulle kan. Daar is regtig ongelooflike mans en vroue wat hier werk. En persoonlik, om die Oscar Pistorius-moordverhoor van begin tot einde te kon dek, slegs ’n maand en ’n half nadat ek by eNuus begin het. Dit het vir my die vertroue gewys wat die bestuur gehad het in my vermoë as verslaggewer.”

  • eNuus word elke aand om 19:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae