Episode 5 van ‘Nêrens, Noord-Kaap’: Boelies word geboelie

Deur Ilza Roggeband

Boelies word geboelie

Danie word voor skool deur sy pa geboelie. (Foto: Verskaf)

Danie (Christoff Snyman) is ’n doring in jong Lourens (Arnold Swart) se vlees. Hy is ’n genadelose boelie wat Lourens se lewe by die skool hel maak. Maar wanneer Danie se pa hom by die skool aflaai en jy sien hoe die pa sy eie kind behandel, besef jy Danie is net nog ’n kind wat boelie omdat hy geboelie word. Wanneer Lourens per ongeluk vir Willem (Leo Geldenhuys) by die trappe afstamp, is dit ook as gevolg van Danie se gedrag en nie Lourens s’n nie. Maar sal die waarheid ooit uitkom oor wat gebeur het?

  • Het jy geweet? Christoff is die broer van Eloff Snyman wat onder meer in die fliek Liewe Kersfeesvader te sien was. Hulle pa is die sanger Christo Snyman van Die Broers-faam.

Kerk I

Frans (Geon Nel) in die kerk. (Foto: Verskaf)

Wanneer Frans (Geon Nel) dorp toe ry en met dominee Kassie (Pierre Nelson) gaan praat, dink die dominee aanvanklik dis om oor die droogte te praat. Maar dit is die drome wat Frans al vandat hy ’n kind is so in die nag jaag, wat die rede vir die besoek was. “Daar is altyd die Here,” sê die dominee vir Frans wanneer hy sê daar is nie altyd iemand om mee te praat nie. Dominee Kassie stel dan amper vir hom ’n uitdaging: Kom die volgende dag kerk toe. Later die aand skrik Frans weer wakker van ’n slegte droom en gaan dan op sy knieë en bid onder meer vir sy broers en sy pa – “kyk mooi na my boeties, asseblief, waar ook al hulle is; ag, en kyk maar mooi na my pa ook”. Hy onderhandel dan met die Here: As Hy hom ’n goeie nagrus gee, sal hy die volgende dag kerk toe gaan.

Kerk II

Lourens (Frank Opperman) en Jan-Jan (Dean Balie). (Foto: Verskaf)

’n Halsstarrige Lourens (Frank Opperman) klim op ’n fiets en vat ’n stofpad op die plaas met Jan-Jan (Dean Balie) wat agternaloop om te kyk of hy veilig is. By die ingang van die kerk op die plaas vra Jan-Jan vir Lourens of hy wil ingaan. “Nie vandag nie,” antwoord Lourens. Buite bokant die deur is die woorde wat Katja (Tinarie van Wyk Loots) voorheen vir klein Andries gegee het: “Ik bid dat de Heer je zegen en je voeten laat dansen”.

Kerk III

Ronnie (Albert Pretorius) en klein Lourens. (Foto: Verskaf)

Hy wéét wat sy skuld in sy seun se lewe is. Hy wéét hy drink te veel. Hy wéét sy lewe is ’n gemors. Maar Ronnie (Albert Pretorius) is in ’n spiraal waaruit hy oënskynlik nie kan kom nie. Klein Lourens staan in die middel van sy ouers wat nie ’n goeie woord van mekaar kan sê nie. Al wat hy kan doen, is om sy frustrasie vir die see te gaan skreeu en die kerk wat hy vir ’n skooltaak gebou het, af te brand. Waar sal sy hulp tog vandaan kom?

Een ding staan egter soos ’n paal bo water: Ronnie sal enigiets doen om sy seun te beskerm, maar wat gaan dit van hom verg om sy eie lewe reg te ruk?

Die wind as posman

Andries (De Klerk Oelofse). (Foto: Verskaf)

Katja gee vir klein Andries (Johannes Jordaan) ’n boksie vuurhoutjies voor hy en sy broers op die plaas gaan kampeer. Sy sê vir hom hy moet vir haar ’n brief skryf wanneer hy bang vir die jakkalse in die donker is, dit dan brand en die as in die wind blaas. “Maar net ’n kort briefie, hoor, anders raak die woorde verlore in die wind,” sê sy. Jare later is dit dan ook wat Andries (De Klerk Oelofse) doen wanneer hy vir sy pa ’n brief skryf wat nooit gepos sal word nie. “Lekker slaap, Pappa.”

  • Nêrens, Noord-Kaap word elke Dinsdag om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

RS ·

Ons hou baie van die storie. Dis iets anders. Ook nie n gevry, kaal gatte of gay goed wat in n mens se keel afgedruk word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.