Episode 10 van ‘Nêrens, Noord-Kaap’: ’n Gat in sy almanak

Deur Ilza Roggeband

10 Januarie

Ou Lourens. (Foto: Verskaf)

Vir elkeen van die Adendorff-mans, van ou Lourens (Frank Opperman) tot die seuns, is 10 Januarie ’n dag wat ingeprent is in hul geheue – die dag van Katja (Tinarie van Wyk Loots) se dood. Elkeen hanteer dit anders. Lourens sit blomme op die ruit van die wrak van die bakkie, Frans (Geon Nel) verdrink sy sorge, Ronnie (Albert Pretorius) dra duidelik ’n skuldlas en Andries (De Klerk Oelofse) stuur soos van ouds vir sy ma ’n boodskap wat hy verbrand en vir die wind blaas.

Ronnie en die reën

Suzette troos vir Ronnie. (Foto: Verskaf)

In episode 9 het Ronnie ’n angsaanval gekry toe daar ’n reënbui uitsak tydens sy en Tappies (Ludwig Binge) se voorlegging by die ouetehuis. In episode 10 sien ʼn mens hoe hy as jong seun (jong Ronnie word gespeel deur Lehan Swanepoel) ’n amperse voorgevoel gehad het toe die stormwolke begin saampak het. Ronnie maak later oop teenoor Suzette (Daneel van der Walt) en hoewel hy nie presies vertel wat gebeur het nie, probeer sy hom troos deur te sê sy ma se dood is nie sy skuld is nie.

Oupa en kleinseun

Ou Lourens en klein Lourens. (Foto: Verskaf)

Ou Lourens maak vir klein Lourens (Arnold Swart) wakker en neem hom na sy ouma se graf toe. “Ek sukkel ʼn bietjie om met jou te praat, want jy laat my so baie aan haar dink,” erken ou Lourens teenoor sy kleinseun. Hy gee vir hom die kamerasak wat hy vir Katja gemaak het en klein Lourens gebruik dit om die kleimannetjies wat hy maak in te dra. Later gaan sit hy drie – een elk vir Frans, Ronnie en Andries – op sy ouma se graf. Tydens ’n gesprek met sy ma, Shannon (Natalie Robbie), en later met sy pa, sê hy dat hy nog op die plaas wil bly.

Katja wou altyd help

Katja wou net die werkers help. (Foto: Verskaf)

Ons het meer oor Katja te wete gekom. “Jou ouma het omgegee oor alles en almal,” sê ou Lourens vir klein Lourens. Die aand van die groot storm het sy gery om komberse, kos en flitse vir die werkers op die plaas te neem, maar daar was ’n ongeluk. Waarvoor het sy geskrik wat haar beheer oor die bakkie laat verloor het?

Lorrie en Frans

Lorrie en Frans. (Foto: Verskaf)

Frans (Geon Nel) het vir Lorrie (Shana Mans) gesê hy sal saam met haar gaan wanneer sy haar ma, Breggie (Joanie Combrink), by die tehuis in Vredendal gaan aflaai. Maar hy is nog besope van die vorige aand se gedrink en lê amper die hele tyd agter in haar bakkie en slaap.

“Vandag gaan altyd ’n gat in sy almanak wees, want dis soos hy dit wil hê,” sê Maggie (Ilse Klink) later vir Lorrie.

  • Nêrens, Noord-Kaap is elke Dinsdag om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144 te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chantel ·

Briljant geskryf, ek hoop werklik die storie eindig op ‘n goeie noot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.